Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Onderriggenootskappe 2024
Outeur: Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 27/03/2024

Die Universiteit Stellenbosch (US) se onderriggenootskappe bied aan vooraanstaande akademici wat by onderrig-leer-assessering (OLA) en die akademieskap van onderrig en leer betrokke is die geleentheid om hulle OLA-kundigheid op departementele, fakulteits- en institusionele vlak met die nodige ondersteuning oor ʼn tydperk van een tot drie jaar te verryk en te deel. 

Die Universiteit het, sedert die aanvang van die projek in 2009, reeds 22 genootskappe toegeken. In 2024 het nog ʼn nuwe genoot, dr. Mariette Volschenk, by die huidige groep, bestaande uit prof. Deborah Blaine (Fakulteit Ingenieurswese), dr. Taryn Bernard (Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe), dr. Marnel Mouton (Fakulteit Natuurwetenskappe) en prof. Nicola Plastow (Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) aangesluit. 


Dr. Mariette Volschenk 

Dr. Volschenk is 'n Senior Dosent in die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderrig (“CHPE”) in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Sy is in 2023 as programleier van die MPhil in HPE (MHPE) aangestel. Haar doktorale studies het aangedui dat baie studente onvoldoende voorbereid is op die uitdagings wat meestersvlakstudies in die HPE stel. Die ontwerp van die US MHPE as 'n hibriedeleer interprofessionele gedoseerde program verdiep hierdie uitdagings. Dr. Volschenk het besef dat 'n meer diepgaande begrip van meesterskap binne die MHPE-programkonteks nodig is. Dit sluit in strategieë vir professionele sosialisering, innoverende pedagogiese en studieleidingsbenaderings, en virtuele studente-ondersteuningstrukture wat op die bevordering van die meesterskaptrajekte van MHPE-kandidate gemik is (Volschenk, 2021). 

Die oorhoofse doel van dr. Volschenk se onderriggenootskap is om die bou van meesterskap in die US MHPE te ondersoek en bevorder. Die primêre fokus is om breër toegang te fasiliteer, gereedheid vir die oorgang na meestersvlakstudies te bevorder, akademiese sukses onder meesterskandidate te verhoog, en hul daaropvolgende loopbaantrajekte as opvoedkundige akademici en leiers in HPE te bemiddel. 

Die studie beoog om die US se reaksie op die nasionale deurset- en retensiekoerse vir nagraads-onderrigde studente te verbeter. Dit behoort die universiteit 'n genuanseerde begrip van die dimensies van meesterskap en die vereiste vaardighede vir akademiese sukses op hierdie nagraadse vlak in die HO te bied. Daar word verwag dat sommige bevindinge en verwante ingrype moontlik na ander gedoseerde hibriedeleer meestersprogramme by die US asook vergelykbare internasionale MHPE-programme oorgedra sou kon word. Hierdie onderriggenootskap sal ook maniere verken waarop akademici die bevoegdhede om die groei van meesterskap in MHPE-kandidate te fasiliteer kan verwerf, versterk en instandhou. 

​​Ons wens dr. Volschenk alle sukses met haar genootskap toe.


Verdere inligting oor die Onderriggenootskappe is beskikbaar van dr. Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za.