Welcome
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Onderrigtale by die Universiteit Stellenbosch

​​Die Universiteit Stellenbosch (US) is verbind tot die omgang met kennis in `n diverse samelewing en streef deur die Taalbeleid daarna om billike toegang tot die US uit te brei vir alle studente en personeel. Meertaligheid word as 'n belangrike onderskeidende kenmerk van die US bevorder. Afrikaans, Engels en isiXhosa word in akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste gebruik.

Bewerings in die Afrikaanse media dat die US voortaan uitsluitlik in Engels onderrig verskaf, is eenvoudig nie waar nie. In 'n onlangse hofaansoek om die 2016 Taalbeleid en die proses vir die hersiening van die beleid tersyde te stel, het die hof ten gunste van die US bevind dat die Taalbeleid nie ongrondwetlik is nie en ook nie die bedoeling het om Afrikaans as onderrigtaal uit te faseer nie. Meer inligting oor taaltoepassing by die US is beskikbaar op die webwerf by www.sun.ac.za/taal en in Taalbeleid bevorder inklusiewe meertaligheid aan die US​.

Taalbeleid

Die Universiteit Stellenbsoch het in 2016 'n nuwe Taalbeleid aanvaar. Hierdie beleid en die gekoppelde Taalimplementeringsplanne is reeds in 2017 geïmplementeer.​

Elke fakulteit stel sy eie Taalimplementeringsplan op. Die nuwe beleid en planne sal verseker dat 'n student wat òf nie Afrikaans òf nie Engels op 'n akademiese vlak magtig is nie, nie van die akademiese onderrig uitgesluit sal word nie.


Wat kan jy verwag?

Vir voorgraadse modules is Afrikaans en Engels die tale van leer en onderrig, wat gebruik sal word in 'n kombinasie van die volgende modusse:

  • gefasiliteerde leergeleenthede (lesings, tutoriale en praktika);
  • leerondersteuning deur middel van inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT), byvoorbeeld video- of klank-opnames (potgooi); en
  • intydse tolking gedurende sommige lesings.

Waar moontlik, sal daar vir groot klasgroepe afsonderlike lesings in Afrikaans en Engels aangebied word. In dieselfde module sal groepwerk, klasopdragte, tutoriale en praktiese sessies studente van albei taalgroepe betrek, juis om ter wille van openhartige debatvoering 'n diversiteit van idees en standpunte te kan stel.  

Waar Afrikaans én Engels in dieselfde lesing gebruik word, sal alle inligting ten minste in Engels oorgedra word, met 'n samevatting of beklemtoning ook in Afrikaans. Vrae word ten minste in die taal waarin dit gestel is, beantwoord. Intydse tolking in die eerste studiejaar is nog 'n moontlike vorm van ondersteuning waar dit prakties haalbaar is. Vir sommige sessies, soos praktiese veldwerk of rekenaargeletterdheid, sou tolking nie sinvol wees nie. In die tweede en daaropvolgende studiejare kan tolking op versoek van die fakulteit voorsien word.

Voorgraadse lesings mag moontlik net in een taal aangebied word waar die aard van die leerstof dit regverdig, die betrokke dosent slegs in een taal kan klas gee, of die klasgroep per stembrief eenparig vir een taal stem. Vir ten minste eerstejaarstudente sou intydse tolking na die 'ander' taal beskikbaar gestel kon word.

  1. Die taalmodus vir elk van jou akademiese modules sal in die betrokke moduleraamwerk en ook op jou fakulteit se webblad aangedui word. 


Só word jy ondersteun

Studente sal verder in Afrikaans én Engels ondersteun word deur konsultasies in kantoortyd; roetine-tutoriale en -praktika; inligtings- en kommunikasietegnologie ondersteunde leer (klank- en video-opnames); en die dienste van die Taalsentrum.

Alle verpligte leesstof sal in Engels voorsien word en, buiten gepubliseerde materiaal, ook in Afrikaans. Die US se moduleraamwerke en -studiegidse sal steeds in Engels én Afrikaans beskikbaar wees. In voorgraadse modules word vraestelle vir toetse, eksamens en ander assesserings in Afrikaans én Engels opgestel, en kan studente alle assesserings en geskrewe werk in Afrikaans of Engels voltooi. Die meertalige model ondersteun Afrikaanse studente wat in hul eerste studiejaar nog nie Engels op 'n akademiese vlak bemeester het nie. Danksy dié akademiese ondersteuning behoort studente teen hul finale studiejaar nasionaal en internasionaal te kan meedoen.

 

Jou terugvoer kan ander help  om suksesvol te studeer

Die Taalbeleid het nie ideologiese motiewe nie. Dit verleen nie 'n bepaalde status aan enige van Suid-Afrika se landstale nie; en die taalverdeling word ook nie deur die persentasie lesingtyd per taal gereguleer nie. Die US is van mening dat meertaligheid vir enige gegradueerde 'n addisionele bate is. Die oogmerk is wel om op praktiese wyse die onderrigtale so toe te pas dat niemand van kennis uitgesluit sal word nie; dat een taal nie op studente afgedwing word nie; en dat studente aangemoedig word om addisionele tale aan te leer.

Die implimentering van meertaligheid is kompleks en daar is nie 'n universele kitsresep om te volg nie. Die taalvaardigheid van 'n betrokke groep studente is die grootste veranderlike – dit wissel van module tot module en van jaar tot jaar. Daarom moet taaltoepassing buigbaar wees om by studente se veranderende behoeftes te kan pas.  Terugvoering aan dosente is belangrik. Deel voorbeelde van suksesvolle taalimplementering met mekaar en maak asseblief voorstelle ter verbetering in 'n positiewe en behulpsame gesindheid.  

Waar studente van mening is dat hul studiesukses benadeel word, of dat hulle van die akademiese aanbod uitgesluit word op grond van die onderrigtaal, kan die kwessie binne die department en fakulteit aangemeld word, of ook via die fakulteit se verteenwoordigers in die Akademiese Belangeraad wat onder die vaandel van die Studenteraad funksioneer. As die interne prosesse nie 'n bevredigende oplossing bied nie, kan studente ook die universiteitsombud (ombud@sun.ac.za) nader.