Studievisum voor aankoms
Internasionale studente moet oor ’n geldige studievisum beskik om aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer. Die US mag nie ’n student sonder ’n geldige tydelike verblyfvisum registreer nie. Jy sal as deel van jou visumaansoek ’n mediese sertifikaat en ’n radiologieverslag moet indien, sowel as enige ander dokumente wat versoek kan word (raadpleeg jou naaste Suid-Afrikaanse ambassade of hoë kommissariaat). Daarbenewens sal jy bewys moet lewer van mediese dekking wat in Suid-Afrika erken word, van ’n verskaffer wat ingevolge die Wet op Mediese Skemas, 1998, by die Suid-Afrikaanse Raad vir Mediese Skemas geregistreer is.
BELANGRIK: Let asseblief daarop dat dit etlike weke kan duur om ’n visum te kry, hoewel dit in elke land verskil. Begin daarom met jou visumaansoek deur te bepaal watter stawende dokumente jy sal nodig kry, want party dokumente is tydrowend om aan te vra. Sorg ook asseblief dat jy ’n volledige visumaansoek indien. Die inligting wat hier voorsien word, dien slegs as ’n riglyn. Vereistes vir ’n Suid-Afrikaanse visum is onderworpe aan verandering, en elke aansoek word as ’n individuele geval hanteer. Doen altyd eers navraag by jou naaste Suid-Afrikaanse ambassade of hoë kommissariaat voordat jy na Suid-Afrika reis.
Fooie vir voorgraadse internasionale studente met ’n studievisum wat vir ’n volledige graadprogram wil inskryf, is soos volg:
Dieselfde klasgeld as vir ’n Suid-Afrikaanse burger + ’n internasionale registrasiefooi (SAOG-burgers én nie-SAOG-burgers) + ’n internasionale onderrigfooi (Afrikaan van buite SAOG, en alle ander nie-SAOG-burgers) + ’n diensfooi (soos vir drukwerk, fotokopiëring, materiaal, notas, laboratoriumfooie, ensovoorts)
’n Verpligte minimum fooi is met óf voor registrasie betaalbaar vir onderrig en (in geval van universiteitsverblyf) vir huisvesting en etes, en die res is betaalbaar teen Mei van die akademiese jaar waarvoor jy geregistreer is.
Die houer van ’n studievisum mag hoogstens 20 uur per week se deeltydse werk verrig.
Persone met permanente verblyfreg in Suid-Afrika
Aansoeke om permanente verblyfreg in Suid-Afrika word ingevolge artikel 26 (direkte verblyfpermitte) en artikel 27 (permitte vir verblyfreg op ander gronde) van die Immigrasiewet van 2002 (Wet 13 van 2002) oorweeg, in samehang met regulasie 33 van die Immigrasieregulasies. Wat die verlening van permanente verblyfpermitte betref, word daar voorkeur gegee aan immigrante wat ’n sinvolle bydrae kan lewer om die Suid-Afrikaanse ekonomiese basis te verbreed.
Persone met permanente verblyfreg in Suid-Afrika moet oor ’n geldige Suid-Afrikaanse ID-boek of permanente verblyfsertifikaat beskik.
’n Asielsoeker kom die Republiek van Suid-Afrika binne deur ’n erkende hawe van binnekoms (’n grenspos op land, ’n lughawe of skeepshawe), maak aanspraak op asiel, en ontvang gevolglik ’n artikel 23-permit – ’n nie-hernubare “asieldeurgangspermit” – kragtens die Immigrasiewet.
Die permit geld vir slegs 14 dae en magtig die persoon om by die naaste vlugtelingontvangskantoor aan te meld om ingevolge artikel 21 van die Wet op Vlugtelinge om asiel aansoek te doen.
Klik hier vir verdere inligting oor asielsoekers.
Fooie vir voorgraadse internasionale studente met ’n asielsoekerspermit wat vir ’n volledige graadprogram wil inskryf, is soos volg:
Dieselfde klasgeld as vir ’n Suid-Afrikaanse burger + ’n internasionale registrasiefooi (SAOG-burgers én nie-SAOG-burgers) + ’n internasionale onderrigfooi (Afrikaan van buite SAOG, en alle ander nie-SAOG-burgers) + ’n diensfooi (soos vir drukwerk, fotokopiëring, materiaal, notas, laboratoriumfooie, ensovoorts)
Studente sal die volgende dokumente vir voorregistrasie moet indien:
Bewys van geldige paspoort (gewaarmerk)
Bewys van geldige studievisum om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer/bewys van permanente verblyfreg in Suid-Afrika/bewys van vlugtelingstatus/bewys van asielsoekerstatus (gewaarmerk)
Bewys van Suid-Afrikaanse mediese dekking (https://www.medicalschemes.com/medicalschemes.aspx)
Betaalbewys van verpligte minimum aanvangsfooi, of beursbrief
Let asseblief daarop dat studente bogenoemde gewaarmerkte dokumente by voorregistrasie moet indien.
Registrasie vir jou akademiese program vind ná voorregistrasie plaas.
Ondersteuning met voorgraadse internasionale inskrywings
Kontak Carmelita Talmarkes (ctalmarkes@sun.ac.za) indien jy hulp nodig het met voorgraadse internasionale inskrywing.
Kontaknommer: +27 (0)21 808 2910
Ondersteuning met die inskrywing van voorgraadse Suid-Afrikaanse burgers met internasionale skoling
Kontak Chantal Grové-le Guillou (chantalg@sun.ac.za) indien jy ’n Suid-Afrikaanse burger met internasionale skoling is wat hulp nodig het met voorgraadse inskrywing.
Kontaknommer: +27 (0)21 808 9768
Immigrasie en mediese dekking
Die Suid-Afrikaanse departement van binnelandse sake vereis ’n bewys van mediese dekking wat ingevolge die Wet op Mediese Skemas van 1998 by die Suid-Afrikaanse Raad op Mediese Skemas geregistreer is.
- Bewys van lidmaatskap word vereis voordat jy by die Universiteit Stellenbosch kan registreer.
- Studente word aangeraai om die lys mediese dekkingsopsies op die volgende webtuiste te bestudeer: www.sun.ac.za/international. Kontak Grant Leukes (immigration@sun.ac.za) indien jy enige verdere inligting of hulp nodig het met mediese dekking en/of vir immigrasienavrae.
Kontaknommer: +27 (0)21 808 4628
Kontaknommer: +27 (0)21 808 4702
Vir inligting oor die Universiteit Stellenbosch se vervoerdiens vir wanneer jy in die land aankom, vul ’n aanlyn vlugaankomsvorm in by www.sun.ac.za/international.
Kontaknommer: +27 (0)21 808 2566