Die sentrale verantwoordelikheidsareas van SOL is die volgende:
Assesseringskortkursus
Die kursus is ontwerp om in pas te wees met die hersiene Assesseringsbeleid (2022), en assessering te ondersteun wat studenteleer bevorder. Tydens die kortkursus sal deelnemers deur ʼn gefasiliteerde proses van denke en beraadslaging, evaluering en formulering van die assesseringstrategieë vir hulle eie modules werk, met die oog daarop om hulle in staat te stel om leergesentreerde assesserings (US Onderrig- en Leerbeleid, 2018) wat ʼn transformerende studente-ervaring ondersteun (US Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2024), te ontwerp.
Akademieskap van Onderrig en Leer-kortkursus
In die Akademieskap van Onderrig en Leer-kortkursus (AvOL-) sal jy leer hoe om jou navorsingsvraag te verfyn, die literatuur te raadpleeg, opvoedkundige teorie as ʼn lens te gebruik, ʼn toepaslike metodologie vir die insamel en vertolking van data te ontwerp en dit in ʼn helder en omvattende voorstel oor te set, wat aan al die Universiteit Stellenbosch (US) se etiese beginsels en institusionele toestemmingsbeginsels voldoen.
Auxins
Dit is 'n program van maandelikse middagetesessies gemik op die skepping van geleenthede vir akademici om hulle kennis oor onderwerpe in die arena van onderrig en leer aan die US, waarin hulle self belangstel, te ondersoek en te verdiep.
CHEC-kortkursusse in die Wes-Kaap
Dit is 'n samewerkingsprogram waarby al die universiteite in die streek betrokke is, met mede-fasilitering en in sommige gevalle sameroeping deur SOL-personeellede. Hierdie program is oop vir alle US-personeel.
Fakulteit-gebaseerde werk van adviseurs
Die aard van die diens wat elke adviseur aan fakulteite bied, verskil van fakulteit tot fakulteit, en word vasgestel in konsultasie met die Visedekaan O-L-A (of die ekwivalent van hierdie persoon) in elke fakulteit. Een punt wat al die fakulteitgebaseerde werk wel in gemeen het, is die vestiging van O-L-A-spilpunte (hubs) in fakulteite. Die fakulteit se O-L-A-spilpunt is 'n belangrike meganisme om goeie onderrig te bevorder en 'n kritieke massa van akademici met 'n spesifieke fokus op die kwessie van O-L-A op te bou. Die spilpunte het 'n sentrale fokus op onderrig wat belangstelling, energie, rigtinggewing en leierskap genereer. Die O-L-A-spilpunt kan verskillende vorme aanneem, afhangende van die konteks van die spesifieke fakulteit. Die O-L-A-spilpunte inisieer, koördineer en bevorder gereelde aktiwiteite wat belangstelling en fakulteitsontwikkeling in akademiese onderrig aankweek.
Fonds vir Innovasie en Navorsing in Leer en Onderrig (Finlo)
Hierdie sentraal-geadministreerde stelsel, wat deur SOL gekoördineer word, het ten doel om saadgeld vir kleinskaalse klaskamergebaseerde navorsing en innovasie beskikbaar te stel.
Konferensie oor die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL)Hierdie jaarlikse interne konferensie oor Onderrig en Leer, wat 'n volle dag se prekonferensiewerksessies oor Onderrig en Leer insluit, word deur SOL gekoördineer.
Kortkursus in Eweknie-leerfasilitering (Tutorskap)
Hierdie is ʼn institusionele gestandaardiseerde opleidingskortkursus vir alle eweknie-fasiliteerders wat formeel deur fakulteite in die universiteit aangestel is. Hierdie kursus kan gebruik word om enige bestaande opleiding in fakulteite aan te vul, of om eweknie-fasiliteerders vir fakulteite formeel op te lei. Die kortkursus vind ten volle aanlyn plaas. Die kursus is as ʼn kokurrikulum-aanbieding by die US geregistreer en goedgekeur.
Kortkursus oor die Akademieskap van Opvoedkundige Leierskap (“SoEL")
Die doelwitte en uitkomste van die kortkursus is soos volg:
Om opvoedkundige leiers (soos visedekane vir onderrig en leer, programleiers, departementsvoorsitters, dosente, hoofde en personeel van onderrig-en-leerverwante eenhede of van professionele akademiese steundienste) by vakkundige benaderings tot onderrigleierskapspraktyke te betrek.
Om opvoedkundige leiers bekend te stel aan literatuur oor die akademieskap van opvoedkundige leierskap én die implikasies wat dit vir hulle eie opvoedkundige leierskapskonteks inhou.
Om navorsingsvaardighede op die gebied van die akademieskap van onderrigleierskap op deelnemers se eie konteks toe te pas (soos deur literatuur te bestudeer, navorsingsprobleme te omskryf, navorsingsmetodes te ontwerp en resultate te versprei).
Om bewys te lewer van kritiese besinning oor opvoedkundige leierskap in die vorm van 'n miniportefeulje.
Institusionele beleidsontwikkeling en -interpretasie met betrekking tot onderrig en leer
SOL speel 'n kernrol in die ontwikkeling en interpretasie van alle US-beleide wat op Onderrig en Leer betrekking het. In hierdie verband, is SOL dan ook 'n sameroeper en deelnemer in verskeie institusionele komitees, asook in taakspanne.
Jaarlikse skryfgeleenthede
SOL fasiliteer twee skryfgeleenthede per jaar, een in Mei en een in November. Die skryfgeleenthede het twee doelwitte: hulle bied 'n ruimte vir voormalige Finlo-ontvangers om hulle voltooide navorsingsprojekte in publiseerbare navorsingsreferate te omskep en vir potensiële Finlo-ontvangers om navorsingsvoorstelle te voltooi.
Nagraadse Diploma in Hoër Onderwys in Onderrig en LeerHierdie diplomaprogram is oop vir alle US-personeel wat graag hulle studies op die gebied van hoëronderwysonderrig en -leer wil uitbou. Dit word gesamentlik streeksgewys gefasiliteer, en SOL is die sameroeper vir een van die modules.
Onderriggenootskapskema
Die Onderriggenootskapskema bied die geleentheid vir uitnemende dosente en akademici van onderrig en leer om vir meer vaste tydperke, met verskeie vorme van ondersteuning, op aspekte van hernuwing, ondersoek en verspreiding van goeie praktyk in Departemente en Fakulteite te kan fokus.
Professioneleonderrigontwikkelingsprogram vir Akademici (PRONTAK):
Hierdie 'n semesterlange professioneleontwikkelingsprogram vir nuwe akademici word deur SOL gekoördineer.
Studenteterugvoerstelsel
Hierdie sentraal-geadministreerde stelsel om aspekte van onderrig en leer op die module- en programvlak te evalueer, word deur SOL gekoördineer. SOL bly verantwoordelik vir die administrasie van hierdie stelsel, die byhou van die studenteterugvoervraelyste, die verwerking en berging van die data, en die samestelling en verspreiding van studenteterugvoerverslae aan fakulteite.