Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Dag in die lewe: Reuben van Oordt
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 07/05/2024

Ontmoet Reuben van Oordt, Junior IT-stelseladministrateur by die Stellenbosch Bestuurskool op die Bellvillepark-kampus. Met die taak om die seepgladde werking van tegnologie regoor die kampus te verseker, bied Van Oordt noodsaaklike ondersteuning in IT en stroomuitsendings aan personeel, studente en gaste. Terwyl ons Mei afskop met die viering van Werkersdag, dra ons hierdie reeks profiele op aan ons personeel en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit Stellenbosch (US). Van Oordt deel insigte in sy reis in IT, die unieke kultuur by die Bestuurskool wat professionele en persoonlike groei bevorder, asook sy passie vir sokker.

Wat behels jou rol by die US? 
My taak as Junior IT-stelseladministrateur by die Bellville Park-kampus is om omvattende eerste- en tweedevlak IT-tegniese en stroomuitsending-ondersteuning aan alle personeel, studente en gaste te bied. My rol is deurslaggewend om seepgladde tegnologiebedrywighede te verseker, wat ondersteuning met stroomuitsendings op die perseel en in klasse elders, asook gebruikerstevredenheid regoor die kampus insluit.

Hoe lyk jou tipiese dag by die werk?
As deel van my daaglikse verantwoordelikhede stel ons tegnologiestelsels regoor die kampus op en onderhou ons dit. Sodoende ondersteun ons die akademiese personeel om lesings op die kampus en oor 'n afstand aan te bied. Daarbenewens spreek ek IT-verwante navrae aan en los ek probleme vir studente en personeel op wat persoonlik by ons kom aanklop, of telefonies of per e-pos hulp vra. Hierdie omvattende ondersteuning verseker die gladde en doeltreffende werking van alle opvoedkundige en administratiewe aktiwiteite op kampus.

Weens die vinnige vooruitgang van tegnologie ervaar ons 'n paar uitdagings ten opsigte van die oplossing van sekere tegnologiese kwessies. Ons het nie altyd al die antwoorde byderhand nie, maar deur navorsing en 'n gretigheid om ons belanghebbendes te help, leer ons altyd meer oor maniere om versoeke na die beste van ons vermoë te hanteer en af te handel.

Hoe het jou opleiding of vorige ondervinding jou vir hierdie werk voorberei?

Ek was ná matriek gelukkig genoeg om die geleentheid te kry om met my IT-loopbaan te begin deur 'n paar kortkursusse en kwalifikasies op die IT-gebied te voltooi. Daarmee saam is ek, danksy my gretigheid en passie oor verskeie tegnologiese stelsels, die geleentheid gegun om skaduwerk saam met IT-deskundiges by bekende maatskappye te doen. Dit het my gehelp om 'n beter begrip te kry van prosesse en hoe sekere kliëntversoeke voltooi word.
Wat my vorige werksondervinding aan betref, is ek in my werk in die IT-afdeling by Vodacom se hoofkantoor aan baie van die hardeware- en sagteware-ondersteuning blootgestel wat ek tans aan ons personeel en studente bied. Van daar af het ek begin leer hoe om verskillende kliënte te hanteer en hoe om 'n doeltreffende en professionele diens te lewer.

​Wat is vir jou die lekkerste deel van jou rol en werk by die US?
Ek het in my agt jaar by die Stellenbosch Bestuurskool 'n groot waardering ontwikkel vir die kultuur en die kollegas met wie ek bevoorreg is om te kan saamwerk. Spanwerk en 'n nimmereindigende strewe na uitnemendheid is hier van uiterste belang. Dit is werklik lonend om deel te wees van 'n gemeenskap wat konsekwent toegewyd is om hulle beste te lewer en wat aktief geleenthede vir verbetering soek.

Die Stellenbosch Bestuurskool is ook ten sterkste verbonde tot die persoonlike ontwikkeling van sy personeel deur geleenthede vir verdere onderwys te bied. 'n Goeie voorbeeld hiervan was toe ek die geleentheid gegun is om as 'n EVL-kandidaat (Erkenning van Vorige Leer) verder te studeer en vanjaar 'n Nagraadse Diploma in Toekomsstudie, wat oor die bestuur van nuwe tegnologieë handel, suksesvol te kon voltooi en te kon gradueer.

Die instelling bied ook 'n verskeidenheid interessante geleenthede aan wat nie net vermaaklik is nie, maar ook leer bevorder en verhoudings tussen personeel versterk. Uit my ervaring lewer hierdie ervarings 'n betekenisvolle bydrae tot professionele groei en spankohesie.

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense dalk nie sal verwag nie.

Ek is 'n groot sokkerfanatikus. Ek is aktief betrokke en speel gedurende die week vyf-aan-'n-kant sokker in my vrye tyd. Ek het ook onlangs 'n nuwe doelwit vir myself gestel deur by die gimnasium aan te sluit, want ek hou daarvan om nuwe uitdagings te omarm en aan te pak. Wat die bevordering van my IT-loopbaan betref, het ek 'n ontwikkelende belangstelling in aspekte van kuberveiligheid. As gevolg van die vinnige vooruitgang van die digitale era, stel ek belang om beter te verstaan hoe ek mense op professionele en persoonlike vlak meer bewus van dataveiligheidskwessies kan maak. Ek geniet dit ook om klein konferensies en geleenthede by te woon wat my die geleentheid bied om te netwerk en nuwe dinge by 'n uiteenlopende groep mense te leer.

FOTO: Stefan Els