Welcome
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Waardes, menseregte en protesaksie

​​Die Universiteit Stellenbosch (US) verwelkom oop gesprek, en wil 'n kultuur van waagmoedige debat op ons kampusse aanmoedig.  Interaksie en dialoog behoort in alle aspekte van die kampuslewe geïntegreer te word: in klasgesprekke, oor 'n koppie koffie in studentenawe (hubs), alle klusters en in leefareas. Studente moet krities kan dink oor die uitdagings en kwessies in die samelewing. Dit is hoe denkleierskap ontwikkel, 'n belangrike eienskap vir ons graduandi.

Protesaksie

Die US erken die reg van studente en personeel om aan protesaksie deel te neem, mits die akademiese en administratiewe aktwiteite van die instelling nie ontwrig word nie; studente, personeel en universiteitseiendom nie bedreig word nie; en dat daar nie inbreuk gemaak word op ander studente se toegang tot akademiese aktiwiteite of fasiliteite nie. Vandalisme, brandstigting, intimidasie en geweld word egter ten sterkste afgekeur en die US huiwer nie om teen enige persoon wat hom/haar skuldig maak aan onwettige en onaanvaarbare gedrag op te tree nie.

Buiten die US se eie aansoekprosesse vir studentebyeenkomste, versoekskrifte en protesoptogte op kampus, word sulke openbare geleenthede ook deur wetgewing gereguleer, en moet daar betyds by die plaaslike munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Polisiediens toestemming verkry word.


Meld kwessies of klagtes só aan

Massavergaderings of protesaksie lok mediadekking en vestig kortstondig die aandag op kwessies, maar dit lei nie tot volhoubare oplossings nie. Studente word daarom aangemoedig om via die verskillende interne prosesse en stelsels kwessies, klagtes of griewe aan te meld. In elke fakulteit is daar studenteverteenwoordigers van die Akademiese Belangeraad, en in die sosiale omgewing het die klusters en koshuise ook studenteleiers wat studente kan bystaan. Studente kan ook met die Afdeling Studentesake in verbinding tree by: studentesake@sun.ac.za

 Indien interne prosesse of stelsels nie 'n saak na wense oplos nie, kan studente die volgende aanmeldpunte benut:

Ombud:

Die US het 'n onafhanklike ombud wat aandag gee aan probleme en klagtes van studente, studente-ouers of personeel indien universiteitstrukture dit nie bevredigend kon oplos nie, of bestaande strukture ontoereikend bevind word.

Adv Rina Meyer : ombud@sun.ac.za

Kontaknommer: 0828072994 
Kantooradres:  Lutz Gebou,  Victoriastraat 11, Stellenbosch

Vir afsprake: Michelle Jooste by joostem@sun.ac.za

 

Etiekhulplyn:

Die US is al 'n hele paar jaar ingeteken op 'n onafhanklike etiek-rapporteringslyn vir die anonieme aanmelding van ongerymdhede. Die diens word onafhanklik deur Deloitte bestuur.

Tel:        0800 204 549 
Faks:     0800 007 788
E-pos:   sun@ethics-line.com
Web:     www.tip-offs.com 


Eenheid vir Gelykwaardigheid:

Voorvalle van onbillike diskriminasie, viktimisering, seksuele teistering en ander vorms van teistering kan by die Eenheid vir Gelykwaardigheid aangemeld word: unfair@sun.ac.za. Neem asseblief kennis van die Beleid oor Onbillike Diskriminasie en Teistering.

 

Dissiplinêre Kode vir Studente​

Toe jy die US se aansoekvorm onderteken het , het jy onderneem om jou van alle reëls, reglemente, beleide,  voorskrifte en die Dissiplinêre Kode vir Studente te vergewis. Indien jy van 'n  oortreding  aangekla word, kan jy dus nie onkunde as verweer gebruik nie.

Die Dissiplinêre Kode vir Studente bepaal dat 'n individu skuldig is aan wangedrag onder meer as hy/sy op onregmatige wyse inbreuk maak op ʼn ander persoon se fundamentele regte soos vervat in die Handves van Menseregte, hoofstuk 2 van die Grondwet, 1996, of strydig met enige ander landswette, reëls, reglemente of voorskrifte van die US optree. Dit sluit ook in haatspraak, seksuele teistering, viktimisering, gewelddadigheid of oproerigheid; onwelvoeglike of onbetaamlike gedrag; die geestelike vernedering van mede-studente of personeel en aanranding. Gebruik dus jou goeie oordeel en tree verantwoordelik op, veral ook wanneer jy die sosiale media gebruik. Neem asseblief kennis van die Universiteitskennisgewing oor die gebruik van sosiale media.

Hoewel wetgewing, beleide, riglyne en kodes nodig is om 'n ordelike samelewing te verseker, beywer die US hom daarvoor om deur gedeelde waardes 'n verwelkomende kampuskultuur te skep.