Centre for Teaching & Learning
Welkom by Universiteit Stellenbosch

DeLTA: Die Ontwerp van leer-onderrig-assessering aan die US

 

DeLTA is ʼn raamwerk wat die herhalende aard (kringloop) en die stappe van die onderrig-leer-assesseringsproses (OLA-) illustreer. 

DeLTA Framework-cropped.png

 

DeLTA

Die titel van die raamwerk is die akroniem DeLTA ('designing learning-teaching-assessment'), maar 'Delta' is ook die wiskundige simbool (∆) vir verandering. Hierdie raamwerk beoog om verandering in OLA aan die US teweeg te bring.

 

Doel

Die DeLTA-raamwerk begelei akademici deur die herhalende en sikliese proses van die ontwerp en fasilitering van, en besinning oor OLA aan die US om ʼn transformerende studenteleer-ervaring ten bate van die samelewing te bevorder.

 

Die proses bestaan uit (name van elk van die komponente):

  • Kurrikulumkonteks
  • Leeruitkomste
  • Assessering (van, vir en as leer)
  • Leeraktiwiteite en -geleenthede
  • Evaluering
  • Besinning
  • Konstruktiewe Belyning
  • Onderrig as Fasilitering van Leer​

 

Omskrywing van elke komponent

Teaching.png

Onderrig
Die fasilitering van leer – dit sluit alle aspekte van die DeLTA-raamwerk in.​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​
Curriculum.png

Kurrikulumkonteks
Maak seker dat jou OLA-praktyk by die konteks aanpas. Dit gaan oor jou as ʼn opvoeder en jou begrip van jou studente en hulle diversiteit, die US omgewing (jou departement, fakulteit en vakgebied ingesluit), die nasionale hoëronderwyskonteks, en die Suid-Afrikaanse konteks en verder.
Learning Outcomes.png

Leeruitkomste
‘Beoogde leeruitkomste’ is die doelwitte van die leerproses. Dit beskryf die resultaat van studenteleer ná afloop van die leeraktiwiteite en leergeleenthede; d.w.s. wat jou studente aan die einde van die leerproses moet kan doen. Dit het minder met inhoud te doen en meer met die hoofkonsepte en onderliggende beginsels van die vakgebied en maniere van ken.
Assessment.png

Assessering (van, vir en as leer)
Assessering gaan oor hoe goed jou studente die beoogde leeruitkomste bereik het. Dit gaan nie oor studente wat aan jou terugrapporteer wat jy vir hulle geleer het nie, maar eerder oor hoe goed hulle hul begrip van die hoofkonsepte en onderliggende beginsels van hulle vakgebied demonstreer. Assessering vir leer fokus op leer uit terugvoer oor ʼn assessering, terwyl assessering van leer vóór die leeraktiwiteite beplan word, maar as deel van of ná daardie aktiwiteite uitgevoer word. Assessering as leer verwys na studente se eie beoordeling van hulle prestasie.
LAO1.png

Leeraktiwiteite en -geleenthede
Leer gaan oor wat die studente doen. Die dosent se rol is om leeraktiwiteite en -geleenthede te ontwerp en te fasiliteer wat studente betrek en hulle in staat stel om toegang tot vakgebiedkennis te bekom en ook sukses met die assessering te behaal. Die leeraktiwiteite en -geleenthede behoort ook lewenslange leer onder studente aan te moedig.
Reflections.png


Besinning
Die kern van goeie onderrig is om deurlopend doelbewus en diep oor jou OLA na te dink en vas te stel of jy en jou studente die beoogde leeruitkomste bereik. Vra jou af waaruit jou OLA bestaan en waarom, wat jy daaroor geleer het en hoe jy dit kan verbeter.

Eval.png


Evaluering
Dit is die beoordeling van wat gewerk het en wat nie, aan die einde van die hele OLA-proses. Dit sal die volhoubaarheid van nuwe intervensies aantoon en jou in staat stel om die module te hersien, indien nodig.

Alignment.png

Konstruktiewe belyning
Wanneer jy ʼn module ontwerp, moet jy (1) eerstens duidelik wees oor wat jy wil hê jou studente moet leer, deur beoogde leeruitkomste te formuleer; en dan (2) moet jy die assessering konseptualiseer en beplan om met die uitkomste te strook; waarna (3) jy gepaste leeraktiwiteite en -geleenthede ontwerp en fasiliteer om studente voor te berei om die assesserings af te handel, om te demonstreer dat hulle die uitkomste bereik het, of vordering met die bereiking daarvan toon (Biggs, 1996).

​​