Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale netwerkgeleenthede vir twee US-joernalistiekstudente
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 09/05/2024

​Twee honneursstudente in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch is in die Histories Swart Kolleges en Universiteite – Afrika-korrespondentekorps​, onder leiding van Howard Universiteit se Sentrum vir Afrikastudies, opgeneem.

Aurelia Mouton en klasmaat Nkululeko Ndlovu is twee van die drie Suid-Afrikaners wat by vanjaar se groep van 15 studente ingesluit is. Mouton is ook as die korps se visepresident vir 2024 aangewys. Die ander deelnemende studente is van Amerikaanse instellings – Howard-Universiteit, Pennsylvania-Staatsuniversiteit en Tufts-Universiteit.

Mouton, die voormalige hoofredakteur van die studentekoerant, Die Matie, sê sy het verlede jaar van die program te hore gekom toe die koördineerder, Michael Walsh, haar gevra het of sy sou belangstel om deel te neem. “Ek het die geleentheid aangegryp omdat dit met my loopbaandoelwitte ooreenstem. Aangesien ek spesifiek in buitelandse korrespondensie wil spesialiseer, hoop ek om 'n netwerk kontakte van Afrika-joernaliste en -redakteurs op te bou met wie ek 'n verhouding kan bou om verslag te doen oor Afrika-aangeleenthede van en na Suid-Afrika."

Mouton verduidelik dat die program, wat 'n maandelikse module behels waar studente met gassprekers skakel en aan vaardigheidsbou-oefeninge deelneem, dien as 'n “aanknopingspunt vir jong joernaliste en mense in die bedryf wat hulle kan mentor en hulle kan help om hulle netwerk te bou". Die kursus het ook 'n praktiese komponent, aangesien daar van studente verwag word om oor internasionale aangeleenthede te skryf en te publiseer. Studente ontvang een-tot-een mentorskap om te verseker dat hulle slaag. “Die doel is om 'n portefeulje te hê wat aansluit by ons individuele loopbaandoelwitte en wat teen die einde van die program aan mediahuise gestuur kan word," sê Mouton.

Ndlovu, wat saam met Mouton by die Joernalistiekdepartement se nuusplatform, Stellenbosch Media Forum (SMF), betrokke is, het sy visier daarop ingestel om sy eie mediahuis op die been te bring met die fokus op voetsoolvlakjoernalistiek. “Ek wil joernalistiek beoefen wat vanuit die perspektiewe van Afrikane spreek. Ek wil reis en oor konflik verslag doen." Hy verklap dat hy by Mouton, wat sy “desk buddy" in die klas is, van die program gehoor het.

“Ek het genoop gevoel om deel te neem vir die netwerkgeleenthede. Die program is in buitelandse beleid en buitelandse korrespondensie gewortel, en daarom verbind dit jou met studente van regoor Afrika en Amerika," verduidelik Ndlovu. Mouton stem saam dat die kursus van onskatbare waarde is wanneer dit by die vestiging van netwerke kom en sê: “Ek glo nie ek sal op enige ander plek toegang hê tot die soort kontakte wat ek in hierdie program in hierdie stadium van my loopbaan sal opbou nie."

Prof Herman Wasserman, voorsitter van die US se Departement Joernalistiek, het die volgende te sê oor die twee studente se prestasie: “Hoewel dit reeds vir ons 'n eer is dat twee van ons nagraadse joernalistiekstudente – Aurelia en Nkululeko – gekies is om by die program aan te sluit, spreek Aurelia se verkiesing in hierdie rol (as visepresident) tot die gehalte van jong leerlingjoernaliste in Suid-Afrika. As voormalige redakteur van die studentepublikasie, Die Matie, is Aurelia 'n bekwame leier. Haar verkiesing as visepresident sal haar die unieke geleentheid gee om internasionaal met eweknieë in gesprek te tree."

Foto: Ubaid Abrahams