Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Werkersdag: Die opkoms van die algoritmiese baas
Outeur: Nicola Smit
Gepubliseer: 02/05/2024

​Werkersdag is op 1 Mei gevier. In ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian fokus die Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, prof Nicola Smit, op die gebruik van groot data en generatiewe kunsmatige intelligensie (GenAI) om die arbeidsmag te bestuur (bestuur-deur-algoritme). Sy meen die wet moet ʼn leidende en fasiliterende rol speel om ordentlike werk te verseker deur die bemiddeling en versagting van die impak van GenAI op beide werksekerheid en die gehalte van werkers se werk en persoonlike regte.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Nicola Smit*

Die karakter van arbeidsmarkte en die toekoms van werk verskil aansienlik tussen lande. Werkersdag, ook bekend as Meidag of Arbeidsdag, gedenk die stryd en vordering van werkers en word in talle lande op 1 Mei gevier. Globale geopolitiek, ekonomie en klimaatsverandering-ontwikkelings laat die netelige vraag ontstaan oor wat die belangrikste stryd is wat Suid-Afrikaanse en globale werkers vandag in die gesig staar.

Die Internasionale Arbeidsorganisasie beskou die doel van ordentlike werk om te verseker dat verskillende groepe in die arbeidsmark gelyke geleenthede in indiensneming en inkomste, veiligheid en sekuriteit by die werkplek, maatskaplike beskerming, regte van assosiasie (vakbondlidmaatskap) en sosiale dialoog het. Teen hierdie agtergrond is die kwessie van generatiewe kunsmatige intelligensie (GenAI) en die werkplek, of meer treffend gestel “die opkoms van die algoritmiese baas", relevant.

Daar vind beduidende bespiegeling plaas oor die impak wat GenAI vir die toekoms van werk en werkers inhou – die kernvraag van sodanige impak word soms geformuleer as verplasing teenoor risiko-verskuiwing. Debatte oor die toekoms van werk het aanvanklik gefokus op outomatisering: die inwerkingstelling van nuwe tegnologieë by die werkplek en derhalwe die verlies van werksgeleenthede as gevolg van tegnologiese innovasie. Nog ʼn aspek van hierdie innovasie is egter ewe belangrik, naamlik die gehalte van werksgeleenthede in toekomstige arbeidsmarkte. Die vakbondbeweging gebruik die frase “Waardigheid by die werk te midde van ʼn KI-revolusie", omdat hulle voorspel dat indien dit nie in toom gehou word nie, “die gebruik van KI om mense te bestuur ook sal meebring dat werk ʼn toenemend eensame en isolerende ervaring sal word, waar die vreugde van menslike verbindings verlore sal gaan". Mense bestee ʼn groot deel van hul lewe daaraan om betaalde werk by die werkplek, of toenemend van ander plekke as ʼn tradisionele werkplek, te verrig en daarom maak die gehalte van (mags)verhoudings, interaksie en omstandighede by die werk baie saak.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum voorspel dat meer as 80% van organisasies teen 2026 GenAI in koppelvlakke of toepassings in produksie-omgewings sou gebruik het, maar dat slegs 16% dit suksesvol sou gedoen het. Werkgewers moet oorweeg hoe om GenAI doeltreffend vanuit ʼn operasionele, finansiële en menseperspektief te gebruik. Peilings toon dat byna ʼn kwart van werknemers verwag dat GenAI hul werk in die volgende vyf jaar sal vervang. Ondanks hierdie angs toon navorsing dat KI op kort tot medium termyn nie baie poste sal vervang nie; en dat dit trouens eerder geleenthede vir die arbeidsmag sal skep as sal verminder. James Bessen van die Boston University School of Law voer oortuigend aan dat mens nie bloot kan aanvaar dat produktiwiteitsverhogende tegnologie noodwendig werksverliese sal meebring nie. Voorts dat terwyl produktiewe tegnologie die totale indiensneming kan verminder of nie, dit waarskynlik op verskillende tye ʼn uiteenlopende uitwerking op verskillende nywerhede sal hê.

Navorsing en peilings dui wel daarop dat KI ongetwyfeld sal meebring dat werksgeleenthede herontwerp sal word om nuwe verantwoordelikhede in te sluit, soos interaksie met GenAI-gereedskap, asook dat sekere rolle en take buite verhouding beïnvloed sal word. Die Gartner-peiling van 2023 voorspel byvoorbeeld dat GenAI teen 2025 ʼn rol sal speel in 70% van take waarby baie teks of data betrokke is.

Van die ontluikende kommer oor GenAI en die gehalte van werksgeleenthede wat dan op die agenda van beleidmakers en reguleerders behoort te wees sluit in die werkers se privaatheid en elektroniese monitering; verraderlike vorms van diskriminasie (eksplisiete en implisiete vooroordele) wat agter ʼn tegnologies “objektiewe" fasade versteek is; praktyke soos mense-ontleding en die gebruik van groot data en KI om die arbeidsmag te bestuur (bestuur-deur-algoritme); om werkers te help om van sommige nywerhede/beroepe en sommige areas na ander oor te skakel; risikoverskuiwing van werkgewers na werkers deur gebruik te maak van KI- gedrewe gereedskap vir algoritmiese skedulering; taakherdefiniëring (ook wat as kompenseerbare werk en tyd beskou word); verlies- en bedrogvoorspelling (wat dikwels tot die voorspelling van teikens en voorkomende maatreëls lei); asook aansporing van produktiwiteit (insluitend indringende vorme van monitering en “onaktiwiteitsverslae").

Vakkundiges, insluitende Valerio De Stefano en Antonio Aloisi, wat medeskrywers was van Your Boss Is an Algorithm: Artificial Intelligence, Platform Work and Labour, het oortuigend aangevoer dat ʼn noodsaaklike benadering vir geskikte beleidmaking in hierdie konteks “werkers se bedingingsmag" is. Dié benadering sentreer rondom strategieë wat data-deursigtigheid, privaatheid en regverdigheid verhoog, gerugsteun deur werkers se regte, en die bemagtiging van werkers se verteenwoordigers om hul eie kennis van GenAI te ontwikkel, sowel as hul vermoë om effektief oor die aanvaarding en impak daarvan te onderhandel. Dit is duidelik dat werkers werklike probleme ondervind om hul individuele regte in die konteks van algoritmiese bestuurstelsels te laat geld, dus is kollektiewe arbeidsregte, en veral kollektiewe bedinging, die mees doeltreffende en bewese instrumente vir werkers om die sogenaamde “verspreiding van voordele en koste van die KI- en datagedrewe digitale revolusie" te beïnvloed. Die reg van werkers se verteenwoordigers op inligting en konsultasie moet hierby gevoeg word.

Ander strategieë sluit in om maatskappye gesamentlik aanspreeklik te hou vir oortredings van arbeidswetgewing wat verband hou met algoritmiese bestuurstegnologieë wat hulle ontwikkel of bemark, en die ontwikkeling van parallelle regulasies wat minimum standaarde vir ordentlike werk stel met betrekking tot die bekommernisse van werkers wat hierbo beskryf is. Wat ons nodig het, is ʼn meervlakkige reaksie om die impak van KI op indiensnemingsverhoudinge aan te pak. Hierdie reaksie kan beskermende meganismes insluit (minimum standaarde wat deur regulasies of kollektiewe sektorale ooreenkomste gestel word) en deelnemende standaarde (wat aan werknemers of hul verteenwoordigers bedingingsregte en hulpbronne gee om prosesse deur direkte deelname te bestuur).

In 2019 het Jeremias Adams-Prassl van die Oxford-universiteit geskryf die “werklike uitdaging behels om die onmiskenbare potensiaal te benut van die tendense wat môre se werk sal vorm, terwyl verseker word dat niemand agterbly wat ordentlike en volhoubare werksomstandighede betref nie".

Wetgewing reageer nie bloot op tegnologiese verandering nie, maar soos die Cambridge-akademici Simon Deakin en Christopher Markou getoon het, vind fasilitering en bemiddeling daarvan ook deur wetgewing plaas. Elke dekade het werkers voor uitdagings gestel en arbeidswetgewing het dikwels op hierdie uitdagings gereageer eerder as om die leiding te neem wat betref gewin vir werkers en hul gesinne. Alhoewel die huidige KI-revolusie onteenseglik verreikende gevolge vir werkplekke en werkers sal inhou, blyk dit dat baie van die “nuwe" uitdagings in historiese ontwikkelings verwortel is (soos atipiese en platformwerk, die aard en omvang van bestuursprerogatief en werkers se reg op billike arbeidspraktyke). Swaar verworwe vooruitgang in wetgewing en beleid kan in talle gevalle volgehou en versnel word deur deurdagte en pasgemaakte aanpassing en implementering.

Oplossings sal moet voortbou op bestaande reaksies, maar sal ratser moet wees om nuwe pasgemaakte antwoorde op GenAI se spesifieke uitdagings, soos bestuur-deur-algoritme, te vind en in werking te stel. Deakin en Markou sê tereg GenAI het die vermoë om bestaande vorms van regulering te ondermyn, terwyl ruimte vir nuwes geskep word. Verskeie jurisdiksies, insluitend die Europese Unie, het wette op kunsmatige intelligensie aanvaar, met bepalings wat verband hou met klasse van KI-stelsels wat as hoë-impakstelsels beskou word (byvoorbeeld indiensnemingsverwante besluite of besluitneming deur howe of administratiewe liggame). Die sleutel tot hierdie klassifikasie is die erns en omvang van potensiële nadelige impakte, insluitend op menseregte en maatskaplike skade, terwyl erken word dat oorvleueling tussen hierdie klasse en bestaande regulatoriese regimes die behoefte aan spesifieke in- of uitsluitings kan temper.

In Suid-Afrika is ons arbeidsmag divers en word werk in die formele én informele ekonomie verrig. Die omvang van strukturele werkloosheid, veral onder die jeug, is goed gedokumenteer. Hierdie struikelblokke kan verklaar hoekom ons oënskynlik traag was om te reageer op die uitdagings wat deur die vinnige bekendstelling en wydverspreide gebruik van GenAI in die arbeidsmark gestel word. Hierdie is egter ʼn geval waar die wet ʼn leidende en fasiliterende rol moet speel om ordentlike werk te verseker deur die bemiddeling en versagting van die impak van GenAI op beide werksekerheid en die gehalte van werkers se werk en persoonlike regte. Die geleentheid om die toekoms van werk te verbeel, moet dus met meer dringendheid en doelgerigtheid aangegryp word.

*Prof Nicola Smit is die Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch.​