Sistemiese volhoubaarheid: Oor ons

Die versterking van sistemiese volhoubaarheid is een van die strategiese prioriteite van die Universiteit Stellenbosch. Dit staan parallel met die verbreding van toegang, behoud van momentum van uitnemendheid, die bevordering van sosiale impak, die uitbreiding van internasionalisering, en die bevordering van sistemiese transformasie.

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het op 29 November 2010 die Universiteit tot volhoubaarheid verbind deur die Beleid vir die Geïntegreerde Bestuur van Volhoubaarheid goed te keur. (Laai die beleid hier af.)

Volhoubaarheid is die vermoë om in huidige lewensbehoeftes te voorsien, en om lewensgehalte te verbeter en te ontwikkel sonder ’n toename in die gebruik van materiaal en energie wat meer is as wat die huidige ondersteunende stelsels kan hanteer. Die ondersteunende stelsels kan ook sodanig hernuwe word dat toekomstige geslagte se vermoë om in hulle lewensbehoeftes te voorsien, en hul lewensgehalte te verhoog en te ontwikkel, nie benadeel word nie. 1Daar is dus ’n balans - wat oor meer as een geslag strek - tussen die natuur (ekologie), mense (gemeenskap of sosiale netwerke) en die ekonomie.

Wat die natuur betref, beteken dit vir die Universiteit dat ons sensitief moet wees vir die ekologiese voetspoor wat ons aktiwiteite (byvoorbeeld navorsing) en fasiliteite (byvoorbeeld geboue, proefplase en tuine) op die omgewing laat.

Maar volhoubaarheid beteken ook dat die impak van aktiwiteite op mense, die samelewing en die ekonomie in ag geneem moet word. Dit sluit aan by die wese van ’n universiteit aangesien ons kernfunksies van leer en onderrig, navorsing en sosiale impak op mense gerig is. Terselfdertyd moet finansiële bronne verantwoordelik en volhoubaar bestuur word, anders kan die Universiteit nie voortbestaan nie. Volhoubaarheid vorm dus ’n integrale deel van die wese van ’n universiteit.


1 Report of the World Commission on Environment and Development: Our Common Future, Transmitted to the General Assembly as an Annex to document A/42/427 - Development and International Co-operation: Environment  (http://www.un-documents.net/wced-ocf.htm)