Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“Waterkrisis” het meer as een oorsaak, sê waternavorser
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 23/02/2017

Indien alle Kapenaars saamstaan en water bespaar, kan die water in ons damme nog vir dubbel die huidige geskatte periode voldoende wees.

Só sê Dr. Willem de Clercq, ‘n waternavorser verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Water Instituut (SUWI).

Hy sê die huidige “krisis” word veroorsaak deur die sameloop van verskeie faktore, waaronder ‘n groter bevolking, klimaatsverandering en verwarming: “Suid-Afrika het al baie droogtes beleef en oorleef. En terwyl die huidige droogte nie noodwendig die ergste droogte ooit is nie, moet mense egter besef dat hierdie die eerste droogte is waar ons water aan 54 miljoen mense moet voorsien.”

So byvoorbeeld moet die Stad Kaapstad tans water voorsien aan meer as agt miljoen mense: “Baie van hulle was twee tot drie jaar gelede nog waterverbruikers op die platteland. Die afgelope tien jaar het die Stad Kaapstad reeds sy jaarlikse water begroting meer as verdubbeld,” verduidelik hy.

“Ons is ook binne ‘n tydperk van groot seisoenale klimaatsonstabiliteit wat groot probleme veroorsaak vir die landbou, werkverskaffing en die vermoë van Wes-Kaapse uitvoerboere om inkomste te genereer. Dit veroorsaak voorts dat meer mense uit die platteland na die stede stroom.”

Almal moet derhalwe groter rentmeesterskap ten opsigte van ons waterbronne aan die dag lê om hierdie komplekse sameloop van omstandighede te kan bestuur.

Hy sê die Wes-Kaapse regering en veral die Stad Kaapstad het hulle tot dusver uitstekend van hul taak gekwyt. Maar hulle het die publiek se samewerking nodig.

“Die watervlak in die damme kan normaalweg nie laer as 25% sak nie. Dan begin die slikgelaaide water deur die stelsels beweeg. Dit veroorsaak allerhande probleme met onderhoud van die pypstelsels en die munisipaliteit se vermoë om suiwer water aan die verbruiker te verskaf. Sulke water gaan noodwendig slegter smaak en sal beteken dat drinkwater aangekoop moet word,” waarsku hy.

Dr. De Clercq sê daar is heelwat alternatiewe beskikbaar om watervoorsiening en –opgaring vir die Wes-Kaap te verbeter, maar dit kom teen ’n prys: “Ontsouting vir Kaapstad gaan beteken dat ons nog ’n kragsentrale moet bou.

“Ons kan die geld en tyd baie beter bestee deur te werk aan die herbeplanning en verhoogde doeltreffendheid van ons huidige opgaring- en verspreidingsisteme.”

Die Stad Kaapstad het ook verskeie rugsteun planne. Soos om water deur die Du Toitskloof tonnel na Paarl en vandaar na die Kaapstad sisteem te gelei. Of om grondwaterbronne te ontgin: “Die berge se akwifere stoor geweldig baie water maar die gebruik van die water kan moontlik ‘n impak hê op die plant- en dierelewe. Die munisipaliteit het egter reeds baie gedoen om hierdie bron te karakteriseer sodat dit juis in omstandighede soos hierdie gebruik kan word,” voeg hy by.

Maar die belangrikste oorweging bly steeds Suid-Afrikaners se houding ten opsigte van water en om te besef dat dit almal se verantwoordelikheid is om water te bespaar en te beskerm, sluit hy af.