Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste groep suksesvolle Toekomstige Professore vereer
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 02/04/2024

ʼn Byeenkoms in Maart aan die Universiteit van Mpumalanga van ʼn groep voorste Suid-Afrikaanse akademici was die hoogtepunt van die suksesvolle aanvangsfase van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se innoverende Toekomstige Professore-program (TPP).

Die TPP is ʼn samewerkingsinisiatief wat ten doel het om eienskappe van akademiese uitnemendheid en leierskap onder ʼn uitgesoekte poel van akademiese personeel van al 26 Suid-Afrika se openbare universiteite te ontwikkel. Die TPP, wat deur die DHOO gefinansier word, is ʼn nasionale program wat deur die Universiteit Stellenbosch (Fase 1) en die Universiteit van Johannesburg (Fase 2) geadministreer word.

Die doel van die program is om kapasiteit in die Suid-Afrikaanse nasionale wetenskapstelsel te bou. Dit versnel die gereedheid vir talentvolle vroeë- tot middelloopbaan-akademici oor verskeie vakkundige dissiplines heen om vol professore te word. Die TPP bied intensiewe tweejaar-genootskappe wat omvattende ondersteuning bied, insluitende assesserings, mentorskap, netwerkgeleenthede en internasionale blootstelling.

Onder leiding van prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die eerste fase van die TPP groot akademiese en professionele sukses vir die bykans 50 deelnemers van kohort 1 en 2 tot gevolg gehad. Sedert die bekendstelling in 2020 is bykans 70% van die genote tot die professoraat bevorder.

Ondanks die talle uitdagings wat die Covid-pandemie meegebring het, het die elite-groep onderrig- en navorsings-eerbetone verwerf, in top-joernale gepubliseer, vakkundige boeke geproduseer en gesogte genootskappe ontvang. Onlangs het die TPP selfs ʼn lid van die Wêreld- Ekonomiese Forum se Young Global Leaders vir 2023 opgelewer.

Inspirerende leierskap

Jansen was nog altyd passievol daaroor om die potensiaal van talentvolle akademici te ontwikkel. Die TPP-program se oorsprong was die sukses wat aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behaal is. Gedurende sy termyn as Visekanselier van die UV het Jansen die fokus na die senior dosent-kohort verskuif.

“Ons het onsself afgevra hoe ons die bestes en die slimstes kan ondersteun, daardie mense wat die potensiaal het om deel te word van daardie klein groepie professore, om hulle te lei in hul reis van senior dosent tot medeprofessor en dan volle professor," het hy gesê.

Met hulp van die DHOO het Jansen en ʼn toegewyde span die lesse uit daardie ervarings geneem en meer materiaal bygevoeg om ʼn sistematiese program te ontwikkel vir belowende senior dosente om professore te word.

ʼn Boek waarvan Jansen en prof Daniel Visser mederedakteurs was, On becoming a scholar: What every academic needs to know, vat die lesse van die FPP-program saam. Dit dek onderwerpe soos navorsing, onderrig, akademiese konneksies, hoe om ʼn outeur te word, om jou prestasie te meet, akademiese leierskap en die balansering van akademiese werk en persoonlike lewe.

“Ons wou kennis aan aspirant-professore beskikbaar stel in ʼn kurrikulum wat hulle vinnig daar sou bring, maar die proses moes tegelyk aan hulle ʼn gevoel van vervulling gee," het Jansen verduidelik

“Ons doen ʼn gedetailleerde beoordeling van elke genoot ooreenkomstig die raamwerk wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) verskaf word. Ons bied sosiale, sielkundige en emosionele ondersteuning aan hulle. Dit het een van die belangrikste suksesse van die TPP geblyk te wees," het Jansen benadruk.

Persoonlike interaksie in die TPP-konteks het samewerking en sterk bande tussen ʼn diverse groep akademici vergemaklik. “Dit het ʼn ondersteuningstelsel van deurslaggewende belang tydens die Covid-pandemie gebied, toe akademici baie geïsoleer gevoel het. Oor die afgelope paar jaar het die deelnemers aan die eerste fases ʼn virtuele gemeenskap van akademici geword wat hegte vriendskappe gesmee en saam aan navorsingsprojekte gewerk het," het Jansen opgemerk.

Die TPP bring akademici ook in kontak met vooraanstaande denkers wêreldwyd oor ʼn reeks dissiplines heen en bied aan deelnemers toegang tot internasionale netwerke van akademiese kundigheid.

Jansen het by die graduering van die eerste twee kohorte in Mpumalanga ʼn inspirerende boodskap gelewer en sleutelaspekte uitgelig wat nie tipies in die akademie onderrig word nie.

Hy het benadruk dat dit belangrik is om akademiese afguns die hoof te bied deur gefokus te bly en op ʼn positiewe manier by kritiek betrokke te raak.

Hy het voorts benadruk hoe belangrik dit is om as navorser nederig te bly en die deelnemers herinner om hul voete op die grond te hou en die groei van diegene rondom hulle te ondersteun.

“Wees vrygewig deur jou kennis nie net met wetenskaplikes en akademici te deel nie, maar ook met gemeenskappe aan die rand van die samelewing. In hierdie opsig moet jy nie net van jou intellektuele of materiële hulpbronne, gee nie; dit is relatief eenvoudig. Leer ook om van jouself te gee," het Jansen gesê.

Die plegtigheid by die Universiteit van Mpumalanga is in vennootskap met die US aangebied en bygewoon deur hooggeplaastes wat die DHOO en alle groot universiteite verteenwoordig het. Prof Sibusiso Moyo, Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, het die US ook by die geleentheid verteenwoordig. Die hoofrede is gelewer deur ʼn verteenwoordiger van die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, Dr Nkosinathi Sishi, direkteur-generaal van die department.

Twee genote van die US vertel van hul ervaring as deelnemers aan die TPP

Prof Deresh

Dr Tongai Maponga van die Afdeling Mediese Virologie aan die US skryf ʼn groot ommeswaai in sy loopbaan aan die TPP toe. Sy navorsing behels die gebruik van metagenomiese volgordebepaling om onherkende en nuwe virusse te identifiseer wat sentrale senuweestelselinfeksie veroorsaak by mense wat met MIV-infeksie in Suid-Afrika leef.​

“Ek het aanmoediging van onskatbare waarde ontvang van kollegas wat voorheen die reis onderneem het waarop ek is. Toe ek vir die TPP aanvaar is, was ek onseker en gefrustreerd en op die punt om ʼn loopbaan in die akademie die rug toe te keer. Die aanmoediging van kollegas, veral binne my afrigtingsgroep, het my in staat gestel om voort te gaan. Die raad wat ek gekry het, sal lewenslank duur," sê hy.

Deur afrigtingsessies en interaksie met ander TPP-deelnemers het Maponga belangrike interpersoonlike vaardighede geslyp, wat sy interaksie met kollegas en studente verbeter het. “Ek het ook vaardighede bekom om ʼn gesonde balans tussen werk en lewe te handhaaf deur te luister na en te leer van die verskillende sprekers aan wie die TPP my voorgestel het. Nou waardeer ek slaap selfs meer as voorheen."

Maponga het die gestruktureerde dog informele benadering van die TPP-aktiwiteite waardeer, wat blootstelling aan bekwame vakkundiges bied en stimulerende besprekings bevorder. “Die multidissiplinêre aard van die TPP-genote en -mentors het ʼn wonderlike geleentheid gebied om te leer en ervarings te deel. Dit is selfs meer die geval as in ag geneem word dat genote uit verskillende instellings en agtergronde kom. Talle inisiatiewe word tot een instelling beperk en skep ʼn situasie wat soms toksiese praktyke kan laat voortduur. Om by ander instellings te leer maak dit moontlik om ongesonde praktyke af te leer."

ʼn Groot mylpaal die afgelope paar jaar was ʼn aanstelling by die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste (NHLS), sê Maponga. “Dié pos beteken ek het aanstellings by die NHLS én die US, wat my in staat stel om my akademiese trajek voort te sit en navorsing te doen sonder dat ek oor ʼn salaris bekommerd hoef te wees."

Maponga is opgewonde oor moontlike toekomstige navorsingsamewerking uit TPP-besprekings, veral die implementering van idees wat tydens skryf-retreats ondersoek is.

“Ek raai enigiemand aan wat die kans kry om deel van die TPP te wees om die geleentheid aan te gryp en soveel as moontlik van ander genote en van die onderskeie genooide mentors en sprekers te absorbeer, asook om te leer by die implementeerders, wat wonderlike en briljante vakkundiges is."

Dr Yaseera Ismail, ʼn senior dosent in fisika aan die US, het in 2021 by die TPP aangesluit. Sy spesialiseer in die ontwikkeling van kwantumtegnologieë, veral op die gebied van kwantuminligtingwetenskap.

Prof Deresh

“Ek het die program begin met die nuus dat ek tot senior dosent bevorder is en die NNS ʼn Y1-gradering aan my toegeken het, wat ʼn beduidende prestasie in my akademiese loopbaan was. Ek was reeds ʼn hoofondersoeker van ʼn multilaterale BRICS-medewerking, maar tydens die program het ek alternatiewe bronne van finansiering bekom wat groei in my loopbaan en my publikasierekord meegebring het," verduidelik Ismael.

Die TPP het netwerkvorming en samewerking oor diverse dissiplines en instellings heen gefasiliteer. “Deur hierdie netwerk het ek ʼn artikel saam met TPP-genote gepubliseer met die titel “The Fourth Industrial Revolution – what does it mean to our future faculty?" Ek kon prof Sibusiso Moyo, Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, ontmoet, wat meegebring het dat ek as ʼn opkomende ster erken is en uitnodigings na geleenthede van die Bill & Melinda Gates-stigting in Suid-Afrika ontvang het.

“Die NNS se skyngraderingsproses was uiters waardevol en het insig in narratiewe konstruksie gebied, asook strategiese beplanning vir die daaropvolgende graderingsrondte aangespoor. Boonop was dit baie nuttig om te leer uit die ervarings van medenavorsers, wat gehelp het met die navigasie van groei binne die Suid-Afrikaanse landskap en om internasionaal erkenning te bekom, veral deur die skepping van jou akademiese identiteit.

Ismail sê die netwerk van genote oor Suid-Afrika se universiteite heen het konneksies van onskatbare waarde verskaf, met mini-konferensies wat oorkruis-samewerking en blootstelling aan navorsingsaktiwiteite bevorder het. Skryf-wegbreke het gefokusde tyd gebied vir die voltooiing van manuskripte en besprekings in klein groepe.

“Blootstelling aan ʼn diverse verskeidenheid van geleenthede vir beurse en genootskappe was nog ʼn belangrike voordeel om ʼn TPP-genoot te wees. Die program se benadering om die spesifieke behoeftes van elke genoot te identifiseer en aan te pak het deurgaans pasgemaakte leiding verseker, wat ʼn een-grootte-pas-almal-benadering nie sou kon bewerkstellig nie. Deurlopende toegang tot programleiers het ons gehelp om ons akademiese uitdagings doeltreffend te navigeer. Boonop was die klem op welstand, gefasiliteer deur lewensafrigters, en die voorsiening van hanteringsmeganismes vir die bestuur van die daaglikse spanning van die akademie besonder noemenswaardige aspekte van die program.

“Ek het die voorreg gehad om ʼn aanbieder by die TPP se mini-konferensie te wees en dit was ʼn insiggewende ervaring. Ons fokus bly dikwels verskans in ons onderskeie akademiese domeine, maar hierdie multidissiplinêre gebeurtenis het ʼn vars perspektief op ons navorsing gebied. Ek het ook aan die Wetenskap-geleentheid deelgeneem, wat beroepslui uit verskillende velde byeengebring het, insluitend fisika, wiskunde en chemie. Hierdie platform het ʼn geleentheid gebied vir diepte-aanbiedings, wat gedetailleerde besprekings ontlok het en waar ons die interseksies van ons navorsingsareas verken en potensiële samewerkingsprojekte te midde van hierdie oorvleuelings ontdek het."

Ismael beveel sterk aan dat middelloopbaan-akademici dit oorweeg om by die TPP vir vaardigheidsontwikkeling-, netwerkvorming- en loopbaanbevorderingsgeleenthede aansoek te doen. “Deur navorsingstrategieë te verbeter en te verfyn, rus die TPP deelnemers met sleutelvaardighede toe wat noodsaaklik vir vordering in die akademie is. Die program fasiliteer netwerkvorming en samewerking met mede-akademici van universiteite in Suid-Afrika en internasionaal, wat deure na nuwe geleenthede en samewerking open."