Die Universiteit Stellenbosch (US) word as een van die vier top-navorsingsuniversiteite in die land bestempel. Die US stel sy trots in die feit dat dit boonop een van ons land se voorkeurbestemmings vir nagraadse studente is, waarvan bykans 10% van buite Suid-Afrika kom.
Die US is in die prentjiemooi Jonkershoekvallei in die hart van die Wes-Kaapse wynland genestel. Die vroegste oorsprong van die Universiteit kan herlei word na die 17de eeu toe daar met gereelde onderwys in Stellenbosch begin is. In 1859 is die Teologiese Seminarium gestig en in 1866 die Stellenbosch Gimnasium. In 1881 het die “Arts Departement” van die Stellenbosch Gimnasium die Stellenbosch Kollege geword wat in 1887 die Victoria College geword het. In 1918, het die Victoria College ’n onafhanklike universiteit geword en het die Universiteit Stellenbosch sy deure vir sowat 500 studente en 39 dosente oopgemaak. Vandag is die Universiteit ’n internasionaal erkende instelling van uitnemendheid met meer as 24 000 studente, 800 dosente en sowat 50 navorsings- en diensliggame. Lees verder onder "Geskiedenis" oor hoe die Stellenbosch Gimnasium uiteindelik die Universiteit Stellenbosch geword het.
Die Universiteit het tien fakulteite waarvan agt – AgriWetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde, Ingenieurswese, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe, Teologie en die grootste deel van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe – op die hoofkampus in Stellenbosch geleë is. Tygerberg-kampus is die tuiste van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, terwyl die Bestuurskool en die Bestuurskool - Uitvoerende Ontwikkeling van die Bellville Park-kampus af funksioneer, en die kusdorp Saldanha as basis vir die Fakulteit Krygskunde dien.
Die US-kampusse is ʼn lewendige smeltkroes van kulture. Die menigte studente-organisasies wat op die vier kampusse aangetref word, maak vir ʼn wye reeks belangstellings, soos kultuur, politiek, godsdiens, geestelike sake en ontspanning, voorsiening. ʼn Aantal bekende en gevestigde studente-aktiwiteite, soos Karnaval, Vensters, Sêr en Trollies, dra by tot die eiesoortige ervaring van Matie-wees, soos Stellenbosse studente alom bekend staan.
Interessante bakens sluit in Victoriastraat met sy plataanbome wat as middelpunt dien vir die studentelewe en akademiese aktiwiteite, the Ou Hoofgebou wat in 1886 voltooi is, the JS Gericke Biblioteek wat ondergronds geleë is, die JS Maraisplein (ook genoem die Rooiplein) wat die naam dra van die Universiteit se oorspronklike finansiële weldoener, mnr Jannie Marais; ‘n moderne konservatorium wat ook die tuiste is van die internasionaal gerekende Universiteitskoor; en ’n volledig toegeruste teater, die HB Thomteater. The Langenhoven Studentesentrum (die Neelsie) huisves die Studenteraad, ’n inkopiesentrum en die kantore van die onderskeie studenteverenigings en die Universiteit se gemeenskapsradiostasie, MFM 92.6. |
|