Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dudu Kasonkola
Ontmoet Dudu Kasonkola: #MyTygerMaties60
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 28/11/2016

As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Dudu Kasonkola.

Toe Dudu Kasonkola van Pretoria Girls High die beste punte in Gauteng behaal het vir wiskunde, is sy ’n beurs aangebied om by enige universiteit te studeer. “Ek het die Universiteit Stelllenbosch gekies.” Sy is tans besig om haar eerste jaar as MB,ChB-student op die Tygerberg-kampus te voltooi.

“Ek dink dit was hoe God wou hê dinge moes uitwerk,” verduidelik sy hoekom sy dié kursus gekies het.

Sy sê onsekerheid in diagnosering is die grootste uitdaging wat dokters mee moet werk. “Elke persoon is so uniek geskep dat ’n generiese sambreel-behandeling nie altyd sin maak nie. Soms klop die simptome net nie.”

Oor 10 jaar sal sy graag wil besig wees om van land tot land in verskillende dele van Afrika te werk. “Ek wil ’n verskil maak in omgewingsake en ook mense bemagtig om gesondheid in hul eie hande te neem in die omstandighede waarin hulle hulself bevind.”

Kasonkola maak ook graag voorspraak vir diegene wat nie vir hulself kan praat nie en praat veral baie oor die kwynende boom getalle.

Sy het oor die jare geleer dat niemand haar heeltemal so goed verstaan soos haar familie nie, en sê hulle dien ook as haar grootste motivering om te presteer. “Ek wil hê die vrugte wat ek dra moet waardig wees van die opofferinge wat hulle gemaak het.”

Het jy geweet…

  • Sy is ’n vegetariër. “Ek het geleer om heerlike toevou-broodjies met interessante groentevulsels te maak.”
  • Haar beste gewoonte is om vreemdelinge te groet.
  • Haar slegste is die hoeveelheid koffie wat sy drink.
  • Die laaste boek wat sy gelees het, was The Famished Road deur Ben Okri.
  • Sy kan nie leer as haar rug na die deur gekeer is nie.