International Office
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​International​ Office


Internasionale nagraadse studente

Program vir Gesondheidsberoepe-opleiding

Die P4HPT (ʼn program vir gesondheidsberoepe-opleiding) is ʼn skema ter bevordering van akademiese mobiliteit in Afrika wat deur die Europese Kommissie se bestuursagentskap vir opvoeding, oudiovisuele materiaal en kultuur (EACEA) befonds word en onder die sambreelskema vir samewerking in hoër onderwys tussen lande in Afrika, die Karibiese streek en die Stille Oseaan-streek (Intra-ACP) ressorteer. Die P4HPT verteenwoordig ʼn konsortium van elf hoëronderwysinstellings (HOI) in Afrika:

1.    Universiteit van Ghana (koördinerende konsortiumvennoot)

2.    Makerere Universiteit, Uganda

3.    Uganda Martelaars-universiteit

4.    Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika

5.    Universiteit van Nairobi, Kenia

6.    Moi Universiteit, Kenia

7.    Eduardo Mondlane Universiteit, Mosambiek

8.    Universiteit van Burundi

9.    Universiteit van Juda, Suid-Soedan

10.  Universiteit van Lesotho

11.  Katolieke Universiteit van Bukavu, Demokratiese Republiek die Kongo

Die program is ontwerp om studente-uitruiling te bevorder – hoofsaaklik tussen P4HPT-vennote (teikengroep 1), hoewel daar ook voorsien word vir akademiese mobiliteit vir aansoekers van buite die konsortium (teikengroep 2).

 

  • Teikengroep 1 (TG1)

Om lid van hierdie teikengroep te wees, moet ʼn persoon burgerskap van of verblyfreg in een van die vennootlande hier bo hê en aan een van die HOI's hier bo ingeskryf of daartoe toegelaat wees of ʼn graad daar verwerf het. Mobiliteit vloei dus binne die konsortium self, vanaf een P4HPT-HOI na ʼn ander P4HPT-HOI in ʼn ander vennootland.

TG1-aansoekers moet dus burgerskap van of verblyfreg in een van bogenoemde lande (d.w.s. Burundi, Demokratiese Republiek van die Kongo, Ghana, Kenia, Lesotho, Mosambiek, Suid-Afrika, Suid-Soedan of Uganda) hê en aan een van die elf P4HPT-HOI's hier bo ingeskryf of daartoe toegelaat wees of ʼn graad daar verwerf het.

  • Teikengroep 2 (TG2)

Om lid van hierdie teikengroep te wees, moet ʼn persoon burgerskap van of verblyfreg in een van die vennootlande hier bo hê, en óf ingeskryf of toegelaat wees aan ʼn HOI wat wel in een van die vennootlande geleë is maar wat nie ʼn P4HPT-vennoot is nie óf ʼn HOI- of gelykwaardige graad verwerf het aan ʼn instelling in een van die lande op die lys hier onder. Mobiliteit vloei dus van buite die konsortium na ʼn P4HPT-HOI.

TG2-aansoekers moet burgerskap van of verblyfreg in een van die volgende lande hê: 

Suide
Angola, Botswana, Malawi, Namibië, Swaziland, Zambië, Zimbabwe
WesteBenin, Burkina Faso, Gambië, Guinee, Guinee-Bissau, Ivoorkus, Kaap Verde, Liberië, Mali, Mauritanië, Niger, Nigerië, Senegal, Sierra Leone, Togo
SentraalEkwatoriaal-Guinee, Gaboen, Kameroen, Republiek die Kongo, São Tomé en Principe, Sentraal-Afrikaanse Republiek, Tsjad
OosteComore, Djiboeti, Eritrea, Etiopië, Madagaskar, Mauritius, Rwanda, Seychelle, Soedan, Somalië, Tanzanië


 

Om vir 'n studiebeurs in aanmerking te kom, moet meesters- en doktorale studente:

  1. burgerskap van of verblyfreg in enigeen van die P4HPT-vennootlande hê;
  2. vir TG1-aansoeke – ingeskryf of aanvaar wees aan ʼn HOI wat op die tydstip waarop vir die studiebeurs aansoek gedoen word, ʼn P4HPT-vennoot is;
  3. vir TG2-aansoeke – ingeskryf of toegelaat wees aan ʼn HOI in een van die lande wat by die Intra-ACP-oproep ingesluit is;
  4. voldoende kennis hê van die taal waarin kursusse aan die gasheer-HOI aangebied word.

Die studiebeurs sluit reiskoste (een retoervlugkaartjie), onderrigkoste, versekeringsdekking en leefkoste (beperk tot 24 maande vir ʼn meestergraad; 48 maande vir ʼn doktorsgraad) in. Aanvullende befondsing is vir diverse uitgawes soos skryfbehoeftes, handboeke, ensovoorts beskikbaar. Die P4HPT dek egter nie navorsingsverwante uitgawes nie.

Daar is ʼn vaste aantal TG1- en TG2-studiebeurse beskikbaar, en daar is mobiliteitsteikens vir elke P4HPT-HOI gestel. Studiebeurse word dus op meriete as vernaamste maatstaf toegeken, maar die beskikbare mobiliteitsvloei speel ook ʼn rol. Byvoorbeeld, as die teiken vir studente uit Ghana wat ʼn studiebeurs ontvang, behaal is, maar die teiken vir Mosambiek is nog nie behaal nie, sal aansoekers uit Mosambiek voorkeur bo dié uit Ghana kry.

As u verdere navrae het, besoek asseblief die P4HPT-webblad (http://www.ug.edu.gh/p4hpt/content/welcome-p4hpt), of skakel met me Abena Engmann (aengmann@staff.ug.edu.gh) aan die Universiteit van Ghana of met prof Andrew Whitelaw (awhitelaw@sun.ac.za), wat die koördinering vir die Universiteit Stellenbosch behartig.​