ENGLISH    
HERSIENING VAN DIE TAALBELEID

Hersiening van die US se Taalbeleid en -plan

Die volgende dokumente het betrekking op die hersiening van die Taalbeleid. Dit sluit onder andere die voorstel in van die Rektor se Bestuurspan, soos goedgekeur deur die Raad by die Raadsvergadering van 16 November 2007.

Tydens die laaste Raadsvergadering van 2005 het die Raad die Bestuur van die Universiteit versoek om die hersieningsproses te aktiveer en om alle insette in oorweging te neem. Die Raad het ook kennis geneem van die besorgdheid in verskeie kringe oor die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal.

Hersiening skop af

Prof Chris Brink (sien sy skrywe hier (.pdf), het personeel en studente op 6 Februarie 2006 ingelig dat hersieningsproses geaktiveer en dat 'n Taaltaakgroep aangestel is om die projek in 2006 te voltooi. In terme van struktuur word die proses in die lynfunksie van die Viserektor (Onderrig) hanteer aangesien taal aan die US as 'n akademiese saak beskou word. Prof Leon de Stadler, Direkteur van die Taalsentrum, is die projekleier. Prof Russel Botman is die projekeienaar en ook die Universiteit se Taalwoordvoerder.

Buiten die Taaltaakgroep is daar ook 'n groter Verwysingsgroep (.pdf) aangewys om insette van onder meer die statutêre liggame van die universiteit, die kampusgemeenskap, kenners van akademiese funksies en die publiek te akkommodeer. As een van die eerste stappe het die taakgroep 'n uitnodiging gerig aan individue en instansies om skriftelike voorleggings oor die US se Taalbeleid te maak teen 31 Maart 2006.

Huidige taaldebat

Die besluit van die Fakulteit Lettere in Mei 2005 om die sogenaamde T-opsie –die gebruik van Afrikaans en Engels as onderrigtaal - tot in die derde studiejaar uit te brei, het die taaldebat opnuut laat opvlam. Die Fakulteitsraad van Lettere het egter sy besluit eenparig herbevestig, waarna die Senaat in November besluit het om by Raad aan te beveel dat daar volstaan word met die aanbevelings oor taalspesifikasies soos wat dit gedien het. Dit het die Fakulteit Lettere se T-opsie-voorstelle ingesluit, maar alle fakulteite (buiten Krygskunde wat volgens 'n kontrak met die staat bestuur word) se taalspesifikasies is afsonderlik bespreek. Die Universiteitsraad het daarna op 15 Desember 2005 die Senaat se aanbevelings oor taalspesifikasies vir 2006 met 'n groot meerderheid aanvaar. Dit het onder meer die uitbreiding van die T-opsie na die derde studiejaar in die Fakulteit Lettere ingesluit.

Die Raad het by dié vergadering ook sy verbintenis tot die volhoubaarheid van Afrikaans as onderrigtaal herbevestig binne die konteks van die Strategiese Raamwerk en Visie 2012 van die universiteit. Met die oog hierop het die Raad die Bestuur spesifiek versoek om ook in die hersieningsproses terugvoering oor die implementering van die T-opsie in 2006 te bekom en die voortsetting van die T-opsie saam met ander moontlike benaderings te ondersoek. Die Bestuur is ook gevra om praktiese maatreëls voor te stel om Afrikaans as wetenskapstaal te bevorder.

Raadpleeg gereeld Nuus uit die Taaltaakgroep vir die jongste verwikkelinge en vordering met die proses.

 

Taalnuus

US Raad stem nié oor twee taalraamwerke

Die projek-eienaar van die taalbeleidshersieningsproses aan die US, Prof Russel Botman, sal by ontvangs van die afsonderlike konseptuele raamwerk vir die hersiening van die taalbeleid wat tans namens die Konvokasiebestuur onder leiding van prof Hermann Giliomee geformuleer word, besluit oor die verdere prosesmatige hantering daarvan. Die dokument sal na verwagting teen 1 September 2006 by hom ingehandig word.

T-opsie net ’n onderdeel van US Taalbeleid

Die hersiening van die US se Taalbeleid is ‘n belangwekkende proses vir die breë universiteitsgemeenskap. In gesprekke en in onlangse mediaberigte word besondere klem geplaas op die sg. T-opsie, maar dit is duidelik dat daar onsekerheid bestaan oor wat die T-opsie werklik behels en dat dit slegs ‘n onderdeel van die US se Taalbeleid uitmaak, skryf prof Leon de Stadler, Direkteur van die US se Taalsentrum. Hy is ook tans Projekleier van die Taaltaakgroep.

Doelwitte en aflewerbares

Wat moet die Taaltaakgroep alles voor die einde van 2006 voltooi om uitvoering te gee aan sy opdrag en doelwitte?

Projekplan: die tydskale

'n Hersiene taalbeleid, indien dit nodig blyk, sal in 2008 geïmplementeer word. Die tydskedule waarvolgens die Taaltaakgroep funksioneer word uiteengesit in 'n goedgekeurde projekplan.


 

Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Universiteit Stellenbosch
Privaat Sak X1, Matieland, 7602, Suid-Afrika
Tel.: +27 21 808 9111