Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Dag in die lewe: Gert Erasmus
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 08/05/2024

Gert Erasmus, 'n toegewyde tolk by die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalsentrum, oorbrug kommunikasie tussen Dowe en horende individue deur Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Sy rol sluit in die interpretasie van akademiese en buitemuurse aktiwiteite, die verskaffing van noodsaaklike ondersteuning en die bevordering van inklusiwiteit binne die Universiteitsgemeenskap. Aangesien ons aan die begin van Mei Werkersdag gevier het, dra ons hierdie reeks profiele op aan ons personeel en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit.

Wat behels jou rol by die US? 

Ek fasiliteer beide akademiese en buitemuurse kommunikasie tussen Dowe en horende personeel en studente wat Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Engels en Afrikaans vir verskeie omgewings by die US gebruik. Ek interpreteer klasse, vergaderings, opleidingsessies en self ook in privaat aangeleenthede soos byvoorbeeld mediese konsultasies.

Ek verskaf ook taalondersteuningsdienste aan Dowe studente en personeellede soos vertaling, transkripsie, redigering, proeflees en soms maak ek aantekeninge.

Mense sien dikwels die rol van gebaretaaltolke as 'n diens aan die Dowe gemeenskap, maar ons is net soveel daar om kommunikasie vir horende personeellede en studente te fasiliteer. Ons speel dus 'n oorbruggingsrol in kommunikasie tussen Dowe kollegas en studente en die horende gemeenskap.

Hoe lyk jou tipiese werksdag?

Ek vergesel studente gereeld klas toe om lesings te interpreteer. Ons interpreteer nie woord vir woord nie, maar eerder idees, die betekenis van wat gesê is, maar ook hoe dit gesê word. Ons interpreteer ook die bedoeling, die emosie en enige relevante inligting oor die omgewingskonteks. Ek skakel ook met die student oor wat op skyfies vir die klas geskryf of gewys word.

Hoewel jy nie elke woord met jou lippe vorm nie, vorm jy soms geluidloos 'n belangrike woord vir beklemtoning.

Daar is gewoonlik twee tolke in 'n klas, want dit is nogal uitputtend om vir lank te interpreteer. Dit is kognitief en fisies vermoeiend omdat jy nie net inligting inneem wat jy in gebare moet oordra nie, jy gebruik ook jou gesigsuitdrukkings en jou lyf om doeltreffend te kommunikeer. In 'n situasie waar daar verskeie sprekers is, beweeg jy jou lyf effens van die een kant na die ander om aan te dui watter persoon praat. Dit kan nogal vermoeiend raak, so in langer klasse maak ons beurte om vir tydperke van 25 minute elk te interpreteer.

Ten einde goed te kan interpreteer, moet ons omvattende voorbereiding vir lesings doen. Jy moet die vakinhoud begryp en in sommige wetenskapsvakke raak dit taamlik abstrak en ingewikkeld. Ek geniet dit om vakke te interpreteer wat nie net oor feite gaan nie, maar ook idees en emosies insluit.

As tolke het ons 'n baie streng etiese kode. Jy moet ten alle tye neutraal en professioneel wees. Maar in 'n opvoedkundige omgewing ontwikkel jy wel 'n sterk band en 'n unieke manier om die mense wat jy dien, te verstaan.

Hoe het jou opleiding of vorige ondervinding jou vir hierdie werk voorberei?

Ek het 'n taamlik onkonvensionele pad gevolg om 'n Suid-Afrikaanse Gebaretaal tolk vir Dowes te word. Anders as sommige tolke, het ek nie vooraf blootstelling aan Dowe kultuur of gebaretaal deur familie of vriende gehad nie. Dit was eers omstreeks 2008 toe ek saam met 'n Dowe kollega begin werk het, dat my reis begin het. Ek het gevoel dit is nie reg dat ek nie met haar kon kommunikeer terwyl ek moeiteloos met ander kollegas gesels het nie.

Ons interaksies het aanvanklik uit basiese boodskappe bestaan wat gedurende teetyd en middagete op stukkies papier geskryf is. Ek het haar gevra om my 'n paar elementêre gebare te leer en verbasend genoeg het ek gevind dat ek Suid-Afrikaanse Gebaretaal vinnig begryp. Toe hierdie kollega uiteindelik my direkte lynbestuurder word, het ek besef dit is nodig om my gebaretaalwoordeskat vir werkverwante besprekings uit te brei. Ek het vir 'n gemeenskapsgebaretaalkursus ingeskryf om tegniese terme beter onder die knie te kry.

My betrokkenheid by tolking het natuurlik gegroei namate ek met meer Dowe individue omgegaan het en deel geword het van die Dowe gemeenskap. Binne sowat 'n jaar en 'n half nadat ek gebaretaal begin leer het, is ek genader om met tolking by die Provinsiale Parlement in Mpumalanga te help. Danksy my vaardigheid in Afrikaans kon ek 'n hooggeplaaste regeringsamptenaar bystaan wat met die nuanses van politieke Afrikaans gesukkel het.

Ek was aanvanklik huiwerig weens my gebrek aan ervaring, maar ek het ingestem om ervare tolke vir 'n paar maande in die parlement te skadu. Deur waarneming, aantekeninge en gereelde interaksie het ek geleidelik vertroue begin gekry. Uiteindelik het ek onafhanklik in die parlement begin tolk, 'n rol wat ek vir sowat vier jaar lank vervul het.

Toe 'n vakature vir 'n Suid-Afrikaanse Gebaretaal tolk by die US onstaan het, het ek nie gedink ek sal oorweeg word nie, omdat ek nie 'n universiteitsgraad gehad het nie. Maar 'n vriend en kollega in die Dowe gemeenskap het my aangemoedig om aansoek te doen. Die onderhoudproses was redelik intensief – ek moes vrae in Engels, Afrikaans en Suid-Afrikaanse Gebaretaal beantwoord en ek moes verskeie tolk-toetse aflê. Dit het baie goed gegaan en ek was baie geëerd om as een van die eerste gebaretaaltolke by die US aan te sluit.

Ek het danksy my vaardigheid erkenning van vorige leer ontvang en is tans besig met 'n meestersgraad in Linguistiek by US.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek voel baie bevoorreg om die kommunikasiegaping tussen Dowe en horende gemeenskappe en kulture te kan oorbrug.

Dit is baie lonend om toegang aan Dowe studente en personeel te bied wat voorheen nie toegang tot verdere onderwysgeleenthede gehad het en in sommige gevalle steeds nie het nie. Ek werk saam met wonderlike kollegas by die US se Taalsentrum wie se ondersteuning en aanmoediging baie verder strek as die normale bystand. 

Dit is ook wonderlik om by 'n universiteit te werk wat besig is om te transformeer en ten goede te ontwikkel.

Persoonlik het my interaksie met die Dowe gemeenskap my die waarde van kommunikasie laat waardeer. Deur die jare het ek meer visueel ingestel geraak. My brein het aangepas om die wêreld anders te ervaar.

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat min mense sou verwag?

My lewensmaat sê ek verdien 'n Olimpiese medalje in slaap, aangesien ek binne minute aan die slaap kan raak en langer as 12 uur aaneen kan slaap (met kafeïne of nie).

Nog iets wat mense verbasend mag vind, is dat ek 'n gekwalifiseerde eiendomsagent en 'n demi-sjef is. Ek het gasvryheidstudie as vak op skool gedoen en deel van die kursus was praktiese werk. Ek het dit geniet om in restaurante te werk en ek het uiteindelik as assistent-sjef gekwalifiseer.

Die eiendomsagentkwalifikasie het gekom nadat 'n vriendin wat huise verkoop, haar eie maatskappy begin het en sy agente benodig het. Dit het my baie goed gepas, want dit het my baie vryheid gegee om ook nog deeltyds tolking te doen.

FOTO: Stefan Els