ENGLISH    

Strategiese dokumente
Missie
Visie 2012
Waardes
Strategiese Raamwerk

Missie

Die bestaansdoel van die Universiteit van Stellenbosch is -
om in verbondenheid aan die universitêre ideaal van uitmuntende wetenskapbeoefening 'n omgewing te skep en vol te hou waarbinne kennis ontdek, gedeel en tot voordeel van die gemeenskap aangewend kan word.

(uittreksel uit die Strategiese Raamwerk)

Visie 2012

Met hierdie toekomsvisie verbind die Universiteit Stellenbosch hom tot ‘n uitwaartse rol binne Suid-Afrika, Afrika en globaal
Die Universiteit Stellenbosch:

  • Is ‘n uitnemende akademiese instelling en gerespekteerde kennisvennoot
  • Bou aan die wetenskaplike, tegnologiese en intellektuele kapasiteit van Afrika
  • Is ‘n aktiewe rolspeler in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse samelewing
  • Het ‘n kampuskultuur wat ‘n diversiteit van mense en idees verwelkom
  • Bevorder Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal in ‘n meertalige konteks

(uittreksel uit die Strategiese Raamwerk)


Waardes

  • Billikheid (Equity). Billikheid in die sin van, onder meer, die totstandbrenging van ’n korps van uitmuntende studente, dosente en administratiewe personeel wat demografies meer verteenwoordigend is van die Suid-Afrikaanse samelewing moet ten grondslag lê aan al ons aksies, waaronder regstelling van die ongelykhede van die verlede en ons herposisionering van die Universiteit vir die toekoms.
  • Deelnemendheid. Die mense wat wesenlik geraak word deur ons besluite, moet effektiewe inspraak in die neem van dié besluite hê.
  • Deursigtigheid. Ons moet ons besluite neem op grond van oorwegings wat duidelik is en bekend is.
  • Diensbaarheid. Ons moet, in alles wat ons doen, diensbaar wees aan die breë gemeenskappe van ons onmiddellike omgewing, van ons streek, van ons land, van ons vaste land en van die wêreld in die algemeen.
  • Verdraagsaamheid en onderlinge respek. Ons moet respek hê vir die verskille tussen persoonlike oortuigings, tussen sienswyses en tussen kulturele uitdrukkingsvorme. Ons moet strewe om ’n institusionele kultuur uit te bou wat verdraagsaamheid en respek jeens fundamentele menseregte in die hand werk en wat ’n gepaste omgewing vir onderrig, leer en navorsing skep.
  • Toewyding. Ons stel prys op toewyding aan werk en op die doelgerigte verwesenliking van selfgestelde oogmerke.
  • Wetenskaplikheid. Ons navorsing, onderrig, gemeenskapsdiens en bestuur moet gekenmerk word deur die soort objektiwiteit en kritiese denke wat eie is aan uitmuntende wetenskapsbeoefening.
  • Verantwoordelikheid. Ons poog om verantwoordelik te wees, sowel deur ernstig ag te slaan op die implikasies van optrede, as deur responsief te wees teenoor die behoeftes van die breër gemeenskap, van Suid-Afrika in sy geheel, van ons vasteland en van die wêreld in die algemeen.

Akademiese Vryheid. As ’n verantwoordbare openbare hoër onderwysinstelling,

(i) erken ons, op institusionele, fakultêre en departementele vlak, ons reg om in onderrig en leer, in navorsing en in gemeenskapsdiens ons akademiese vryheid op verantwoordelike wyse uit te oefen, en
(ii) verwerp ons onredelike beperkings van watter aard ook al op ons strewes.

(uittreksel uit die Strategiese Raamwerk)

Strategiese Raamwerk

U kan die Universiteit Stellenbosch se Strategiese Raamwerk aflaai deur op een van die volgende skakels te kliek.

Die Strategiese Raamwerk (Word 95 dokument)
Die Strategiese Raamwerk (Word 97 dokument)

Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Universiteit Stellenbosch
Privaat Sak X1, Matieland, 7602, Suid-Afrika
Tel.: +27 21 808 9111