Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer top-matriekpresteerders by die eerste Visekanselierstoekennings
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 29/02/2024

ʼn Groep uitsonderlike voorgraadse studente was onlangs die eregaste met die eerste Visekanselierstoekennings aan topmatrikulante in die Universiteit Stellenbosch (US) se Ou Hoofgebou.

Die US se Visekanselier en Rektor, Prof Wim de Villiers, was die gasheer van die plegtigheid, wat ook deur die Rekotraat, Dekane en senior bestuurders bygewoon is en waar voorgraadse studente vir hul uitnemende akademiese prestasie op hoërskool erken en beloon is.

Die US het verlede jaar ʼn nuwe model vir Toekennings vir Akademiese Uitnemendheid vir voorgraadse nuwelinge in hul eerste studiejaar bekendgestel, maar daar was nie ʼn formele plegtigheid in 2023 nie. Die geleentheid op 21 Februarie vanjaar het die akademiese prestasies gevier van twee uitstaande groepe studente wat die 2023- en 2024-kohorte verteenwoordig het. Daar is ook erkenning verleen aan uitstaande resultate van eerstejaars van die 2023-kohort.

De Villiers het die studente met hul uitsonderlike matriekuitslae gelukgewens. “Julle harde werk en toewyding het nie ongesiens verbygegaan nie en ons is verheug dat julle die Universiteit Stellenbosch as jou akademiese tuiste gekies het. Ek wil ook die ontvangers van verlede jaar prys vir hul volgehoue sukses in hul eerste jaar op universiteit. Hou die uitstekende werk vol," het hy gesê.

De Villiers het die US se onlangse prestasies benadruk, insluitend sy posisie as een van die top-drie navorsingsintensiewe universiteite in Suid-Afrika, met voortgesette groei in navorsingsuitsette en internasionale samewerking. Die Universiteit spog met 508 NNS-gegradeerde navorsers, het De Villiers opgemerk, insluitend 21 A-gegradeerde navorsers. Voorts is 48 ten volle gefinansierde navorsingsleerstoele en 22 gedeeltelik gefinansierde leerstoele gevestig.

Die instelling van die Visekanselierstoekennings dien ʼn dubbele doel, het De Villiers verduidelik. Eerstens is dit ontwerp om toppresteerders bykomende stukrag te gee om selfs hoër akademiese prestasies na te streef. Tweedens is dit ʼn erkenning van die ontvangers se uitsonderlike status binne die top-5% van eerstejaarstudente aan die US.

“Julle verteenwoordig nie net die meeste van die provinsies in ons land (7 uit 9) nie, maar sommige van julle het as Suid-Afrikaanse burgers in Namibië, Kanada, Zimbabwe, die Verenigde Emirate en Saoedi-Arabië gematrikuleer," het De Villiers gesê.

“Julle het ook ingeskryf vir studierigtings van kritieke belang, nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die verbetering van die globale samelewing – megatronika, geneeskunde, chemiese, elektriese, industriële en meganiese ingenieurswese, regte, laserfisika, datawetenskap, aktuariële wetenskappe en rekeningkunde, biodiversiteit en ekologie, asook menslike hulpbronbestuur.

“Die akademiese prestasierekord van verlede jaar se groep ontvangers het bewys gelewer van voortgesette uitnemendheid, met 99,9% van die ontvangers wat hul eerste studiejaar met lof geslaag het. Wel gedaan!"

Room van die oes

Ná die afsluiting van die toekenningsplegtigheid het die euforiese gevoel van prestasie en afwagting voortgeduur en die weg vir voortgesette akademiese strewe en sukses berei. Ons het sommige van die ontvangers van die toekennings gevra hoe hulle voel om as toppresteerders aan die US erken te word.

  • Zuhra Samsodien het op aanbeveling van haar tannie na die US gekom om menslike hulpbronbestuur te studeer. “Sy het my aan die kampus voorgestel en vir my gewys hoe lekker dit is. Om Stellenbosch toe te kom was tot dusver ʼn wonderlike ervaring," het Samsodien gesê. Sy is dankbaar vir die Visekanselierstoekenning, want dit sal die finansiële las op haar ouers verlig. “Om finansiële ondersteuning te kry om ʼn uitstekende student te wees help my baie. Ek is uiters dankbaar vir die geleentheid en ek waardeer dit geweldig," het sy bygevoeg.
  • Lars Penzhorn het besluit om Stellenbosch toe te kom om BCom (aktuariële wetenskap) te studeer omdat hy nuwe mense wou ontmoet en die wêreld vanuit ʼn ander perspektief sien. “Natuurlik ook vanweë die pragtige omgewing – die berge, die see. Dit is eenvoudig fantasties om hier te kan studeer. My eerste jaar aan die US was wonderlik en ek het baie interessante en gawe mense ontmoet wat my met my studies gehelp het. Daar heers altyd ʼn prettige gees in Stellenbosch," het Penzhorn gesê. Dit was ʼn groot verrassing om as ʼn akademiese presteerder erken te word, het hy bygevoeg. “Ek voel geëerd om vanaand hier te wees. Hierdie toekenning motiveer jou om aan te hou hard werk en om altyd jou alles te gee."
  • Heidi Rossouw, ʼn eerstejaar- mediese student aan die US se Tygerberg-kampus, is een van ʼn unieke groep superpresteerders – die enigste meisie van ʼn drieling van Bloubergstrand wat verlede jaar gesamentlik 21 onderskeidings behaal het toe hulle aan Parklands College gematrikuleer het. Heidi skryf haar sukses toe aan die “meestal vriendelike" kompetisie tussen haar en haar broers. Hoewel haar sibbes nie by die geleentheid was nie, het sy melding van André en Norman gemaak toe sy haar vreugde oor die ontvangs van die Visekanselierstoekenning beskryf het. Die grootste aanpassing by die universiteitslewe was om haar dosente “dokter" en “professor" te noem, het Rossouw met ʼn glimlag gesê. André het vir ʼn BRek LLB-graad aan die US geregistreer en Norman studeer data-ingenieurswese, ook aan die US.
  • Tahseen Hansrod, wat al die pad van Johannesburg kom, het ʼn eenvoudige rede vir sy besluit om meganiese ingenieurswese aan die US te studeer: “Ek glo Stellenbosch is die beste universiteit, nie net in Suid-Afrika nie, maar in Afrika," het hy met ʼn ingenome glimlag gesê. “2023 was ʼn eerstejaar-wipwarit, maar dit was een van die lekkerste jare van my lewe. Gelukkig kon ek my akademiese prestasie van matriek min of meer ewenaar. Die geheim agter akademiese sukses is nie net harde werk nie, maar om ʼn balans te vind tussen werk en vrye tyd, asook om geloof in God te hê."
  • Toe sy in Januarie hoor sy is die land se top-staatskoolmatrikulant, was Melissa Muller van Stellenbosch stomgeslaan. Dié veelsydige oudleerder van Rhenish Girls' High, wat megatroniese ingenieurswese aan die US studeer, het gesê haar eerste twee weke as ʼn Matie was prettig. “Almal is so vriendelik en ek geniet dit om weer ʼn roetine te hê ná ʼn lang pouse sedert die matriekeksamen. Ek is opgewonde oor die jaar wat voorlê. Ek dink ek gaan baie vriende in die klas maak en soveel netwerke hier op Stellenbosch bou, want die US bied baie sulke geleenthede."
  • Om een van die ontvangers van die Visekanselierstoekennings te wees laat hom spesiaal voel, het Aiden Andrew Campbell van KwaZulu-Natal gesê. “Hierdie toekenning beteken vir my baie omdat dit wys dat my akademiese prestasies erken word. Nie elke universiteit erken akademiese vermoë op hierdie manier nie. Ek is dankbaar vir alles wat die US vir my gedoen het. En die belangrikste van alles is dat ek dankbaar teenoor God vir hierdie geleentheid is." Campbell het gesê sy eerste indrukke as ʼn mediese student was oorweldigend positief. “Die Tygerberg-kampus is pragtig en die mense is so verwelkomend, dit voel al soos huis."

     FOTO: Een van die ontvangers van die Visekanselierstoekennings, Tahseen Hansrod, saam met Prof Wim de Villiers. (Foto geneem deur Stefan Els.)​