​​​

DokumentASIE vir registrasie ​

As jy op die Stellenbosch-kampus by wyse van persoonlike registrasie inskryf, moet jy binne jou fakulteit se toegedeelde tydgleuf aanmeld met die volgende oorspronklike dokumente byderhand: 

  1. uitslagadvies van die NSS- of IEB- finale skooleindeksamen vir 2020;
  2. as jy 'n NSS- of IEB-kandidaat is wat in 2019 of vroeër gematrikuleer het: jou Nasionale Senior Sertifikaat;
  3. as jy uit 'n internasionale skoolstelsel kom: jou skooleindsertifikaat/-sertifikate en jou sertifikaat van universiteitsvrystelling soos deur die SA Matrikulasieraad uitgereik;
  4. as jy aan 'n ander universiteit gestudeer het: die dokument(e) wat by b of c hier bo genoem word, asook 'n oorspronklike of gewaarmerkte studierekord en sertifikaat van bevredigende gedrag wat deur die betrokke universiteit uitgereik is;
  5. as jy nie 'n Suid-Afrikaanse burger is nie, moet jy die volgende bykomende ondersteunende dokumente elektronies na intpreregistration@sun.ac.za instuur, met jou studentenommer op elke afsonderlike dokument aangebring, sodat jy voorafgoedkeuring vir registrasie kan kry:
  • 'n gewaarmerkte afskrif van jou paspoort wat nog nie verstryk het nie;
  • 'n gewaarmerkte afskrif van jou studievisum of bewys van permanente verblyfreg in Suid-Afrika wat nog nie verstryk het nie;
  • bewys van lidmaatskap van 'n Suid-Afrikaanse mediese fonds (vir studievisumhouers); en
  • bewys van betaling (studiebeurse/-toekennings moet deur ons afdeling US Internasionaal se finansiële administrateurs bevestig word). 

Let op:

As van jou dokumente nog kortkom en jy wil aanlyn of per e-pos registreer, mag jy gewaarmerkte afskrifte van daardie dokumente elektronies na jou spesifieke fakulteitsadministrateur of -beampte aanstuur. Die kontakbesonderhede vir die onderskeie fakulteite verskyn hier onder. 

As jy 'n nagraadse student met 'n internasionale kwalifikasie is en nog sommige dokumente kortkom, mag jy gewaarmerkte afskrifte van daardie dokumente elektronies na postgraduate@sun.ac.za stuur. Onthou om jou studentenommer op alle dokumente aan te bring. 

Weens die uitwerking van die Covid-pandemie en die laat vrystelling van eksamenuitslae deur sommige instellings, mag die US wel 'n toegewing maak as jy 'n nuweling- nagraadse student is wat voorgraads aan 'n ander Suid-Afrikaanse universiteit gestudeer het en jy kan nie betyds jou finale akademiese rekord of graadsertifikaat bekom om vir jou nagraadse program aan die US te registreer nie. Ons sal so 'n toegewing oorweeg slegs as die ander universiteit 'n amptelike verklaring of kennisgewing uitreik wat aan die volgende vereistes voldoen: 

  1. Moet onder 'n amptelike institusionele briefhoof verskyn.
  2. Moet jou volledige persoonlike besonderhede bevat.
  3. Moet die besonderhede verskaf van die program wat jy daar afgehandel het, onder meer jou uitslae en die naam van die kwalifikasie wat jy gaan ontvang.
  4. Moet verduidelik hoekom die uitslae of sertifikaat nog nie uitgereik kon word nie, en 'n aanduiding gee van wanneer die finale dokument beskikbaar sal wees.
  5. Moet die besonderhede, handtekening en kontakbesonderhede bevat van die persoon onder wie se naam die verklaring uitgereik is. 

As jy in een van bogenoemde kategorie val, moet jy jou amptelike dokumente voor 30 Julie 2021 indien. As jy dit nie verskaf nie, mag jou registrasie gekanselleer word. 

Klik asseblief HIER vir registrasiereëlings spesifiek vir die Tygerberg-kampus. 

Eerstejaar- Voorgraadse Studente met Internasionale Kwalifikasies 

Buitelandse burgers met internasionale kwalifikasies

  • As jy 'n internasionale voorgraadse eerstejaar is, hoef jy nie aansoek te doen vir jou matrikulasievrystellingsertifikaat voordat jy vir die akademiese jaar 2021 inskryf nie.
  • Jy moet wel seker maak dat jy aan die vrystellingsvereistes voldoen deur 'n gewaarmerkte afskrif van jou finale uitslae na me Carmelita Talmarkes by suiundergrads@sun.ac.za te stuur sodat ons die voorafproses vir jou registrasie kan afhandel.
  • Ons sal jou 'n e-pos stuur wat bevestig dat jy aan die vrystellingsvereistes voldoen. 

Suid-Afrikaners met buitelandse skoolkwalifikasies

  • Jy hoef nie voorafgoedkeuring vir registrasie te kry nie.
  • Jy moet wel 'n gesertifiseerde afskrif van die oorspronklike dokument met jou finale uitslae aan me Chantal Grove-Le Guillou stuur by chantalg@sun.ac.za

Voorafgoedkeuring vir registrasie (verifikasie van dokumente)

  • As jy 'n internasionale student is, moet jy gewaarmerkte afskrifte van die ondersteunende dokumentasie wat hier onder gelys word aan ons voorlê vir voorafgoedkeuring vir registrasie. Daarna mag jy eers vir jou akademiese program inskryf.
  • E-pos die vereisde dokumente na die volgende e-posadres en gebruik jou VAN en US-STUDENTENOMMER as verwysing.

Vereisde dokumente:

  • 'n betalingsbewys van die minimum VERPLIGTE EERSTE BETALING of 'n studiebeursbrief wat dit dek;
  • 'n gewaarmerkte afskrif van jou paspoort wat nog nie verstryk het nie;
  • 'n gewaarmerkte afskrif van jou studievisum wat uitgereik is om aan die US te studeer en wat nog nie verstryk het nie, of bewys van permanente verblyfreg of vlugtelingstatus of asielsoekerstatus; en
  • 'n bewys van geldige Suid-Afrikaanse mediese versekering.

Belangrik:

  • ​​Ons sal jou 'n e-pos stuur wat bevestig dat jou voorafgoedkeuring vir registrasie afgehandel is. Eers daarna kan jy die selfregistrasieproses vir jou akademiese program begin. Laat ten minste drie werksdae toe vir hierdie e-pos om jou te bereik.
  • As jy 'n internasionale voorgraadse eerstejaar is wat 'n graad aan die US wil verwerf, moet jy dieselfde verwelkomingsprogram as die Suid-Afrikaanse studente deurloop.