Hierdie fokusarea dra
daartoe by om studente te help om nie net na sogenaamde werksekuriteit in die
vorm van ’n vaste betrekking te strewe nie, maar ook ’n oriëntasie te begin
kweek om die moontlikheid van ’n eie onderneming in die toekoms te oorweeg.
Gevolglik stel dit die student in staat om eie werksgeleenthede te skep maar
ook om kreatiewe bydraes tot ander ondernemings te maak.
Die fokusarea bestaan uit vier modules wat in die tweede jaar begin en sluit die volgende in:
- Inleiding tot Entrepreneurskap
- Kleinsakebestuur
- Kreatiwiteit- en Innovasiebestuur
- Strategiese- en Korporatiewe Entrepreneurskap
Beroepsmoontlikhede:
- Entrepreneur (begin 'n eie nuwe onderneming, franchise, familiebesigheid of koop bestaande besigheid)
- Bestuurskonsultant
- Intrapreneur (gryp entrepreneuriese geleenthede binne bestaande onderneming aan)
- Innovasiebestuurder
- Nuwe produkbestuurder
'n Kortkursus in entrepreneurskap word jaarliks deur die Departement Ondernemings-bestuur in samewerking met Syracuse Universiteit tydens die Junie/ Julie vakansie aangebied. Die unieke EESA program bied senior studente aan die US die geleentheid om vir ses weke praktiese opleiding te ontvang in entrepreneurskap en terselfdertyd mentorskap te verleen aan entrepreneurs in die gemeenskap. Meer inligting op www.sun.ac.za/eesa.
Voorgraadse vakke wat in Entrepreneurskap & Innovasiebestuur aangebied word:
Ondernemingsbestuur 113
Prosedures vir die totstandkoming van ’n nuwe onderneming; die
ondernemingsomgewing; sake-etiek; mededinging; idee-generering en
entrepreneurskap; keuse van ondernemingsvorm; bepaling van gelykbreekpunt;
hulpbronne en mense betrokke by die onderneming; bestuur en
bestuurshulpmiddele.
Inleiding tot Entrepreneurskap 214
Inleiding tot die wêreld van entrepreneurskap in Suid-Afrika; drywers
van entrepreneurskap; inleiding tot die identifisering van geleenthede en die
ontwikkeling van idees; die ontleding van die entrepreneuriese proses;
lewensvatbaarheidontledings; die bou van 'n nuwe ondernemingspan; assessering
van die finansiële vermoë en uitvoerbaarheid van 'n nuwe onderneming; etiek en
wetlike oorwegings; die finansieringsproses; die belangrikheid van
intellektuele eiendom; die belangrikheid van groei; groeistrategieë; die koop
van 'n bestaande besigheid.
Kleinsakebestuur 244
Kleinsake-ontwikkeling en die aard en omvang daarvan in Suid-Afrika;
belangrike rol van KMMO's in die Suid-Afrikaanse ekonomie; bestuur van
entrepreneuriese geleenthede; kleinsakebemarkingsbestuur, aankopebestuur,
vervaardigingsbestuur en finansiële bestuur; alternatiewe roetes tot
entrepreneurskap; finansiering van geleenthede in die markomgewing; die bestuur
van die groei van die kleinsake-onderneming; wetlike vereistes waaraan die
kleinsake-onderneming moet voldoen; E-besigheid en die entrepreneur; die
samestelling van die sakeplan met die fokus op die uitleg; verskillende
elemente van die plan, balansstaat, inkomstestaat en kontantvloeistaat;
breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging en geleenthede vir KMMO’s.
Kreatiwiteit en Innovasiebestuur 318
Die belangrikheid van tegnologiese innovasie; bronne van innovasie: Kreatiwiteit en organisatoriese kreatiwiteit; omskakeling van kreatiwiteit in innovasie; tipes en patrone van innovasie; die stryd om standaarde en ontwerpdominering; tydsbepaling van intrede; innovasiestrategieë; die beskerming van innovasie; inleiding tot die nuwe produk-ontwikkelingsproses.
Strategiese en Korporatiewe Entrepreneurskap (Intrapreneurskap) 348
Dryfkragte in die "nuwe" ekonomie wat korporatiewe entrepreneurskap noodsaak; koppelvlak tussen entrepreneurskap en strategiese bestuur; 'n raamwerk vir entrepreneuriese strategie; die rol van entrepreneurskap in groot maatskappye en 'n ontleding van die verskille tussen entrepreneurskap en intrapreneurskap; faktore wat intrapreneurskap fasiliteer en benadeel; die ontwikkeling van 'n raamwerk vir die implementering van korporatiewe entrepreneurskap in Suid-Afrikaanse maatskappye; entrepreneuriese leierskap en die verband tussen korporatiewe entrepreneurskap en prestasie.
Strategiese Bestuur 344
Strategiese bestuursuitdagings in komplekse omgewingsituasies; besigheidsmodelle en -strategieë; strategiese omgewingsontleding, strategiese bronne- en vermoënsontleding; strategiese rigtinggewing; strategie-ontwikkeling; kennis, innovasie en kompleksiteitsbestuur; strategie-implementering, prestasiemeting en veranderingsbestuur.
Bestuur van Korporatiewe Sosiale Verantwoordelikheid 314
Raamwerke vir die beplanning en evaluering van die optrede van individue en organisasies in die konteks van volhoubare en sosiaal verantwoordelike aktiwiteite. Belangrike temas wat behandel word sluit in: Inleiding tot die konsepte sake-etiek en korporatiewe sosiale verantwoordelikheid (KSV); die strategiese bestuur van verhoudinge met belanghebbendes; vrywillige en regulatoriese invloede op KSV; KSV in ʼn globale konteks; bestuursimplikasies van spesifieke Suid-Afrikaanse KSV kwessies; die strategiese benadering tot die bestuur van sosiaal verantwoordelike gedrag in organisasies; integrasie van sosiaal verantwoordelike gedrag in ander bestuursdissiplines, byvoorbeeld bemarking, innovasie, finansies en beleggings.
Vir Entrepreneurskap & Innovasiebestuursvakke in die Honneurskursus, verwys asseblief na die Honneursblad.