ENGLISH    

Kanselier

Dr Johann Rupert is nuwe Kanselier van die US   Inhuldiging van Kanselier
   

Dr Johann Rupert, sakereus en entrepreneur by uitnemendheid, is deur ’n kieskollege van die Universiteit Stellenbosch (US) as die veertiende Kanselier van die US aangewys. Hy volg dr Frederik van Zyl Slabbert op wat vroeër in 2009 dié amp neergelę het.

Die Kanselier is die seremoniële hoof van die Universiteit en word volgens die Statuut van die Universiteit gekies. Die Kanselier ken onder meer grade in die naam van die Universiteit by gradeplegtighede toe, en vervul ander seremoniële pligte.

Dr Rupert bring sy vroeë jare in Stellenbosch deur as die oudste seun van die bekende sakereus dr Anton Rupert.

Dr Johann Rupert
 

Hy begin sy studies in die Ekonomie en Maatskappyereg aan die US, maar skort sy studies op om sy sakevernuf in New York te gaan slyp voordat hy in 1979 na Suid-Afrika terugkeer. In dieselfde jaar stig hy Rand Merchant Bank (RMB), asook die Kleinsake Ontwikkelingskorporasie – ’n instansie wat sedertdien sowat 500 000 werksgeleenthede in Suid-Afrika help skep het.

Rupert is verantwoordelik vir die stigting, samesmelting en herstrukturering van verskeie toonaangewende maatskappye. Hy dien in ’n bestuurshoedanigheid in ’n wye verskeidenheid instansies wat wissel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns tot die Daimler Chrysler Internasionale Adviesraad en Gold Fields Suid-Afrika. Nadat hy RMB en Rand Consolidated Investments saamsmelt, sluit hy in 1984 by die Rembrandt-groep aan, waar hy later ook die leisels as voorsitter oorneem. In 1988 stig hy die Switserse-gebaseerde luuksegoedere maatskappy Richemont, en in 2000 die waagkapitaal maatskappy Remgro en Venfin. Hy neem ook die eienaarskap oor van die wynlandgoed ‘LOrmarins van sy oorlede broer, Antonij, en ontwikkel dit ter ere van sy nagedagtenis.

Dr Rupert is die ontvanger van twee eredoktorsgrade. Die US ken in 2004 ’n eredoktorsgraad in die Ekonomie aan hom toe en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in 2008 ’n eredoktorsgraad in die Handel. Hy word ook vereer met die gesogte Wits Sakeskool se Toekenning vir Uitnemendheid in Bestuur in 2008. Rupert se uitmuntende sakeleierskap en visie het hom ook verskeie ander toekennings op internasionale en nasionale vlak besorg. Hy is onder meer drie keer as die Mees Invloedryke Leier in Suid-Afrika deur die voorste 100 gelyste maatskappye in Suid-Afrika aangewys; verkies tot Sakeleier van die Jaar deur die Sunday Times (twee keer); asook deur die Die Burger en die Kaapstadse Kamer van Koophandel, en uitgesonder as een van 200 internasionale leiers van die toekoms deur die Węreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland. Een van sy jongste toekennings is dié van Internasionale Wynentrepreneur van die Jaar, wat toegeken is in Dusseldorf, Duitsland.

As sportliefhebber en voormalige krieketspeler, was dr Rupert onder meer die medestigter van die Instituut vir Sportwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, en het hy gehelp met die totstandkoming van die Laureus Sport for Good Foundation – ’n instelling wat 65 projekte węreldwyd ondersteun en waarby veral minderbevoorregte kinders baat. Hy dien ook as voorsitter van die Suid-Afrikaanse PGA Tour en die Suid-Afrikaanse Gholfontwikkelingsraad.

Die kanselier beklee sy amp vir 'n termyn van vyf jaar, maar kan vir nog een ampstermyn herkies word.

Kontak:
Martie van der Linde
Tel: (021) 808 4896 of .

Inhuldiging van Kanselier, 18 Februarie 2010

 

Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Universiteit Stellenbosch
Privaat Sak X1, Matieland, 7602, Suid-Afrika
Tel.: +27 21 808 9111