Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroedvroue die onbesonge helde van klimaatsveerkragtigheid in Afrika
Outeur: Prof Doreen Kaura
Gepubliseer: 06/05/2024

Die Internasionale Dag van die Vroedvrou is op Sondag 5 Mei gevier. Die tema vir 2024 was “Vroedvroue: ʼn onontbeerlike klimaatsoplossing". In ʼn meningsartikel vir die Cape Times skryf prof Doreen Kaura van die Departement Verpleeg- en Verloskunde dat vroedvroue volhoubare gesondheidsorg en kraampraktyke in Afrika bevorder wat die omgewingsimpak tot die minimum beperk.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

​Prof Doreen K Kaura*

Die wêreld gedenk elke jaar op 5 Mei Internasionale Dag van die Vroedvrou ter ere van die noodsaaklike rol wat vroedvroue speel om veilige bevallings en die gesondheid van moeders en pasgeborenes te verseker. Terwyl ons vanjaar hierdie belangrike dag gedenk, is dit noodsaaklik om vroedvroue nie net as bewakers van lewe te erken nie, maar ook as praktisyns wat 'n  deurslaggewende rol speel in die bekamping van die eksistensiële bedreiging wat klimaatsverandering vir moederaarde inhou. Vanjaar se tema, “Vroedvroue: ʼn onontbeerlike klimaatsoplossing", vestig die aandag op hoe vroedvroue in Afrika aan die voorpunt van klimaatsveerkragtigheidspogings is, gemeenskappe beskerm en volhoubare gesondheidsorgpraktyke bevorder.

Verloskunde word dikwels verkeerdelik as ʼn blote vertakking van verpleging beskou, maar dit behels ʼn afsonderlike beroep met sy wortels in kundigheid en gespesialiseerde vaardighede wat op die gesondheid van moeders en pasgeborenes fokus. In Afrika, waar toegang tot omvattende gesondheidsorg vir talle mense ʼn uitdaging bly, is vroedvroue kampvegters in die voorste linies en verskaf noodsaaklike dienste wat onontbeerlik vir die welstand van gemeenskappe is.

Die belang van verloskunde strek verder as individuele gesondheidsuitkomste en het ook ʼn invloed op omgewingskwessies, wat beteken vroedvroue is onbewuste, dog deurslaggewende rolspelers in klimaatsoptrede. Klimaatsverandering hou regoor Afrika ongekende uitdagings in. Dit vererger kwesbaarhede en bedreig die gesondheid en bestaan van miljoene mense. In hierdie konteks is vroedvroue onbesonge helde. Hulle vergestalt ʼn holistiese benadering tot gesondheidsorg wat omgewingsrentmeesterskap met die welstand van moeders en pasgeborenes integreer.

Allereers bevorder verloskunde volhoubare kraampraktyke wat die omgewingsimpak tot die minimum beperk. Van voorspraak vir natuurlike geboortetegnieke tot die ondersteuning van borsvoedingsinisiatiewe prioritiseer vroedvroue eko-vriendelike intervensies wat die koolstofvoetspoor verklein wat met bevallings en nageboortesorg gepaard gaan. Deur klem te lê op nie-indringende metodes wat min hulpbronne verg, verseker vroedvroue nie net veiliger geboortes nie, maar dra ook tot die bewaring van natuurlike hulpbronne by. Dit bevorder ʼn simbiotiese verhouding tussen gesondheidsorg en die omgewing.

Die verband tussen verloskunde en klimaatsverandering is dalk nie onmiddellik duidelik nie, maar die verhouding is diepgaande. Klimaatsverandering het ʼn buitensporige uitwerking op die mees kwesbare bevolkings, insluitend swanger vroue en pasgeborenes in Afrika. Uiterste weersomstandighede, voedselonsekerheid en die verspreiding van aansteeklike siektes hou aansienlike risiko's vir die gesondheid van ma en kind in. Vroedvroue rus vroue deur middel van opvoeding en bemagtiging met die kennis en vaardighede toe wat nodig is om omgewingstressors te hanteer en hul gesondheid en dié van hul pasgeborenes te beskerm. Van die onderrig van volhoubare boerderytegnieke tot die verskaffing van gesinsbeplanningsdienste, asook veilige water- en sanitasiepraktyke, bemagtig vroedvroue gemeenskappe om veerkragtigheid te ontwikkel teen gesondheidsrisiko's wat deur klimaat veroorsaak word. Dit bevorder uiteindelik volhoubare ontwikkeling.

Die simbiose tussen verloskunde en omgewingsvolhoubaarheid word voorts geïllustreer deur die rol van vroedvroue in rampreaksie- en humanitêre noodlenigingspogings. Soos wat klimaatrampe toeneem en vererger, is vroedvroue aan die voorpunt van noodreaksie en verskaf lewensreddende sorg in die nadraai van vloede, droogtes en ander omgewingskrisisse. Hul vermoë om by uitdagende omstandighede aan te pas tesame met hul intieme kennis van plaaslike gemeenskappe, beteken hulle is onontbeerlike bates in tye van krisis. Dit demonstreer die veerkragtigheid en vindingrykheid inherent aan die verloskundepraktyk.

Maar ondanks hul uiters waardevolle bydrae kom vroedvroue in Afrika steeds voor talle uitdagings te staan wat hul vermoë belemmer om hul potensiaal as agente van verandering te verwesenlik. Beperkte toegang tot onderwys en opleiding, onvoldoende hulpbronne en sistemiese hindernisse belemmer dikwels die lewering van sorg van gehalte vir ma en kind, wat ongelykhede vererger en pogings ondermyn om volhoubaarheid en veerkragtigheid te bevorder. Die aanpak van hierdie uitdagings vereis ʼn veelvlakkige benadering wat investering in verloskunde-opleiding, kapasiteitsbou en beleidshervorming prioritiseer. Dit sal verseker dat vroedvroue die ondersteuning en hulpbronne kry wat hulle nodig het om in hul belangrike rol te gedy.

Kom ons bevestig ons verbintenis tot vroedvroue as ʼn hoeksteen van volhoubare gesondheidsorg in Afrika en verder opnuut op hierdie Internasionale Dag van die Vroedvrou. Deur die integrale verband tussen verloskunde en omgewingsvolhoubaarheid te erken kan ons die transformerende krag van vroedvroue benut om die tweeledige uitdagings van moedergesondheid en klimaatsverandering die hoof te bied. Deur strategiese beleggings, voorspraak en samewerking kan ons vroedvroue bemagtig om die leiding te neem om ʼn gesonder, meer veerkragtige toekoms vir almal te verseker.

Regerings, beleidmakers en belanghebbendes in gesondheidsorg moet verloskunde as ʼn fundamentele komponent van die gesondheidsorgstelsel prioritiseer en voldoende hulpbronne toewys ter ondersteuning van vroedvroue en die gemeenskappe wat hulle bedien. Dit sluit in beleggings in verloskunde-opleiding, regulering wat nie onder verpleging val nie en ondersteuning van die verloskundepraktyk deur voortdurende professionele ontwikkeling, die verbetering van werksomstandighede en toegang tot noodsaaklike voorrade en toerusting.

Deur vroedvroue as noodsaaklike klimaatsoplossings te vier eer ons nie net hul onvermoeide toewyding en deernis nie, maar erken ons ook die diepgaande impak wat hulle op die gesondheid en welstand van gemeenskappe en moederaarde het. Kom ons staan in solidariteit met vroedvroue oral saam terwyl hulle aanhou om hoop te skep, veerkragtigheid te bevorder en die weg na ʼn meer hoopvolle, meer volhoubare ekologiese voetspoor van bevallings vir toekomstige geslagte te baan.

*Prof Doreen K Kaura is ʼn medeprofessor in die Departement Verpleeg- en Verloskunde in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings wat uitgespreek word, is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig dié van die Universiteit nie.