Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Medewerking tussen US en nuwe Gilde-ARUA-CoRE ’n mylpaal vir formulering van beleide vir volhoubare ontwikkeling in Afrika
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 15/03/2024

​Die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA) en die Gilde van Europese Navorsingintensiewe Universiteite (die Gilde) het drie nuwe Afrika-Europa-klusters van navorsingsuitnemendheid, ook bekend as CoRE's, in September verlede jaar bekend gestel.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs deur middel van sy Beleidsinnovasielaboratorium in die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke by die kluster vir navorsingsuitnemendheidoor die politiek van volhoubare ontwikkeling aangesluit. Elke kluster spreek 'n belangrike uitdaging in die samelewing binne die raamwerk van die Global Gateway AE-EU-innovasie-agenda aan.

Die mede-leier van hierdie CoRE, prof Dan Banik van die Universiteit van Oslo, het die volgende hieroor gesê: “Ek is verheug om die US as die nuutste lid van ons Kluster van Uitnemendheid te verwelkom. Hierdie samewerking is 'n belangrike mylpaal in ons gesamentlike pogings om doeltreffende beleide vir volhoubare ontwikkeling in Suid-Afrika en verder te help vorm."

Banik sê een van die belangrikste inisiatiewe hou verband met 'n projek wat deur die hoof van die Beleidsinnovasielaboratorium by die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, prof Willem Fourie, voorgestel is. Die projek is daarop gemik is om die potensiaal van masjienleer-instrumente (ML)-instrumente te benut om Suid-Afrikaanse beleide en wetgewing wat met volhoubare ontwikkeling te doen het en in die openbaar beskikbaar is, te ontleed. "Deur die gebruik van ML het die projek ten doel om verder te gaan as tradisionele navorsingsmetodes en bestaande beleidsdatabasisse wat 'n omvattende ondersoek na potensiële sinergieë en konflikte binne die beleidslandskap moontlik maak."

Die projek sal die doeltreffendheid van die gebruik van ML ondersoek om volhoubaarheidsbeleidsamehang te ontleed, potensiële prioriteitsonderwerpe te identifiseer om beleidsamehang te bevorder en te besin oor die toepaslike etiese oorwegings wat met die verantwoordelike implementering en die bou van kapasiteit vir toekomstige beleidmakers verband hou.

“Hierdie vennootskap is 'n voorbeeld van ons gedeelde verbondenheid tot die benutting van navorsing en innovasie om dringende globale uitdagings die hoof te bied. Ons sien daarna uit om saam met prof Fourie en sy kollegas aan kwessies te werk wat met volhoubare ontwikkeling verband hou sodat ons 'n meer volhoubare en billike toekoms vir almal kan skep," voeg Banik by.

Prof Sibusiso Moyo, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, sê: “As 'n universiteit is ons verheug dat prof Willem Fourie die Beleidsinnovasielaboratorium aan die US lei as deel van die CoRE oor politiek en volhoubare ontwikkeling. Daar is nog baie wat aan die innovasiekant gedoen moet word ten opsigte van die gebruik van instrumente wat kan help om openbare beleid en die impak daarvan op volhoubaarheid te ontleed. Inklusiwiteit en verwydering van vooroordele bly 'n kerngebied wat kunsmatige intelligensie en masjienleer betref.

“Afrika moet nog meer kapasiteit op hierdie gebied bou en hierdie CoRE sal die basislyn stel en die toon aangee om te help om kapasiteit vir die toekoms te bou. Baie geluk aan die US-span wat by die kluster aangesluit het en baie dankie aan die Universiteit van Oslo vir die volgehoue vennootskap tussen die twee instellings," voeg sy by