Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kollegas span saam vir suksesvolle fondsinsameling
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 07/05/2024
Akademici en senior leiers van die Universiteit Stellenbosch (US) het die geleentheid aangegryp om waardevolle fondsinsamelingsinsigte te verkry by 'n onlangse werkswinkel wat deur die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (OAB) aangebied is. Die werkswinkel, wat vir die tweede keer aangebied is, het ten doel om deelnemers toe te rus met die vaardighede en insigte om filantropiese befondsing te bekom.

Vanjaar se vaardigheidsprogram, getiteld “Ontwikkel jou fondsinsamelingsvoorlegging”, het van 22 April tot 26 April op die Stellenbosch- en Tygerbergkampusse plaasgevind. Die weeklange vrywillige praktykontwikkelingsessies het deelnemers van die US se fakulteite, skole en institute ingesluit.

'n Konsultant van die Verenigde Koninkryk, en stigter van Lagotto Solutions, Graeme Byrne, sê dit was bemoedigend om te sien hoe kollegas die inisiatief aanvaar.

Volgens Byrne is die taak van fondsinsameling by universiteite nie net die fondswerwer se plig nie. “Ons kan nie geld insamel vir akademiese navorsing sonder die akademikus nie. Baie van die sessies is dus daarop gefokus om akademici te wys hoe hulle met fondswerwers moet saamwerk en hoe fondswerwers met akademici moet saamwerk. As dit reg gedoen word, is die kanse goed dat die instelling meer groot skenkings sal kry. Dit gaan dus oor die ontwikkeling van vennootskappe en hoe ons saamwerk.”

Byrne, wat met universiteite regoor die wêreld saamwerk om fondse meer effektief in te samel, sê die doel is ook om die vrees uit fondsinsameling te haal.

“Ek werk met baie akademici en ek vra hulle altyd: ‘Wat is jou vrees wanneer dit kom by fondsinsameling?’, en die meeste mense sê dit is die gedagte om iemand vir geld te vra. Dit kan nogal intimiderend wees, maar die waarheid is dat hulle meestal met fondswerwers sal werk wat jare se ondervinding in dié veld het. Die idee is dus dat ons saamwerk om verhoudings te bou en om te identifiseer wanneer dit die regte tyd is om vir geld te vra.”

Hy sê wanneer jy mense vra om nuwe idees te oorweeg of dinge te doen wat hulle nog nie voorheen gedoen het nie, die kanse gewoonlik goed is dat hulle negatief sal reageer. “Maar dit was nie die geval toe ons die eerste vaardigheidsprogram in 2023 aangebied het nie. Trouens, te oordeel aan vanjaar se bywoning, groei die program van krag tot krag.”

Direkteur van Fondswerwing by die OAB, David Marupen, sê die program is geloods om samewerking tussen die OAB en US-kollegas te bevorder. Die doel is om kollegas bloot te stel aan beste praktyke wat sal help om filantropiese ondersteuning vir projekte en inisiatiewe te lok.

"Ons wou soveel as moontlik van ons kollegas deur hierdie program bereik, want dit sluit ook aan by die langtermyn Strategiese Fondsinsamelingsplan wat ons tans ontwikkel. Hierdie strategie het ten doel om nie net ons fondsinsamelingsaktiwiteite binne OAB te rig nie, maar ook binne die breër instelling,” sê hy.

Volgens Marupen beteken die sukses van die program dat meer werkswinkels in die toekoms beplan en aangebied sal word om te verseker dat hierdie waardevolle opleiding kollegas op ander kampusse sal bereik.

Fotograaf: Ernest Birkenstock