"ARTLA": Onderrig, Leer en Assessering ondersteuning vir akademici gedurende COVID-19
Die aanvang van
COVID-19 in 2020 het ons genoodsaak om ons in-persoon interaksie met studente aan te pas en voor te berei vir die implementering van “Emergency Remote Teaching, Learning and Assessment” (ERT). Hierdie jaar wil ons 'n ander model van leer en onderrig volg:
"ARTLA" (Augmented Remote Teaching, Learning and Assessment). Dit behels die kombinasie van aanlyn-leer met moontlike kontaksessies vir kleiner groepe. Die beginsels van goeie in-persoon O&L&A is steeds van toepassing in die aanlynomgewing – dit is slegs die modus van aanbieding wat verskil. Die vertrekpunt van hierdie proses van aanpassing is die herdink van die uitkomste, assessering en leergeleenthede van u module vir die aanlynomgewing. Dit is belangrik om die aktiewe betrokkenheid van studente in die ontwerp in te sluit asook om studente aan te moedig om verantwoordelikheid vir hulle eie leer te neem. Die DeLTA-proses is aangepas vir die "ARTLA"-omgewing, en is beskikbaar
hier
.

Die refleksiefase van die DeLTA-proses gee geleentheid vir dosente om te reflekteer oor die module en vas te stel of dit die doel bereik het wat dit beoog het om te bereik. Hierdie refleksie kan gedoen word deur data te versamel en/of terugvoer uit eweknieobservasies, studenteterugvoer, professionele liggame werkgewers en die gemeenskap te kry.
Hierdie inligting kan dan as deel van die situasie-analise vir die volgende rondte gebruik word.
As dosent kan u ook oor die uitvoering van u onderrig reflekteer. Dieselfde hulpbronne as hierbo kan bewyse verskaf, wat dan gebruik kan word wanneer u 'n onderrigportefeulje saamstel.
-cycle/evaluation/Refleksie.jpg)
Studenteterugvoer
Studenteterugvoer is 'n belangrike sentrale proses gemik op die ondersteuning en bevordering van onderrig aan die Universiteit Stellenbosch. Die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) is verantwoordelik vir die administrasie van die Studenteterugvoerstelsel, bv. die handhawing van studenteterugvoer-vraelyste, die verwerking en berging van alle terugvoerdata, en die samestelling en verspreiding van studenteterugvoerverslae vir alle fakulteite.
Universiteit Stellenbosch moedig fakulteite en departemente aan om die volgende uitgangspunte rakende die gebruik van studenteterugvoer in gedagte te hou:
- Die gebruik van studenteterugvoer moet in die eerste plek poog om individuele dosente te bemagtig om hulle eie onderrig te verbeter. Slegs hierna moet terugvoer vir enige ander doel gebruik word, en dan slegs met uiterse omsigtigheid.
- Die betroubaarheid van studenteterugvoer-resultate kan deur verskeie faktore beïnvloed word (grootte van die klasgroep, persentasie klasbywoning, die tyd van die verwerwing van die terugvoer, ens.) Hierdie en ander faktore wat die resultate kan beïnvloed, moet in ag geneem word wanneer die resultate geïnterpreteer word.
Klik hier om Studenteterugvoerkantoor se webwerf te besoek: Studenteterugvoer
Studenteterugvoer kan individuele dosente bemagtig om hulle onderrigpraktyk te verbeter. Dit behoort egter deel te wees van 'n 360-grade refleksie op hulle onderrig. Die proses kan ook self-evaluering, eweknie-refleksie (sien onder) ens. insluit.
In die artikel (sien onder): An investigation into excellent tertiary teaching: Emphasising reflection practice (Kane, Sandretto & Heath 2004), skryf Day (1999) “it is generally agreed that reflection in, on and about practice is essential to building, maintaining and further developing the capacities of teachers to think and act professionally over the span of their careers" (p. 222).
KANE An investigation into excellent tertiary teaching Emphasising.pdf
Die volgende vorm is beskikbaar om dosente te help om te begin reflekteer oor hulle onderrigpraktyk:
Dosenteterugvoervorm Lecturer feedback form.doc
Eweknie-waarneming & Refleksie
Eweknie-waarneming op onderrigpraktyk is 'n samewerkingsproses, sonder vooroordeel, waartydens kollegas onderrig waarneem, daaroor terugvoer gee en daaroor besin, met die doel om hulle praktyk te verbeter. Die proses van besinning oor onderrigpraktyk raak toenemend meer algemeen in hoëronderwysinstellings wêreldwyd (Bell en Cooper, 2013; Keane, 2015; Kane, Sandretto & Heath, 2004), en die Universiteit Stellenbosch is geen uitsondering in hierdie verband nie. Die doel van besinning oor onderrigpraktyk kan as die verbetering van die gehalte van onderrig ten einde studenteleer te verbeter (Byrne et al., 2010) gesien word, maar volgens Bell (2001) moedig dit ook gedeelde kritiese besinning aan.
Al is die primêre doelwitte van besinning oor onderrigpraktyk professionele ontwikkeling (Orabah, 2009), lys Hammersley-Fletcher en Orsmond (2004:489) die volgende bykomende doelwitte:
- om 'n begrip van persoonlike benaderings tot kurrikulumlewering te ontwikkel;
- om onderrigtegnieke en aanbiedingstyle deur samewerking te versterk en uit te brei;
- om interpersoonlike vaardighede te beoefen en te verfyn deur die uitruil van insigte met die evaluering van 'n spesifieke onderriguitvoering;
- om persoonlike vaardighede van evaluering en self-taksering uit te brei;
- om in samewerking met 'n kollega kurrikulumbeplanningsvaardighede te ontwikkel en te verfyn; en
- om areas van vakbegrip en onderrigaktiwiteit wat bepaalde meriete het of waar daar 'n behoefte vir verdere ontwikkeling is te identifiseer.
Die literatuur maak melding van 'n eindelose aantal voordele voortspruitend uit besinning oor onderrigpraktyk. Volgens Martin en Double (2006:161) kan onderrigvaardighede verfyn word aangesien die persoon voordele uit gefokusde, konteks-spesifieke terugvoer waargeneem het; die waarnemer verfyn die vermoë om eienskappe wat onderrig van hoë gehalte bevorder te definieer en te identifiseer; interpersoonlike vaardighede word ontwikkel; en die vermoë om voordeel te trek uit 'n kollegiale benadering tot professionele praktyk. Hendry en Oliver (2012) verwys na voordele soos die leer van nuwe strategieë, die versterking van selfvertroue en die ontvangs van nuttige terugvoer, terwyl Bell (2001) byvoeg dat dit ook tot transformasie van beide perspektief en praktyk kan lei. Eweneens verwys Orabah (2009) na voordele soos dosente wat leer van en ondersteuning aan mekaar verskaf; eweknieobservasiebesprekings wat dosente help om oor hulle onderrig en die implisiete redes en oortuigings wat handelswyses in klaskamers onderlê te besin; observasie wat dosente help om hulle vermoë om raak te sien wat in klaskamers gebeur te ontwikkel en om te verduidelik hoekom dinge gebeur; en ook blootstelling tot verskillende onderrigstyle wat hulle ervarings verryk.
Daar is egter ook uitdagings. Orabah (2009) lys sommige van die uitdagings wat met eweknieobservasie verband hou: angstigheid; tydbeperkings; die teenwoordigheid van die waarnemer in die klaskamer, wat 'n invloed op die praktyk van die dosent wat waargeneem word kan hê; en moeilikheid met die gee en ontvang van terugvoer in die gepaste wyses. Die York St John Universiteit se A Guide to Peer Observation of Learning and Teaching (2011:5) bied 'n paar nuttige rigtinggewende beginsels vir besinning oor onderrigpraktyk:
- Professionele outonomie (beheer van die proses behoort aan die personeellid wat waargeneem word)
- Selfevaluerend en besinnend (om 'n akademiese benadering tot onderrig te stimuleer)
- Ontwikkelend ('n proses wat ontwerp is om portuurleer onder kollegas te steun)
- Samewerkend (vereis dat kollegas saamwerk op grond van wederkerige vertroue en ondersteuning)
- Konstruktief (dit behoort professionele praktyk te verbeter en studenteleer te versterk)
- Dialogies (gesprekvoering oor onderrig bevorder besinning oor 'n mens se eie praktyk)
- Akademies (gebruik beskikbare pedagogiese bewyse)
- Strook met goeie professionele praktyk (dit weerspieël hoe vakkundiges leer)
- Bestuurbaar in terme van tye (in berekening gebring by die werkladingbeplanning)
Die fokus van die observasie-, terugvoer- en besinningsproses kan op 'n verskeidenheid van onderrig-, leer- of assesseringspraktyke wees en die York St John Universiteit se A Guide to Peer Observation of Learning and Teaching (2011:7) bied 'n paar voorbeelde:
- Waarneming van 'n innoverende onderrigstrategie wat u in die klaskamer uittoets;
- Besinning oor en bespreking van u assesseringstrategieë vir 'n module of program (insluitende evaluering van hoe u op 'n konstruktiewe wyse assessering in ooreenstemming met inhoud en leeruitkomste gebring het; hoe goed u formatiewe assesseringsprosesse gewerk het; hoe u studente betrokke raak by terugvoerprosesse; die gebruik en doeltreffendheid van innoverende assessering of terugvoermetodes);
- Oplossing van 'n probleem (wat kan insluit hoe om 'n onderwerp aanlyn aan te bied met die mees geskikte hulpmiddels of hoe om 'n bepaalde assesseringsuitdaging te hanteer);
- Hersiening van die inhoud en doelwitte van 'n SUNLearn-module (dit kan insluit om die beweegrede vir die ontwerp te bespreek en die onderliggende e-pedagogie te ondersoek, om te oorweeg hoe studente deelneem/nie deelneem nie aan die module aanlyn, om te evalueer hoe suksesvol aanlyn besprekings was, of hoe die gebruik van video-/oudio- en ander tegnologieverrykte onderrighulpmiddels ingesluit word);
- Besinning oor planne vir 'n nuwe studieprogramme (soos idees vir 'n leer-, onderrig- en assesseringstrategie, hoe dit inskakel by die Universiteit se onderrig- en leerstrategie en die assesseringsbeleid, en hoe dit oorgedra kan word na u moduleaktiwiteite).
Uit die bogenoemde lys sal u sien dat in Besinning oor onderrigpraktyk ons die woord 'onderrig' in 'n breë sin gebruik, om 'n verskeidenheid van aktiwiteite te bevat (vanaf die ontwerp van kurrikula en die beplanning van assesseringstrategieë, tot aktiwiteite tydens 'n klaskamer, 'n tutoriaal of 'n laboratorium).
Alhoewel hierdie artikel fokus op studenteleer, bevat dit 'n hulpmiddel wat moontlik waardevol kan wees wanneer daar gereflekteer word op onderrig:
Development of a Questionnaire to Measure the Level of Reflective Thinking
Moderering en eksterne eksaminering asook evaluering van programme
Moderering en eksterne eksaminering asook die evaluering van programme is die verantwoordelikheid van die Afdeling Institusionele Navorsing en Beplanning (INB). Kontak hulle asseblief vir inligting, klik hier.