Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Lewensafrigter vir Interpersoonlike Verhoudinge

As deel van ons voortgesette verbintenis om ons kampuskultuur te verander, is dr Maria Christodoulou onlangs as die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se lewensafrigter vir interpersoonlike verhoudinge aangestel. Haar taak sal wees om ons ’n inklusiewe, transformasiegerigte en kultuurvaardige sosiale leeromgewing te help skep; ’n omgewing wat ons individuele en gesamentlike mensheid erken en ’n diepe samehorigheid en aanvaarding van almal kweek.

 

Meer oor dr Maria Christodoulou

Maria het in 1990 haar MB,ChB-graad aan ons fakulteit verwerf en in 2005 ook 'n diplomakursus in afrigtingspraktyk voltooi. Sy het uitgebreide werkservaring in die privaat sowel as die openbare gesondheidsorgsektor opgedoen, aanvanklik as 'n praktisyn in integrerende geneeskunde en daarna as 'n gesondheid-, welwees- en leierskapsafrigter. Sy kombineer haar mediese opleiding en afrigtingsvaardighede met omvattende kennis van verskillende genesingstradisies en die teorieë van verhoudingsielkunde, identiteitskonstruksie en menslike ontwikkeling.

As deel van haar praktykvoering rig sy onder meer individue met kanker en chroniese siektes af, fasiliteer gesondheid- en welweesverwante werksessies en dien as dosent en afrigter in die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg, waar sy in 2009 'n nagraadse sertifikaatkursus in Integrerende Geneeskunde ontwikkel en in werking gestel het. Maria dien ook in die personeel en adviesraad van The Coaching Centre en tree op as studieleier en mentor vir kollegas en studente op sowel geneeskundige as afrigtingsgebied.

Sy het haar die afgelope paar jaar hoofsaaklik toegespits op die afrigting van individue sowel as spanne mediese spesialiste in die openbare gesondheidsektor, met die klem op leierskap, veerkragtigheid en die kweek van agente vir verandering. Haar kombinasie van mediese vaardighede en uitgebreide afrigtingservaring bied haar aansienlike insig in die komplekse uitdagings waarmee gesondheidsberoepslui in ons huidige konteks te kampe het. Dít, tesame met haar passie vir maatskaplike kunstenaarskap ("social artistry") – wat nuwe maniere van dink, wees en doen op die maatskaplike uitdagings van die wêreld toepas – maak haar uniek toegerus om ons by te staan in ons verbintenis om studente en personeellede se persoonlike belewing van ons kampus te verander.

 

Kontak gerus vir Maria om u ervarings of gedagtes en sienings oor ons kampuskultuur te deel. 

Sel: 083 459 9736
E-pos: mchristo@sun.ac.za