Education
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Fakulteit Opvoedkunde

Navorsing​

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit van Stellenbosch spog met 'n lewendige navorsingskultuur. Dit kom duidelik na vore in die getal nadoktorale genote wat aangestel is, fakulteitslede se gereelde deelname aan nasionale en internasionale konferensies, hul betrokkendheid by nasionale en internasionale organisasies en die getal befondsde navorsingsprojekte in die Fakulteit. Personeellede lewer deurlopend 'n bydrae as meningsvormers binne navorsingskringe en in die openbare domein. 'n Aantal personeellede se NNS-graderings is hernu of verbeter.

As een van Suid-Afrika se voorste opvoedkundefakulteite streef ons daarna om ons huidige navorsingsoriëntasie tot ons werk te behou en is ons deurlopend besig om maniere te vind om in alle sfere van ons akademiese werk te verbeter insluitend onderrig en leer, tesisleiding, diens aan die gemeenskap, hoër onderwys, en navorsingspublikasies.

Herbedink onderrig

Suid-Afrika is 'n land van uitdagings, en dit is nêrens meer ter sprake as by die onderrig van sy kinders, jongmense en ook sy volwassenes nie. Ons land word gekenmerk deur swak vlakke van geletterdheid, swak slaagsyfers en swak prestasie volgens die internasionale indekse wat die gehalte van ons skoolopleiding gradeer.

Suid-Afrika is egter ook 'n land van ​geleenthede, hoop en potensiaal. Baie van ons land se leerders ontwikkel wel tot afgeronde en veelsydige jongmense, terwyl ons studente uitblink op internasionale vlak en ons navorsers baanbrekerswerk doen.​

Dit is in die lig hiervan dat die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch poog om 'n nuwe onderwysstelsel te herbedink wat sal help dat al Suid-Afrika se mense hul volle akademiese potensiaal sal bereik. ​​​

Sentraal tot die Fakulteit se visie is 'n ve​​​rbintenis om Suid-Afrika se onderwysuitdagings trompop die stryd aan te sê en so 'n breër stelsel te herbedink waarbinne die kinders, studente en volwassenes van ons land kan floreer. Dit word gedoen deur navorsingsuitsette van gehalte te integreer met geleenthede vir institusionele ontwikkeling, praktiese onderrig, onderwystake en gemeenskapsinteraksieprojekte. 

Die ideaal is om 'n kennisbasis te ontwikkel wat voortbou op navorsing wat in die veld van onderwys, sport en onderwysgegronde ontwikkelingspraktyke gedoen word. Dit brei ook die praktyk van opvoederontwikkeling uit om onderrig in skole sowel as volwassene, beroeps- en hoër onderwysinrigtings te verbeter.  

Die Fakulteit word erken en gerespekteer as 'n leidende en navorsingsgedrewe opvoedkundefakulteit in Suid-Afrika. Sy navorsingspogings fokus op relevante en strategies belangrike temas in opvoedkunde en die wetenskap van menslike bewegingskunde in Suid-Afrika en internasionaal. Daar is 'n soeke na oplossings wat verder strek as net die skool en wat ook die huidige aangeleenthede rakende hoër, verdere en volwassene onderwys, beleid, sport en opvoedkundige sielkunde aanspreek.

Deur sy navorsingspogings streef die Fakulteit Opvoedkunde ook daarna om die kapasiteit van sy jong akademiese professionele mense en nagraadse studente te vergroot, om die navorsingsfokusareas uit te brei en om die navorsingsuitsette van personeel te vermeerder deur onder meer die publisering van meer wetenskaplike referate of boeke.​​