Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Senaat stem oor Gaza-resolusie
Outeur: Prof Wim de Villiers
Gepubliseer: 03/05/2024

Beste kollegas en studente 

Die Universiteit Stellenbosch (US) respekteer en handhaaf die beginsels van veiligheid en vryheid van assosiasie soos vervat in ons nasionale Grondwet. In hierdie gees ondersteun ons ons akademiese en studentegemeenskappe om hulle standpunte vreedsaam uit te spreek en konstruktiewe gesprekke binne die grense van Universiteitsbeleid en die reg te voer.

Die Universiteit bevestig dat sy Senaat nie 'n resolusie oor die Israel-Palestina-krisis aanvaar het nie. Die mosie was getiteld "Voorgestelde resolusie vir die Senaat van die Universiteit Stellenbosch oor die volksmoord en vernietiging van geleerdheid en onderwys in Gaza".

Die Senaat het Dinsdag 30 April 2024 'n spesiale vergadering gehou om die mosie te bespreek nadat dit op 'n geskeduleerde vergadering in Maart ter tafel gelê is. Die uitslag van die Senaat se stemming was 80 vir en 101 teen die mosie, met 18 lede wat buite stemming gebly het. 

Die voorgestelde resolusie het soos volg gelui:

Die Senaat van die Universiteit Stellenbosch besluit dus soos volg:

  1. Vra vir 'n onmiddellike skietstilstand en die staking van aanvalle op burgerlikes in Gaza en Israel, die deurlating van humanitêre hulp en die terugkeer van alle gevangenes, insluitende die veilige terugkeer van gyselaars wat deur Hamas gevange geneem is, *en insluitend die veilige terugkeer van Palestynse politieke gevangenes in Israeli-tronke. ​
  2. Veroordeel die vernietiging van die onderwyssektor in Gaza en die massiewe omvang van die moord op onderwysers en universiteitspersoneel in die huidige oorlog.
  3. Doen 'n dringende beroep op die internasionale gemeenskap om te verseker dat die verskaffing van humanitêre hulp die herstel van die onderwyssektor in Gaza insluit.
  4. Spreek ons kommer en teenkanting uit teen enige pogings om akademiese vryheid in te perk deur kritiek op Israel of Sionistiese beleid as anti-Semitisme te bestempel.
  5. Verwerp die IHRA se definisie van anti-Semitisme.
  6. Sê ons steun toe aan akademiese kollegas in Gaza wat onder haglike omstandighede oorleef en verklaar ons voorneme om met die heropbou van die akademiese sektor ná die oorlog te help.
  7. Verklaar ons solidariteit met akademiese kollegas wat geviktimiseer word weens hulle bereidwilligheid om hulle teen die opvoedkundige slagting in Gaza uit te spreek. 


​Hoewel die resolusie nie deur die meerderheid van die Senaat aanvaar is nie, erken die US dat die Israel-Palestina-krisis ons gemeenskap raak. Daarom is dit belangrik om te beklemtoon dat ons instelling die beginsels van vrede, respek vir menseregte, vryheid van uitdrukking en die beginsels van internasionale humanitêre reg ten sterkste steun. As 'n toonaangewende universiteit in Afrika, erken die US die belangrikheid van akademiese vryheid, om kennis en sienings in krisistye te deel en platforms te handhaaf vir die uitruil van uiteenlopende sienings binne en buite ons akademiese gemeenskap. Ons is daartoe verbind om omgewings te ondersteun en te bevorder waar alle standpunte gehuldig kan word.

Die US spreek sy diepe empatie uit met almal wat direk en indirek ly as gevolg van die ontvouende humanitêre krisis.
 
Die US Rektoraat bevestig ook dat alle akademiese diskoers by die Universiteit Stellenbosch binne die raamwerk van die waardes van die Universiteit plaasvind, naamlik uitnemendheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en billikheid. Dit is ook die grondslag vir die aanbieding van en deelname aan konferensies, webinare en netwerke; en vir die handhawing van samewerkende vennootskappe regoor die wêreld.

Ons bly onwrikbaar verbonde tot akademiese uitnemendheid en die welstand van ons gemeenskap. Ons sal voortgaan om hierdie beginsels te handhaaf terwyl ons ons weg deur die kompleksiteite van hierdie kwessie en ander wêreldwye uitdagings vind.

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier


*Die oorspronklike boodskap aan personeel en studente het nie die sinsnede "en insluitend die veilige terugkeer van Palestynse politieke gevangenes in Israeli-tronke" bevat nie – 'n wysiging wat tydens die Senaatsvergadering aangebring is.