Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe CIRCoRe-werkstroomhoof wil kategorisering en wetenskap by die US bevorder
Outeur: Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
Gepubliseer: 30/10/2023

​Phila Msimang, die inkomende hoof van die CIRCoRe-werkstroom vir Ras, Menslike Kategorisering en Wetenskap (RHCS), het onlangs met die Rektoraat vergader om die belangrikheid daarvan te bespreek om met belangrike wetenskaplike vrae in die gebruik van menslike kategoriserings in beleid en navorsing om te gaan.

Hierdie gesprekvoering namens die Komitee vir die Institusionele Reaksie op die Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe) is deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se voortgesette werk om die gebruik van ras en menslike kategorisering in sy eie beleide, navorsing en die praktyk te ondersoek.

Msimang, wat verbonde is aan die Departement Filosofie, sal die leierskap van die RHCS-werkstroom by prof Dion Forster oorneem, wat in November 'n akademiese pos in Nederland opneem. Prof Aslam Fataar, die hoof van CIRCoRe, het Forster geloof vir sy insiggewende, inklusiewe en doeltreffende leierskap van die werkstroom sedert die totstandkoming daarvan in Junie vanjaar. “Forster het 'n stewige grondslag vir die werkstroom se werk gelê," het hy gesê. Fataar is “opgewonde oor die wetenskaplike en vakkundigheid oor kategorisering wat Msimang na die werkstroom bring".

Wetenskaplike vrae

Msimang se voorlegging aan die Rektoraat het die punt gemaak dat die toepaslike gebruik van enige kategorie grootliks afhang van hoe so 'n kategorie verstaan word voordat dit toegepas word. Hy het die vraag oor die toepaslikheid van die gebruik van menslike kategorieë as 'n wetenskaplike vraag oor die samehang van die vrae wat ons vra en die geldigheid van ons konsepte, definisies en metodes geformuleer.

Msimang meen 'n bykomende stel vrae moet gekonfronteer word wat daarop van toepassing is om die toepaslike gebruik of voorbehoud van sulke kategorieë in beleid en wetenskap uit te werk. Hy het gesê hierdie soort wetenskaplike vrae vorm die kern van die werk van die RHCS-werkstroom.

“Die veelvlakkige aard van die kwessie wat ter sprake is, beteken dat selfs al sou ons gesonde wetenskaplike metodes van ondersoek ontwikkel, dit steeds saak maak watter vrae ons vra en afhang van ons idee van wat dit sou beteken vir enige spesifieke probleem wat opgelos moet word," het hy gesê. Ten einde hierdie punt deur middel van dissiplinespesifieke voorbeelde te illustreer, het Msimang verduidelik hoe verskillende maniere om die probleem van rassisme te karakteriseer, tot 'n verskil lei in wat as 'n bevredigende oplossing of ingryping vir spesifieke probleme beskou word.

Hy het volgehou dat fokus op 'n eng dimensie van 'n probleem daartoe kan lei dat ander dimensies oor die hoof gesien word wat selfs ten grondslag van verskeie manifestasies van die probleem kan lê. Hy het met betrekking tot rasse-ongelykhede en rassisme verduidelik hoe ons verder as net ingesteldhede en die gevolge van tussengroepse kontak na ander bemagtigende kenmerke vir ongewenste uitkomste moet kyk.

“Die tegniese probleem van die gebruik van ras en ander menslike kategoriserings in die wetenskap kan nie geskei word van die waardes wat rigting gee aan wetenskaplike werk  nie. Wetenskaplike werk word gemotiveer deur waardes van watter vrae as belangrik beskou word en watter probleme ons belangstel om op te los. Ongelukkig staan die poging om sosiale ongelykhede en onderwerping te regverdig, sentraal tot die gebruik van ras in die wetenskap. In dissiplines soos sielkunde en gedragsgenetika het 'n aansienlike hoeveelheid werk byvoorbeeld ten doel gehad om sosiale en politieke ongelykhede te naturaliseer," het hy gesê.

Selfs al sou die gemiddelde akademikus vandag hierdie soort waardes aan die kaak stel om hul eie navorsing te motiveer, het Msimang daarop gewys dat ons nie altyd besef dat ons tog baie van die foutiewe aannames geërf het wat rigting gegee het aan die maniere waarop wetenskap benader is nie, al keur ons dit deesdae af.

“Die hipoteses waarmee navorsers vorendag kom, die veronderstellings wat rigting gee aan eksperimentele ontwerp, watter vrae navorsers vra, die groepe wat hulle gebruik om vrae te assesseer, watter probleme hulle glo belangrik is, hoe hulle data versamel en interpreteer, ensovoorts dra baie van die rasse- en dikwels rassistiese vooroordele oor wat ons dalk nie vandag goedkeur nie," het hy gesê.

“Sommige wetenskaplikes is in hulle gebruik van groot data verras oor hoe sistematies en wydverspreid die probleem is toe hulle algoritmiese vooroordele ontdek het wat hulle nie bedoel het om in hulle werk te kodeer nie. Hierdie soort strukturele kenmerke van die navorsingsomgewing is een aspek wat die produksie van rasbevooroordeelde of rassistiese navorsing in staat stel om voort te duur. Hierdie kwessies is 'n uitdaging vir hoe navorsing in Suid-Afrika onderneem moet word. Die land, en die Universiteit Stellenbosch as instelling, het baie nalatenskapkwessies van kolonialisme en apartheid in hulle wetenskapsbeoefening wat hedendaagse wetenskaplike praktyke voed."

Akademiese leierskap

Msimang het beklemtoon dat die uitdagings wat die US in die gesig staar oor die gebruik van konsepte soos ras en etnisiteit, nie uniek aan die Universiteit is nie, maar in plaaslike en internasionale kontekste wat met die gebruik van menslike kategoriserings in die wetenskap verband hou, voorkom.

Hy het daarop gewys dat die totstandkoming van die RHCS-wekstroom by die US 'n eerste was in die vestiging van 'n wetenskaplike komitee om hierdie probleem regoor vakgebiede en beleidsake in die Suid-Afrikaanse konteks te ondersoek. Hy het gesê hy is nie bewus van enige soortgelyke institusionele onderneming oor die gebruik van menslike kategoriserings wat spesifiek op die Suid-Afrikaanse konteks en dinamika gerig is wat dieselfde omvang as die RHCS-wekstroom se opdrag het nie.

“Gegewe die wye omvang van CIRCoRe se werk en die verskille in konteks oor watter groepe en geskiedenisse sy werk moet aanspreek, sal dit die US in staat stel om akademiese leierskap op plaaslike en internasionale vlak te bied oor die gebruik van menslike kategoriserings in die wetenskap," het Msimang gesê.