Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskap-, AgriWetenskappe-, Gesondheidswetenskappe-studente seëvier in US se FameLab-uitdun
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 09/05/2024

Tallulah Glasby, 'n meestersgraadstudent in mikro-ekologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die US-uitdun van die 2024 nasionale FameLab-kompetisie gewen.

Die geleentheid is Woensdag (8 Mei) by die US LaunchLab gehou. Eduard Zehrt, 'n meestersgraadstudent in voedselwetenskap, en Carene Ndong Sima, 'n doktorale student in menslike genetika, het onderskeidelik tweede en derde geëindig. Glasby het met R4 000 weggestap, terwyl Zehrt en Ndong Sima albei elkeen R3 000 in die sak gesteek het. Ndong Sima het ook 'n bykomende R1 500 ontvang nadat sy deur die gehoor as hulle gunsteling aangewys is. Die prysgeld is gesamentlik deur die Nagraadse Kantoor aan die US en die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, prof Sibusiso Moyo, geborg.

FameLab, wat ook 'n ontwikkelingsinisiatief is, word as een van die grootste wetenskapkommunikasie- en redenaarskompetisies ter wêreld beskou en skep 'n platform vir jong, ontluikende wetenskaplikes om openbare gehore oor hulle werk toe te spreek.

Glasby, Zehrt en Ndong Sima was onder 17 meesters- en doktorale studente wat slegs drie minute gekry het om hulle navorsing met die gehoor te deel. As die wenner van die uitdunne sal Glasby in September die US by die nasionale halfeindronde verteenwoordig,  waar sy teen die wenners van uitdunne by ander universiteite in Suid-Afrika sal meeding.

 
  • Selfoongebruikers klik hier vir video.

Glasby het die uitdunronde gewen vir haar praatjie oor die gemeenskap van organismes wat op die oppervlak van grond, ook genoem biologiese grondkorse, woon. “Hierdie mikroörganismes produseer noodsaaklike voedingstowwe vir die omgewing en vir lewe, verryk die grond en laat ander organismes toe om hierdie gebiede te bewoon. Hulle dien ook as 'n spons deur vog uit die grond op te neem en dit te behou en deur klein oases vir ander grondorganismes te skep."

Glasby het in reaksie op haar oorwinning gesê dat hoewel haar sege onverwags was, dit 'n ongelooflike ervaring was om haar werk met die publiek te deel. Sy is ook dankbaar vir die wetenskapkommunikasievaardighede wat sy by die werkswinkel vóór die geleentheid opgedoen het.

Zehrt het in sy aanbieding vertel hoe hy hiperspektrale kameras– hulle werk presies soos die kameras in selfone – gebruik om te ontleed wat binne-in kos is en om voedselbedrog te bekamp. Hy het op hoender gefokus en gesê dit stel hom in staat om te bepaal hoe vars en sag die vleis is en hy kan selfs sien of bakterieë op die oppervlak groei. “Met my navorsing kan ek met 80% akkuraatheid tussen plaas- en konvensionele hoender onderskei."

Zehrt het gesê dit was vir hom baie lekker om só oor sy navorsing te kan praat. Hy het ander studente aangemoedig om aan die FameLab-uitdunronde deel te neem.

Ndong Sima het in haar praatjie die behoefte aan 'n pasiëntgesentreerde benadering vir die behandeling van tuberkulose beklemtoon. Sy het gesê dit is belangrik om na ons gene te kyk, want hulle kan ons sê hoe mense op behandeling sal reageer. “As ons oor mense se genetiese profiel beskik, kan ons voorspel watter pasiënt 'n groter risiko van behandelingsmislukking loop nog voordat die behandeling begin. Dit sal die prentjie heeltemal verander."

Ndong Sima het gesê dit was vir haar 'n verrassing om onder die wenners te eindig. Sy het die beoordelaars en instrukteurs geloof vir hulle hulp om haar gemaklik voor 'n gehoor te laat voel en haar navorsing te deel.

Prof Moyo het in haar verwelkomingstoespraak die belangrikheid van wetenskapkommunikasie aangeraak en gesê navorsers moet wys hoe hulle werk tot voordeel van die samelewing strek. “Ons wil hê die volgende geslag wetenskaplikes, meesters- en doktorale studente moet hulle navorsing strategies en impakvol met 'n wyer gehoor kan deel."

Die US FameLab-uitdunronde is deur Jive Media Africa en die Nagraadse Kantoor, wat deel uitmaak van die Afdeling Navorsingsontwikkeling, gereël. Die beoordelaars was Wiida Fourie-Basson (Fakulteit Natuurwetenskappe), Maambele Khosa (Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie), Marina Joubert (Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie) en Fumani Jwara (Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Wetenskapkommunikasie).

'n Afrigter wat deur die Britse Raad uit die Verenigde Koninkryk (VK) na Suid-Afrika gebring word, sal voor die nasionale halfeindronde 'n meesterklas in wetenskapkommunikasie en openbare redevoering aanbied. Die top-tien van die halfeindronde sal aan die nasionale eindronde deelneem en die wenner van FameLab SA sal Suid-Afrika by die internasionale eindronde in die VK verteenwoordig.

  • Foto: Carene Ndong Sima, Tallulah Glasby en Eduard Zehrt by die Famelab-uitdunronde.  Fotograaf: Stefan Els
  • Video van FameLab-uitdun deur Stefan Els