Centre for Teaching & Learning
Welkom by Universiteit Stellenbosch

O&L Seminare


Daar word elke kwartaal 'n Onderrig- en Leerseminaar deur die Viserektor (Leer en Onderrig), prof Arnold Schoonwinkel aangebied.  Die doel van die seminare is om die akademieskap van onderrig en leer te bevorder.  Tydens hierdie sessies deel onderrigkampioene hulle navorsing, innovasies en ervarings oor onderrig en leer met kollegas. 

 

Datum​Podgooi​Inligting oor die seminaar

9 Mei 2019

 


 

Onderwerp: Die gebruik van Outonomie-roetes om aktiewe onderrigmetodes in voorgraadse Fisiologie-klasse te vergelyk

Aanbieder: Faadiel Essop

​Reklameteks:

Voorgraadse Fisiologie studente worstel met groot hoeveelhede inhoud en is dus geneig om meestal op die memoriseer van feite te fokus ten einde toetse en eksamens te slaag. Studente sukkel ook om te verstaan ​​hoe verskillende orgaanstelsels kommunikeer en / of geïntegreer word binne die hele organisme. Daar is reeds geargumenteer dat wetenskapsonderwysers meer tyd moet bestee aan hoe wetenskaplikes wetenskap doen, dit wil sê die proses van wetenskap, en minder op die akademiese inhoud. Onlangs is vier breë tipes aktiewe leerintervensies vir voorgraadse Fisiologie klasse voorgestel: a) die stel van vrae (aan die begin of einde van lesings); b) die aanmoediging van denkpaar-deelaktiwiteite; c) die gebruik van veelvuldige analogieë; en d) bekendstelling aan probleemoplossingsaktiwiteite. Dit is egter moeilik om die effektiwiteit van sulke metodologieë te vergelyk ten einde te identifiseer watter die geskikste is om binne die klaskamer te gebruik. In die aanbieding sal geselekteerde voorbeelde van Fisiologie-klasaktiwiteite, wat aan die US ontwikkel is en daarop gerig is om kritiese denk- en probleemoplossingsvaardighede te bevorder, ondersoek word met behulp van die Outonomie (Autonomy) dimensie van die Legitimasie Kode Teorie (Legitimation Code Theory). Die assessering van aktiewe leertegnieke deur die lens van outonomie kan help om die vermeende waarde en effektiwiteit van elke onderskeie metode, ten opsigte van die bevordering van 'n probleemoplossingskultuur, binne Fisiologie voorgraadse klaskamers te bepaal.

Die resultate van hierdie studie kan ook van nut wees in ander kontekste waar problem oplossing en kritise denkvaardighede belangrik is.

Essop T L Enhancement Seminar PDF version.pdf

13 Maart 2019
 

Titel:  ‘n Ondersoek na e-Portefeuljes vir nagraadse leer: ‘n Boodskap vanaf Geneeskunde and Gesondheidswetenskappe
Aanbieder:  Mariëtte Volschenk

Die gebruik van portefeuljes in hoër onderrig as hulpmiddels om transformerende leerervarings te bevorder, word in die literatuur ondersteun. Portefeuljes het die potensiaal om leerders se bewustheid van hulself te ontwikkel, self-gedrewe leer te bevorder, kritiese refleksie aan te moedig en persoonlike en professionele ontwikkeling aan te help. Met die huidige vooruitgang in digitale tegnologieë word die gebruik van elektroniese portefeuljes (e-Portefeuljes) tans wyd ondersoek. 'nLongitudinale e-Portefeulje module, wat van die Mahara ePortefeulje-platform op SUNLearn gebruik maak, is vir die MPhil in Gesondheidswetenskappe Onderrig program by die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, ontwikkel.

Die doel van hierdie sessie is om te demonstreer hoe die verskeie fasette van die e-portefeulje leerproses studente se interaksies met hul ontwikkelende onderwys filosofieë ondersteun en bydra tot hul ontwikkeling as opvoedkundige vakkundiges en leiers in Gesondheidsberoepe Onderrig. Daarbenewens sal uitdagings, slaggate en studentervarings van die intervensie bespreek word.

​8 November 2018

 
Onderwerp: Tegnologie en Leer – om op die skouers van reuse te staan
Spreker:  Martin Butler (USB)

 

Tegnologie vorm ons leeromgewings en -prosesse voortdurend. In 2015 het die Universiteit Stellenbosch Besigheidskool (USB) 'n nagraadse diploma deur middel van gemengde leer aangebied en in 2017 die gemengdeleermodus na sy vlagskip-MBA-program uitgebrei. Al twee programme, met inbegrip van die vorige voltydse en deeltydse leweringsmetodes, gebruik tegnologie vir onderrig en leer.

Sentraal tot die sukses van al twee programme, en spesifiek die nuwe leweringsmodus, was die doeltreffende gebruik van verskeie nuwe tegnologieë deur studente, steundienspersoneel en fakulteite. Die oorgang na hierdie tegnologie-intrinsieke omgewing het die beplanning en uitvoering van meervoudige intervensies genoodsaak om te verseker die fokus bly op studenteleer en verskuif nie na die “verleidelikheid" van die tegnologie nie. Daarbenewens was dit 'n groot uitdaging om fakulteite met meer as 20 jaar se klaskamerervaring sover te kry om die nuwe leeromgewings en interaksiemetodes te omhels.

Teoretiese modelle van sowel inligtingstelsels as innovasiedissiplines was noodsaaklik vir hierdie intervensies en die deurlopende bestuur van die programme. Deur die toepassing van die sosiotegniese perspektief (Bostrom & Heinen, 1977), tegnologieaanvaardingsmodel (Davies, 1989), inligtingstelselsukses (Delone & McLean, 1992) en innovasiediffusieteorie (Rodgers, 1976) is 'n wetenskaplike benadering tot die inbedding van die tegnologie in die onderrig- en leerproses gevolg.

Hierdie aanbieding fokus op die sleutel- teoretiese perspektiewe, die toepassing daarvan deur die USB, sowel as waardevolle lesse wat in die proses geleer is.

Verwysings

Bostrom, R.P. en Heinen, J.S. 1977. MIS problems and failures: a socio-technical perspective, part II: the application of socio-technical theory. MIS quarterly, pp 11-28.

DeLone, W.H. en McLean, E.R. 1992. Information Systems Success: The Quest for the Dependent Variable. Information Systems Research, pp 60-95.

Davis, F.D. 1989. Perceived usefulness, perceived ease of use, and user acceptance of information technology. MIS quarterly, pp 319-340.

Rogers, E.M. 1976. New product adoption and diffusion. Journal of consumer Research, pp 290-301.

​6 September 2018
 

Dekolonisering van die Wetenskapkurrikulum: kan “Legitimation Code Theory" 'n pad vorentoe wys?
Aanbieder:  Dr Hanelie Adendorff

Die gesprek rondom die dekolonisering van hoëronderwyskurrikula het Suid-Afrika soos 'n storm getref met die #RhodesMustFall- en daaropvolgende #FeesMustFall-veldtogte. Voorheen was gesprekke oor dekolonisering, wanneer hulle enigsins by hoëronderwysinstellings plaasgevind het, beperk tot klein areas van belang. Terwyl die teenwoordigheid en invloed van die Westerse ideologie in kurrikula in die geestes- en sosiale wetenskappe redelik herkenbaar is, is die dekolonisering van wetenskapkurrikula meestal 'n veel minder voor die hand liggende projek. Die studie waaroor hierdie aanbieding verslag sal doen, het Legitimation Code Theory (LCT) gebruik om te besin oor wat in dekoloniseringgesprekke op die spel is. Resultate van die studie sal potensieel help om 'n raamwerk te verskaf wat personeel en studente sou kon gebruik in gesprekke oor en pogings tot die dekolonisering van wetenskapkurrikula.

LCT bied 'n wyse om die beginsels of spelreëls onderliggend aan verskillende kennispraktyke te konseptualiseer (Maton, 2012). Dit is in hierdie projek gebruik om die beginsels onderliggend aan die kennispraktyke in die gesprek oor die dekolonisering van wetenskapkurrikula te onthul. Die aanbieding sal begin deur te fokus op die manier waarop die gesprek in sosialemediasirkels en 'n paar wetenskaplike domeine ontwikkel het. Die bevindings van hierdie gedeelte van die studie dui daarop dat sommige van die driftige argumente in dekoloniseringgesprekke beskou kan word as “kodebotsings" volgens dít wat as legitieme kennis gesien word deur diegene wat argumenteer vir dekolonisering en die dominante praktyke op die gebied van die wetenskap.

Die vraag word dus: kan die wetenskap gekoloniseer word, en indien wel, hoe? Ten einde hierdie vraag aan te spreek, is LCT gebruik om 'n aantal dekoloniseringvoorbeelde te ondersoek, insluitend drie scenario's vir 'n gedekoloniseerde ingenieurskurrikulum, soos voorgestel deur Winberg & Winberg (2017). Die resultate van hierdie deel van die studie help verklaar (1) die begunstigde scenario in die Winberg & Winberg studie asook (2) waarom sommige pogings tot dekolonisering nie noodwendig as sodanig ervaar word nie.

 Verwysings:

Maton, K. (2014) Knowledge and Knowers: towards a realist sociology of education. London, Routledge.

Maton, K. (2016) Bringing It All Back Home: The art of building knowledge from diverse sources. https://www.youtube.com/watch?v=GrdCPvrcWNk&t=836s .

Winberg, C. & Winberg, S. (2017) Using a social justice approach to decolonize an engineering curriculum, IEEE Global Engineering Education Conference (EDUCON), 25-28 April 2017, Athens, Greece, pp 248 – 254.

​13 Junie 2018
 
MobiLex, meertaligheid en integrasie in leer en onderrrig

Dr. Michele van der Merwe en Dr. Nina Müller van Velden 

Mobiele toestelle is 'n wêreldwye fenomeen wat nuwe geleenthede vir leer en onderrig bied. 'n Vak-spesifieke elektroniese woordeboek, MobiLex, is deur akademiese spesialiste van die Fakulteit van Opvoedkunde saamgestel. Dit het onlangs gelei tot die ontwikkeling van 'n mobiele toepassing. Soos belyn met die universiteit se raamwerk vir meertaligheid, is MobiLex drietalig deur voorsiening te maak vir Afrikaans, Engels en isiXhosa.

Deur die belyning van MobiLex se doel, struktuur, funksie en teikengroep, is die doel van die seminaar om die integrasie van MobiLex in 'n meertalige universiteit se leer en onderrig omgewing te ondersoek. Dit sal gedoen word deur spesifieke verwysing na die ontwerp van 'n taakgebaseerde aktiwiteit vir Sosiale Wetenskappe wat die funksies van MobiLex geïnkorporeer het.

14 March 2018 
 

Rethinking academic leadership in a managerialist context: the importance of the collegium, the collective, and an ethic of care, op 14 Maart 2018

Prof Magda Fourie-Malherbe

Die seminaar sal die veranderende internasionale en nasionale kontekste wat institusionele beleid en praktyk beïnvloed, in oënskou neem, en aanvoer dat akademiese leiers gevolglik meer oorweging sal moet skenk aan die beskerming van die integriteit van akademiese werk, die betrokkenheid van die gemeenskap en die aanneem van 'n etiek van omgee.  Van hierdie gedagtes is aanvanklik voorgestel tydens 'n Auxin aanbieding oor akademiese leierskap in 2016, en daarna verder ontwikkel, onder andere in gesprekvoering van die Akademiese Leierskap Belangegroep.  Moontlike navorsingsprojekte wat aan die einde van 2017 deur die Belangegroep geïdentifiseer is, sal ter tafel geplaas word vir oorweging en bespreking deur die seminaargangers.

Prof Fourie-Malherbe se power point-aanbieding:
MFM TL Presentation 14 March 2018.pptx

8 November 2017

Prof Elmarie Costandius

 

 

 

 

 

 

Prof Geo Quinot

 

 

 

 

 

 

 

 

Prof Ian Couper 

 

Hierdie seminaar het gehandel oor die navorsing deur drie genote in die nasionale program vir onderrigbevordering op universiteit (TAU) aan die Universiteit Stellenbosch.

Prof Elmarie Costandius

Onderrig oor kritiese burgerskap en maatskaplike geregtigheid: 'n Aksienavorsingsprojek vir personeelontwikkeling

Hierdie navorsingsprojek was daarop toegespits om onderrig en leer oor kritiese burgerskap en maatskaplike geregtigheid in verskillende fakulteite/departemente van die Universiteit Stellenbosch se verken. Dosente van verskeie fakulteite/departemente is by die projek betrek en maatskaplikegeregtigheidsteorieë het as lens gedien. Die gedagte was om deur gesprekvoering tussen navorsers en dosente, sowel as voortdurende kritiese besinning deur almal, 'n ruimte te skep om die vereiste transformasieproses aan die Universiteit Stellenbosch te hanteer. Die einddoel van die projek was om insig te verkry in hoe onderrig en leer oor kritiese burgerskap en maatskaplike geregtigheid in die verskillende fakulteite/departemente verryk en verbeter kan word. 'n Aksienavorsingsmetodologie is vir die studie gebruik. 'n Meningsopname, seminaar en onderhoude is gebruik om data in te samel. Die projekbevindinge is by konferensies sowel as deur individuele en gesamentlike artikels bekend gemaak. Die TAU-projek het gelei tot die inisiatief “Dekolonisasie van die kurrikula" sowel as die artikel “#FeesMustFall and decolonising the curriculum: Stellenbosch University students' and lecturers' reactions" deur Elmarie Costandius, Ian Nell, Neeske Alexander, Margaret Blackie, Evodia Setati, Rhoda Malgas en Marianne Mckay, wat in Maart 2018 in die South African Journal of Higher Education verskyn het.

Prof Geo Quinot

Samewerkende leer in die regte

Hierdie aanbieding was gegrond op 'n ontwerpgebaseerde navorsingsprojek met die doel om onderrig-leeraktiwiteite (met inbegrip van assessering) vir samewerkende leer in 'n bepaalde module van 'n LLB-program te ontwikkel. Die doelwit was die ontwikkeling, implementering en evaluering van 'n eerste weergawe van 'n benadering om samewerkende leer in die betrokke module te fasiliteer, wat daarná as 'n raamwerk vir die ontwerp van algemener samewerkende leer in LLB- (en moontlik ook ander) programme kon dien. Die beweegrede vir die soeke na 'n samewerkende leerbenadering was die behoefte aan 'n teenvoeter vir die hoogs individualistiese benadering tot onderrig en leer wat meestal in regsopleiding gevolg word en wat dikwels wedywering eerder as samewerking tussen studente aanmoedig. In teenstelling met die tradisionele benadering, is daar 'n toenemende behoefte aan 'n samewerkende perspektief wat meer outentieke leeromgewings bied, veral binne die raamwerk van transformasiegerigte regsopleiding. Boonop is dit nou ook 'n vereiste van die Raad op Hoër Onderwys se nuwe LLB-kwalifikasiestandaard. Samewerkende leer gaan oor méér as om studente te oorreed om in groepe te werk. Dit gaan oor die aktiewe ontwikkeling en assessering van studente se samewerkingsvaardighede. In hierdie projek is 'n onderrig-leerontwerp op grond van die literatuur oor spangebaseerde leer in werking gestel. Die ontwerp het berus op insigte uit die literatuur, sowel as op fokusgroeponderhoude met LLB-finalejaarstudente van 2015 oor hulle ervarings van samewerkende leer. Die sentrale struktuur van die proef was die permanente leerspan (PLS) – groepe van vyf lukraak gekose studente wat deur die hele semester saamgewerk het, dikwels ook in die klas. Die aanbieding bied terugvoer oor die ontwerp van die PLS-struktuur, studente se oordenking oor die leerervaring, sowel as voortdurende pogings om 'n ontwikkelingsevaluering van die proef te onderneem.

Prof Ian Couper

Opsomming:

Selfgerigte leer in gesondheidsberoepsonderwys: 'n Bestekopname

Selfgerigte leer (SGL) word bestempel as 'n noodsaaklike instrument om lewenslange leer aan te moedig en te sorg dat gesondheidsberoepslui bewysgebaseerde gesondheidsorg van gehalte voorsien. Die doel van hierdie studie was om die omvang, rol en impak van SGL in gesondheidsberoepsonderwys te verken met behulp van 'n bestekopname van die literatuur. 'n Soektog na “selfgerigte leer" op PubMed het 1 134 artikels opgelewer, waarvan 154 by die ondersoek ingesluit is. 'n Soektog op die databasis Education Resources Information Centre (ERIC) het 'n verdere 12 artikels geïdentifiseer. Die meeste artikels het met voorgraadse opleiding verband gehou. Opsommings van hierdie 166 artikels is daarna op 'n Excel-spreiblad ingevoer. Saamgestelde data is kwalitatief ontleed en temas geïdentifiseer. Bewyse is opgespoor wat SGL verbind met beter graduandi-bevoegdheid en doktersprestasie, die bevordering van lewenslange leer, die ontwikkeling van kritiese denke, die bemagtiging van leerders, en die verbetering van akademiese prestasie. Kurrikulumwysigings ter bevordering van SGL kan dus akademiese prestasie en bevoegdheid sowel as selfmotivering en doeltreffendheid verbeter. Of SGL dít beter as ander vorme van leer in gesondheidsberoepsonderwys regkry, en of dit lewenslange leer tot gevolg het, is onduidelik. Die rol van SGL in bepaalde kliniese omgewings en programme vereis dus verdere ondersoek.

21 August 2017 

Renee Nathanson: Toekomsgerigte leer, konstruktivistiese beginsels en nuwe tegnologie

Tegnologie is 'n essensiële kenmerk van die moderne samelewing. Dit voorsien studente met onmiddelike toegang tot verskillende bronne van kennis. Informasie, die stapelvoedsel van onderrig, is nou vrylik beskikbaar met die druk van 'n ikoon. Voorts kan toestelle wat studente daagliks dra toegang voorsien tot universele netwerke van leer. Dit maak derhalwe nie meer sin dat slegs akademici die bewaarders en oordraers van kennis is nie. Die alledaagse gebruik van tegnologie in die samelewing het wêreldwyd druk op opvoedkundige instansies geplaas om hulle funksie as toesighouers en verspreiders van kennis te hersien en om die rol van tegnologie in die onderwys te ondersoek. Dit word veral van universiteite verwag om hoë kwaliteit leerervarings aan te bied wat belyn is met die nuwe vaardighede en uitkomste vereis in 'n digitale wêreld. Die doel van hierdie sessie is om te bespreek hoe tegnologie, konstruktiewe leerbeginsels en projekgebaseerde leerervaringe geïntegreer kan word om 'n toekomsgerigte kursus vir B Ed studente by Stellenbosch Universiteit te ontwerp. 

12 June 2017 
 

Die rol van studenteterugvoer in die bemiddeling van die professionele leer van dosente by ʼn navorsingsgerigte universiteit: Die geval van Universiteit Stellenbosch"

Dr Melanie Petersen

Hierdie seminaar maak gebruik van die bevindinge van 'n PhD-studie wat ondersoek het hoe dosente aan die Universiteit Stellenbosch, 'n navorsingsgerigte instelling, die rol van studenteterugvoer in hul onderrig ervaar het. Min studies teoretiseer die invloed van studenteterugvoer op universiteitsonderrigpraktyk, veral binne die konteks van navorsingsgerigte universiteite. In die meeste navorsingsstudies word studenteterugvoer oor onderrig gekoppel aan idees van effektiewe onderrig, terwyl minder studies die praktyke en aktiwiteite wat dosente betrek om studente-terugvoerinligting te omskep in bruikbare professionele leergeleenthede, ondersoek. Die studie, waarop hierdie seminaar gebaseer is, gebruik Aktiwiteitsteorie as 'n analitiese raamwerk vir die ondersoek van hierdie kwessie. 'n Gevallestudie-navorsingsontwerp is gevolg, met die verband tussen studenteterugvoer en universiteitsonderrigpraktyk as analise-eenheid. Kwalitatiewe data is gegenereer deur middel van semi-gestruktureerde onderhoude met 16 doelbewustelik geselekteerde dosente. Die bevindinge dui daarop dat die navorsingsgerigte konteks, sowel as die praktyke van middelvlakbestuur in hul gebruik van studenteterugvoer vir die evaluering van onderrig, 'n belangrike rol speel in hoe dosente studenteterugvoer ervaar en daarop reageer.

20 February 2017

 

 

 

“Teaching for change" – Refleksies rakende Universiteit Stellenbosch se eerste “MOOC"

Prof Yusef Waghid, Dr. Antoinette van der Merwe, Dr. JP Bosman & Dr. Faiq Waghid

Universitieit Stellenbosch het haar eerste “MOOC" (Massive Open Online Course), Teaching for Change: An African Philosophical Approach ontwikkel en suksesvol aangebied op FutureLearn, die Britse MOOC platvorm. Die kursus se aanbieder was Professor Yusef Waghid (Fakulteit Opvoedkunde) en dit was die eerste Afrika filosofie van opvoedkunde MOOC  van sy soort in die wêreld. Teaching for Change kan beskou word as 'n gedekoloniseerde kurrikulumontwikkelingsinisiatief wat ten doel het om die Afrika leefervaring in die sentrum van leer en onderrig te plaas. Kliek hier om na die kursus te gaan op FutureLearn.

Universitiet Stellenbosch se eerste MOOC kan as 'n sukses beskou word. Nie net kon die US voortreflike navorsing ten toon stel as een van FutureLearn se uitnemende vol-vennoot instellings nie, maar kon sy ook bydra tot die wêreldwye kennis-ekonomie vanuit 'n unieke Afrika perspektief.

In hierdie L&O seminaar gaan ons reflekteer oor die reis van konseptualisering, deur ontwerp, tot aflewering van die MOOC. Die refleksie gaan gedoen word vanuit drie perspektiewe: die universiteit (institusioneel), die leerontwerpspan, en die dosent se ervaring.

Indien jy nog altyd gewonder het wat 'n MOOC is, wat dit verg om 'n volledig-aanlyn kursus te ontwikkel, of indien jy self jou eie MOOC beplan, behoort hierdie seminaar die belangrikste aspekte van hierdie ontluikende L&O modus aan te spreek. Baie van die kwessies wat bespreek gaan word sal ook waardevol wees vir enigeen wat SUNLearn gebruik, en wys die weg aan as moontlike voorloper vir die digitale Afrika Universiteit van die toekoms.


 

7 November 2016

 

 

 “Flipping" Dermatologie onderrig: 'n Behoefte aan verandering.

Dr Willie Visser

Die gebruik van die sogenaamde omgekeerde (“flipped") klaskamer benadering raak al hoe meer gewild in Hoër Onderwys onderrig. Ten spyte van die voordele van tradisionele kontaksessies, voorsien so 'n benadering die geleentheid vir alternatiewe maniere om met kennis om te gaan.  Die doel van hierdie sessie is om te demonstreer hoe 'n voorgraadse dermatologie module herontwerp is op die beginsels van 'n omgekeerde (“flipped") klaskamer benadering waardeur studente aangemoedig is tot aktiewe deelname in die leerproses en nie om net passiewe omstanders te wees nie. Uitdagings, slaggate en studente ervarings van die intervensie sal bespreek word.

15 August 2016 

Towards responsible citizenship: The story of curriculum renewal of a Master of Divinity program in South Africa

Prof. Ian Nell

In Suid-Afrika worstel ons nie net met die nalatenskap van Apartheid in sy vele strukturele en institusionele vorms nie, maar word ons ook geforseer om met koloniale diskoerse en die dekolonisasie van die kurrikulum in Hoër Onderwys betrokke te raak. Die doel – en een van die vernaamste uitdagings – van teologiese opleiding in 'n Afrika-konteks is om 'n hermeneutiese sleutel te vind om teologie kontekstueel te beoefen in reaksie op prosesse van geestelike onderskeiding wat sal lei tot 'n gekontekstualiseerde teologiese kurrikulum en onderrig (Pobee, 2013; Hendriks, 2014).  

Die idee van “kontekstuele onderrig en kurrikula" word ondersteun deur die resultate van empiriese navorsing wat gedoen is onder alumni wat in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, ná etlike jare in die bediening. Die sogenaamde Westelike en Christelike paradigma het vir meer as twee eeue teologiese opleiding op die Afrika-vasteland oorheers en het gelei tot vele ongelykhede op verskillende vlakke van die samelewing. Die suidelike skuif van die hartland van die Christendom wys egter in nuwe rigtings en eis 'n herstrukturering van die dissipline en nuwe kurrikula vir teologiese onderwys en opleiding. Wanneer ons kyk na die veranderende konteks, die invloed van globalisering en die inligtingsrevolusie word 'n herbesoek van die sleutel- teologiese parameters en programme dringend.  

Die sentrale navorsingsvraag wat die seminaar wil aanspreek, is: Op watter wyses kan kritiese burgerskap en die rol van graduandi-eienskappe geïntegreer word in wat sommige geleerdes na verwys as “verantwoordelike burgerskap" en hoe kan hierdie idee behulpsaam wees in die prosesse wat gevolg word vir die kurrikulumvernuwing van die Magister Divinitatis-program?  

Die seminaar sal poog om hierdie vraag te beantwoord deur:

  • die vertel van sommige aspekte van die ontwikkelende intrige van die storie deur te konsentreer op die veranderende landskap van hoër onderwys en teologiese onderwys in Suid-Afrika,
  • die verduideliking van die teoretiese raamwerk en fenomenologiese metodologie wat in die empiriese deel van die navorsing gebruik is,
  • rekenskap te gee van die idee van verantwoordelike burgerskap in leierskapsontwikkeling, en
  • 'n paar kurrikulumveranderinge in die program voor te stel.
15 June 2016

 
Digitale stories in 'n wetenskap-gebaseerde plantetelingskursus. Is daar 'n plek hiervoor?

Dr Micheal Schmeisser

Die gebruik van digitale stories as 'n gemengdeleerinstrument kom algemeen in die Sosiale Wetenskappe voor, terwyl die toepassing daarvan nie dikwels in die Natuur- of Landbouwetenskappe gesien word nie. Digitale stories verbeter die leerproses effektief deurdat die skepping van 'n logiese vertelling in die vorm van beeldmateriaal , alle vlakke van leer (volgens Bloom se Taksonomie), vanaf die laagste tot die hoogste kognitiewe prosesse, inspan tydens die skeppingsproses. Derhalwe is die implementering van hierdie gemengdeleerinstrument in 'n platetelingsmodule ondersoek. Die doel van hierdie sessie is om te toon dat digitale stories effektief gebruik kan word om leer in 'n toegepaste wetenskap-gebaseerde Hortologie module te bevorder. Die uitdagings, slaggate en studente ervarings tydens die projek sal ook bespreek word.

22 February 2016

 

 

“'Oorlewing van die sterkste of voortdurende verbetering': Rapportering van die voorlopige fakulteitsterugvoer oor die programvernuwingsproses @ US"

Dr Antoinette van der Merwe

Die titel van die seminaar is geneem uit fokusgroeponderhoude wat in fakulteite gevoer is deur 'n groep akademici wat ingeskryf het vir 'n University of British Columbia (UBC) Sertifikaatkursus getiteld “Curriculum and Pedagogy in Higher Education". Dit maak deel uit van die “International Faculty SoTL Leadership Program" (kyk http://international.educ.ubc.ca/sotl/program-of-study/). Die program se hoofdoel is om akademiese leiers voor te berei om kundigheid in navorsingsgebaseerde benaderings tot die akademieskap van onderrig-, leer- en kurrikulumpraktyk binne konteksspesifieke hoëronderwys omgewings te ontwikkel.

As deel van die vereistes van die sertifikaatkursus moes die deelnemers 'n sluitsteenprojek inhandig vir assessering. Die deelnemers het as 'n groep besluit dat in plaas van om nuwe projekte vir die kursus te ontwikkel, hulle eerder 'n refleksie oor die programvernuwingsproses wat alreeds gebeur by die US gaan aanbied, 'n beter meer ideale proses gaan voorstel en die gapings tussen die bestaande proses en die geprojekteerde ideale proses identifiseer. Dit belyn ook met een van die Viserektor (Leer en Onderrig) se strategiese inisiatiewe, naamlik programvernuwing.

Dr Antoinette van der Merwe (Senior Direkteur: Leer- en Onderrigverryking) sal die seminaar aanbied en die resultate van die sluitsteenprojek namens die Stellenbosch kohort wat die UBC sertifikaatkursus voltooi het, deel. Die ander deelnemers was: Prof Arnold Schoonwinkel, Prof Ronel du Preez, Prof Anton Basson, Prof Ingrid Rewitzky, Prof Arend Carl, Prof Ian Nell, Dr Berna Gerber, Prof Johan Louw, Mnr Gert Young and Mnr André Müller.

Waarderende Ondersoek (WO) is gebruik as die toepaslike navorsingsmetodologie vir die projek omdat dit die sleutel aandeelhouers betrek by 'n genetwerkte gemeenskap van praktyk wat gegrond is in opvoedkundige ondersoek, en dit fokus op die bestaande beste praktykvoorbeelde en kontekstuele veranderlikes om die sistematiese ontwikkeling van onderwyskundige kwessie(s) wat ondersoek word te verbeter (Cooperrider, 1986 and Cooperrider & Whitney, 2005). Coghlan, et al, (2003) bied insigte in hoe WO gebruik kan word om organisasies te verander. Die gebruik van die metodologie is hier van toepassing, omdat programvernuwing in sommige aspekte wel 'n verandering in die organisasie insluit terwyl dit fokus op die bestaande beste praktyk voorbeelde sowel as kontekstuele veranderlikes soos die persepsies van die personeellede. Dit fokus ook op sosiaal gekonstrueerde praktyk en betrek die deelnemers op 'n waarderende wyse (deur die idees van wat die beste werk te ondersoek terwyl ruimte gelaat word om 'n beter scenario voor te stel).

Fokusgroeponderhoude is in fakulteite gehou om met fakulteite in gesprek te tree. Die voorlopige resultate van die fokusgroepe is ook op die jaarlikse Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) konferensie in Oktober 2015 gedeel en verdere besprekings is gehou.

Die voorlopige analise van die fokusgroeponderhoude sowel as die groepbesprekings by die AvOL konferensie sal by die seminaar aangebied word. Daar sal 'n spesifieke fokus wees op die eksterne en interne struikelblokke en instaatstellers tot programvernuwing. Daar sal op die interne vlak 'n onderskeid gemaak word tussen institusionele, fakulteit, departementele en individuele vlakke. Spesifieke aandag sal ook gegee word aan die moontlikheid van meer samewerking tussen fakulteite en steundienste om 'n holistiese programvernuwingsproses te verseker.

Die doel van die seminaar is om meer terugvoer te verkry wat die akademiese gesprek sovel as die institusionele strategie vir programvernuwing by die US sal informeer. Dit is dus baie belangrik dat verteenwoordigers van fakulteite en ondersteuningsdienste hierdie seminaar bywoon om aan te dui of die data wat tot dusver versamel is ooreenstem met hulle ervaring van programvernuwing en aandui wat gedoen moet word om te beweeg na 'n meer geïntegreerde strategie vir programvernuwing.

26 August 2015

 

 

'Dankie dat ras nie voel soos om op eiers te loop  nie': ras-onderrig aan Stellenbosch".

Prof Rob Pattman

Die titel van die seminaar is geneem uit ʼn studente-evaluasie van ʼn tweedejaar Sosiologie-kursus by die Universiteit Stellenbosch, waarin prof Pattman poog om deelnemende pedagogiese benaderings (tesame met massa-lesings) te ontwikkel wat daarop gemik is om studente te betrek as produseerders van kennis. Hul lewens en die wyses waarop hulle hul lewens konseptualiseer word dan sleutelbronne binne die kursus.

Een van die ironiese aspekte van hierdie kursus is dat dit juis die onderwerp wat onderrig word bevraagteken. Eerder as om ras as vanselfsprekend te aanvaar, word studente aangemoedig om krities oor ras te reflekteer en die belangrikheid en betekenisse, indien enige, wat dit vir hulself en vir andere inhou. Die konsep ras was op verskillende wyses deur verskillende studente, asook die dosent, gekonstrueer en aangespreek, bv as ʼn sensitiewe onderwerp wat moeilik is om oor te praat (soos die studente-aanhaling in die titel impliseer) en as iets wat hulle maak wie hul is, as werklik onwerklik en as ʼn materiële werklikheid, as voorspelbaar en onvoorspelbaar (bv in gevalle van rasvermenging), as absurd en pynlik, as iets wat oor generasies heen strek en ook in geslag ingebed is.

Die verskillende en kontrasterende wyses waarop studente en die dosent die term ras gekonstrueer het in verskillende kursusaktiwiteite en die besprekings daarvan vorm die basis van hierdie aanbieding. Dit word gestel dat hierdie kursus modelle vir goeie praktyk (pedagogies en navorsing) in die konteks van kontemporêre kwessies oor transformasie bied, deur vorme van kritiese selfrefleksie deur middel van wedersydse leer tussen verskillende en diverse studente aan te moedig, en deur krities om te gaan met die wye verskeidenheid en selfs kontrasterende wyses waarop verskillende en diverse studente ras konseptualiseer en ervaar.