ENGLISH    

HERSIENING VAN DIE TAALBELEID

Agtergrond, strukture en opdrag

Agtergrond

Die hersiening van die Taalbeleid en Taalplan van die Universiteit Stellenbosch word gereël deur die volgende bepaling in die Taalplan:

Bepaling 7.5:
“Die Taalbeleid en die Taalplan word elke drie jaar in deeglike oorweging geneem vir moontlike hersiening. Wysigings aan die Taalbeleid en Taalplan wat akademiese aangeleenthede betref, word via die Senaat na die Raad gevoer.”


Strukture

Die hersieningsproses word hanteer binne die lynfunksie van die Viserektor (Onderrig), prof. Russel Botman wat as die projekeienaar optree. Met die oog op die hantering van die hersieningsproses is ’n taakgroep saamgestel bestaande uit die volgende lede:


Prof. Leon de Stadler (Taalsentrum; projekleier)
Me. Lazelle Bonthuys (Steundienste)
Mnr. Kobus Ehlers (Studenteraad)
Dr. Brenda Leibowitz (SOL)
Dr. Barbara Pool (Projekbestuur)
Mnr. Mohamed Shaik (Bemarking & Kommunikasie)
Dr. Edna van Harte (Studentedekaan)
Prof. Anton van Niekerk (Taalkomitee)
Sekretariaat: Mee. Thanja Allison en Suzanne Ross


Hierdie taakgroep maak ook gebruik van ’n aantal kundiges op die gebied van taalbeplanning, waaronder prof. Vic Webb (Pretoria), prof. Theo du Plessis (Vrystaat) en verskeie kundiges op ons eie kampus.

Met die oog op konsultasie en oorlegpleging is daar ’n Verwysingsgroep saamgestel. Die projekeienaar en taakgroep word verder ondersteun deur ’n kalibrasiespan bestaande uit proff. Johann Groenewald, Tommie Park, Arnold Schoonwinkel, en dr. Gert Steyn. Hierdie kalibrasiespan help om voorstelle te kalibreer met inagneming van strategiese gegewens in bepaalde omgewings aan die US.


Die opdrag


Die taakgroep word versoek om oorweging te skenk aan die hersiening van die Taalbeleid en -plan, ’n taak wat uitgevoer moet word teen die agtergrond van bestaande besluite deur die Senaat en Raad rakende die beleid.
Die taakgroep word heel spesifiek gevra om aandag te gee aan die volgende sake:


1. ’n Deeglike oorlegplegingsproses.
2. Die waardes wat die Taalbeleid van die Universiteit moet rig.
3. Die opstel van ’n konseptuele raamwerk waarbinne die hersiening van die Taalbeleid uitgevoer moet word.
4. Die bepaling van die eenheid vir taalspesifikasies.
5. Die ontwikkeling van ’n meetinstrument vir taalteenwoordigheid (Hoe weet ons hoeveel Afrikaans word gebruik aan die US?).
6. Voorstelle vir verbeterde monitering en assessering van die Taalbeleid.
7. Voorstelle vir die uitlewing van Visie 2012, punt 5: Die bevordering van Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal. Die Taakgroep moet egter ook inisiatiewe ondersoek wat verder gaan as slegs die funksie van onderrig en wetenskap.
8. Die ontwikkeling van ’n kommunikasieplan oor taal.
9. Voorstelle oor die finansiering van die Taalbeleid.
Projekplan
Die Taakspan funksioneer volgens ’n goedgekeurde projekplan wat rekening hou met die finalisering van hulle take in November 2006.


L.G. de Stadler Projekleier

 

Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Universiteit Stellenbosch
Privaat Sak X1, Matieland, 7602, Suid-Afrika
Tel.: +27 21 808 9111