ENGLISH    
HERSIENING VAN DIE TAALBELEID

Nuus uit die Taaltaakgroep

T-opsie net ’n onderdeel van US Taalbeleid (3 Junie 2006)

Die hersiening van die US se Taalbeleid is ‘n belangwekkende proses vir die breë universiteitsgemeenskap. In gesprekke en in onlangse mediaberigte word besondere klem geplaas op die sg. T-opsie, maar dit is duidelik dat daar onsekerheid bestaan oor wat die T-opsie werklik behels en dat dit slegs ‘n onderdeel van die US se Taalbeleid uitmaak, skryf prof Leon de Stadler, Direkteur van die US se Taalsentrum. Hy is ook tans Projekleier van die Taaltaakgroep. Lees meer... (aflaaibare .pdf)

 

Doelwitte en aflewerbares (11 Mei 2006)

Die doelwitte wat die Taaltaakgroep moet haal, word beskryf in die dokument Agtergrond, strukture en opdrag.
Hiervolgens moet die Taaltaakgroep die volgende aflewer:

  • ’n Hersiene Taalbeleid (indien dit nodig blyk te wees)
  • ’n Implementeringsplan
  • ’n Moniteringsplan
  • Voorstelle vir assessering en navorsing
  • ’n Meetinstrument vir taalteenwoordigheid
  • Voorstelle vir die bevordering van Afrikaans (Visie 2012, punt 5)
  • ’n Kommunikasieplan
  • ’n Begroting

Leon de Stadler
Projekleier


Projekplan: die tydskale (11 Mei 2006)

Die Taaltaakgroep doen hulle werk op grond van ’n goedgekeurde projekplan. Van die belangrikste datums in die projekplan word kortliks genoem:

  • ’n Hersiene taalbeleid sal in 2008 geïmplementeer word.
  • Die eerste rondte van konsultasie loop middel Mei ten einde.
  • ’n Konseptuele raamwerk vir ’n hersiene taalbeleid moet voorgelê word in Junie. Die Taaltaakgroep is tans besig met hierdie proses.
  • Die waardes en uitgangspunte van die Taaltaakgroep (kyk dokument) is teen einde Maart gefinaliseer en gesirkuleer vir kommentaar binne die Verwysingsgroep.
  • ’n Tweede rondte van konsultasie sal gehou word tot einde Julie.
  • Die hersiene taalbeleid word in sy finale vorm voorgelê aan die Senaat op 13 Oktober en daarna aan die Raad op 13 November.

Leon de Stadler
Projekleier


Konsultasie/Oorlegpleging (11 Mei 2006)

Die Taaltaakgroep nader op die oomblik die einde van die eerste rondte van konsultasie of oorlegpleging. Dit sluit voorleggings in wat ook van die breë publiek ontvang is. Tot op datum is ongeveer 45 voorleggings ontvang of gesprekke gevoer.

Die voorleggings, soos verwag kan word, dek die volle spektrum van sentimente oor die Taalbeleid –van voorstanders van ’n strenger Afrikaanse beleid met sterk beperkings op nie-Afrikaanstaliges tot voorstanders van ’n beleid van verengelsing.

Die Taakgroep is tans besig om hierdie voorleggings te bestudeer.

Die Taakgroep bly deurlopend in gesprek met liggame soos die Rektor se Bestuurspan, die Uitvoerende Komitee van die Senaat en die Senaat self.

Leon de Stadler
Projekleier


Wetenskaplikheid van die beleidvormingsproses (11 Mei 2006)

In die media word daar dikwels beskuldigend na die Universiteit verwys wanneer dit gaan oor die wetenskaplikheid van die beleidvormingsproses. Die Taaltaakgroep probeer op verskillende maniere verseker dat wetenskaplikheid verseker word:

  • Die Taaltaakgroep is deurlopend besig met hulle eie kritiese ondersoek en evaluering.
  • Die Taakgroep maak gebruik van verskillende adviseurs, ook van buite die US.
  • Die Taakgroep inisieer self ook ondersoeke. Daar is tans twee sulke ondersoeke aan die gang, nl. een oor houdings oor die huidige taalbeleid (’n gedeeltelike replikasie van ’n vorige ondersoek deur dr. Brenda Leibowitz en haar span) en ’n ondersoek oor “beste praktyke”in ’n meertalige klaskamer.
  • Die Taakgroep maak op verantwoordbare wyse gebruik van strategiese inligting wat van die Afdeling Institusionele Beplanning ontvang word.

Leon de Stadler
Projekleier

Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Universiteit Stellenbosch
Privaat Sak X1, Matieland, 7602, Suid-Afrika
Tel.: +27 21 808 9111