pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​SENTRUM VIR BIOINFORMATIKA EN BEREKENINGSBIOLOGIE​​

Bioinformatika is die gebruik van rekenaars om biologiese data te ontleed en te stoor, en omvat dus die terreine van molekulêre lewenswetenskappe, rekenaarwetenskap, statistiek en wiskunde. Dit is deesdae sowel bekostig- as haalbaar om die volle genoomvolgorde van ’n enkele organisme óf die volgordes van ’n komplekse populasie organismes te bepaal, die vlak en chemiese aanpassings van alle proteïene in ’n sel te meet, of die vorm te voorspel van klein molekules wat met die aktiewe terrein van ’n ensiem kan bind. Ons leef in die era van verpersoonlikte geneeskunde, die herprogrammering van selle, genoomredigering, ontwerpte evolusie en sintetiese lewe. Hierdie aktiwiteite behels die skepping en ontleding van enorme hoeveelhede data, en die interdissiplinêre terrein van bioinformatika maak dít moontlik​.

SUBTERREINE OP DIE VAKGEBIED BIOINFORMATIKA SLUIT DIE VOLGENDE IN -

VOLGORDE-ONTLEDING

Hierdie subterrein is waar genome ontleed en vergelyk, die evolusiepatrone en -reëls van genome uitgepluis en proteïenverhoudings bestudeer word. Dit behels ook die ontleding van genome in populasies, die identifisering van enkelnukleotied-polimorfismes (SNP’s), en die verband tussen SNP’s en menslike siekte of farmaseutiese doeltreffendheid op individuele vlak. Verbandhoudende ontledings is boonop belangrik vir hedendaagse landbou. 

STRUKTURELE BIOINFORMATIKA

Behels die ontleding en voorspelling van die makromolekulêre strukture van RNS of proteïene, die samestelling van chromatien, en die vorming van funksionele domeine in ’n selkern. Onlangse suksesse met die akkurate voorspelling van die driedimensionele struktuur van proteïene uitsluitlik op grond van aminosuurvolgorde maak dit nou ook moontlik om pasgemaakte proteïene te sintetiseer. Sodoende kan ons ensieme ontwerp wat nié van nature voorkom nie, om nuwe chemiese reaksies te kataliseer. 

DATABASISONTWERP

Beoog om hulpbronne te voorsien wat bioloë nodig het om groot, moontlik komplekse, onderling verwante biologiese datastelle te gebruik. 

ALGORITME- EN INSTRUMENTONTWIKKELING

Die ontwikkeling van doeltreffende metodes om spesifieke take te verrig, en die kodering van programme wat die instrumente vir daardie take sowel as vir toekomstige nuwe toepassings voorsien.

​Nagraadse Kwalifikasies​​
 HONNEURSGRADE  MAGISTERGRADE  ​DOKTORALE​GRADE
Aansoekproses