Centre for Teaching & Learning
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Onderrig, leer, assessering, kurrikulum en pedagogie

 

Onderrig, leer en assessering is aspekte van die kurrikulum waarvoor dosente verantwoordelikheid neem en 'n gedeelde begrip van hierdie aspekte is belangrik. Definisies van hierdie aspekte word hieronder gegee:

Onderrig kan gedefinieer word as betrokkenheid by leerders om te help om hulle begrip en toepassing van kennis, konsepte en prosesse moontlik maak. Dit sluit ontwerp, inhoudseleksie, oordrag, assessering en besinning in.

Om te onderrig is om studente betrokke te kry in leer. Onderrig behels dus om studente te kry om deel te neem aan die aktiewe skepping van kennis. Om te onderrig vra nie net kennis van die vakmateriaal nie, maar ook kennis van hoe studente leer en hoe om van hulle aktiewe leerders te maak. Goeie onderrig vereis daarom 'n verbintenis tot die sistematiese verstaan van leer. Die doel van onderrig is nie net om inligting oor te dra nie, maar ook om studente van passiewe ontvangers van ander mense se kennis in aktiewe skeppers van hulle eie en andere se kennis te transformeer. Die dosent kan vanselfsprekend nie hierdie transformasie sonder die student se aktiewe deelname regkry nie. Onderrig gaan fundamenteel oor die skep van die pedagogiese, sosiale en etiese toestande waarin studente instem om oor hulle eie leer beheer te neem, beide individueel en kollektief. 
[ Education for judgment: The artistry of discussion leadership. Edited by C. Roland Christensen, David A. Garvin, and Ann Sweet. Cambridge, MA: Harvard Business School, 1991. ]

Leer kan gedefinieer word as die aktiwiteit of proses van kennis- of vaardigheidsverwerwing deur te studeer, te oefen, onderrig te ontvang of iets te ervaar (Merriam-Webster-woordeboek). Leer gaan oor wat studente doen, nie oor wat ons as dosente doen nie. 


Assessering
word gedefinieer as die handeling van beoordeling van die hoeveelheid leer wat plaasgevind het as gevolg van leer en onderrig. 

 

Volgens die UNESCO-webwerf, het kurrikulum verskillende betekenisse en kan dit uit verskillende perspektiewe beskou word. Die volgende beskrywing is nuttig:

 

Wat samelewings as belangrike onderrig en leer beskou, maak die "beoogde" kurrikulum uit. Aangesien dit gewoonlik in amptelike dokumente uiteengesit word, kan dit ook die "geskrewe" en/of "amptelike" kurrikulum genoem word. Op die klaskamervlak kan hierdie beoogde kurrikulum egter deur 'n verskeidenheid van komplekse klaskamerinteraksies gewysig word, en dit wat inderwaarheid gebied word, kan as die "geïmplementeerde" kurrikulum beskou word. Wat die leerders in werklikheid leer (m.a.w. wat geassesseer kan word en as leeruitkomste/leerderbevoegdhede gedemonstreer kan word), maak die "vermagte" of "geleerde" kurrikulum op. Verder dui kurrikulumteorie op 'n "verskuilde" kurrikulum (m.a.w. die onbeplande ontwikkeling van persoonlike waardes en oortuigings van leerders, dosente en gemeenskappe; onverwagte impak van 'n kurrikulum; onvoorsiene aspekte van 'n leerproses). Diegene wat die beoogde kurrikulum ontwikkel, moet al hierdie verskillende dimensies van die kurrikulum in gedagte hou. Al verteenwoordig die "geskrewe" kurrikulum nie die betekenis van kurrikulum nie, is dit wel belangrik omdat dit die visie van die samelewing verteenwoordig. Die "geskrewe" kurrikulum behoort daarom in breedvoerige en gebruikersvriendelike dokumente uitgedruk word, byvoorbeeld in kurrikulumraamwerke en vakkurrikula/sillabusse, asook in relevante en behulpsame leermateriaal, soos handboeke, dosenthandleidings en assesseringshandleidings.

In sommige gevalle sien mense die kurrikulum ten volle in terme van die vakke wat onderrig word, soos uiteengesit in die reeks handboeke, en vergeet hulle die breër doelwitte van bevoegdhede en persoonlike ontwikkeling. Dit is hoekom 'n kurrikulumraamwerk belangrik is. Dit posisioneer die vakke binne hierdie groter konteks en toon aan hoe leerervarings binne die vakke moet bydrae tot die verwesenliking van die breër doelwitte.

Al hierdie dokumente en die kwessies waarna hulle verwys, vorm 'n "kurrikulumstelsel". Vanweë hulle rigtinggewende funksie vir onderwysagente en -belanghebbers, speel duidelike, geïnspireerde en motiverende kurrikulumsdokumente en -materiaal 'n belangrike rol in die versekering van onderwys van hoogstaande gehalte. Die betrokkenheid van belanghebbers (insluitende en veral dosente) in die ontwikkeling van die geskrewe kurrikulum is van kardinale belang om eienaarskap en volhoubaarheid van kurrikulumprosesse te verseker.  

 

Bron: http://www.unesco.org/new/en/education/themes/strengthening-education-systems/quality-framework/technical-notes/different-meaning-of-curriculum/ 

 

Nog 'n term wat moontlik deel van die diskoers kan wees wanneer hierdie elemente bespreek word, is 'pedagogie'. Hierdie term verwys na die metodes en aktiwiteite van die praktyk van onderrig.