Telematiese Dienste, as deel van die Sentrum vir Leertegnologieë, verhoog die virtuele mobiliteit van geografies verspreide studente om hulle deelname aan die Universiteit van Stellenbosch se akademiese aanbod te verbreed, spesifiek diegene wat 'n professionele beroep met verdere nagraadse studie wil kombineer om hulle potensiaal te maksimeer. Hierdie soepel leerstrategie maak staat op 'n unieke tegnologieplatform wat satelliet-, mobiele, webgebaseerde en videokonferensietegnologieë integreer. Deur die verhoging van die studente se virtuele mobiliteit vervaag die tradisionele skeiding tussen kontakonderrig en onderwysgeleenthede weg van die kampus, terwyl die beperkinge wat dikwels deur plek en tyd gestel word, verminder word.