Navorsing

Deel van die Fakulteit se werk is om navorsing te onderneem wat nuwe kennis skep en ou idees bevraagteken. Die Universiteit het ’n groot getal topnavorsers wat internasionaal erken word, en Lettere en Sosiale Wetenskappe is geen uitsondering nie. Ons het 79 navorsers met ’n gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS), onder meer 25 met B-graderings en een met ’n A-gradering. A-gegradeerde navorsers word wêreldwyd deur hulle eweknieë vir hulle beduidende en sinvolle navorsingsbydraes erken.

Daarbenewens het ons vier NNS-SARChI-leerstoele wat deur die nasionale Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) gefinansier word. Hierdie leerstoele konsentreer onderskeidelik op navorsing oor transformasie en historiese trauma, genderpolitiek, die sosiologie van grond, die omgewing en volhoubare ontwikkeling, en wetenskapkommunikasie. Een van die Universiteit se sewe sentrums van uitnemendheid, die DWI-NNS Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskapmetriek en Wetenskap-, Tegnologie- en Innovasiebeleid, is ook by ons geleë.

Ons is die tuiste van 15 navorsing- en dienssentrums wat gereeld oor dissiplinêre en departementele grense heen werk. Boonop het ons ’n Nagraadse Skool wat ’n ondersteunende ruimte skep waarin ons nagraadse studente hulle navorsing kan onderneem en voltooi. Die Skool fasiliteer en administreer ook die toekenning van internasionale nagraadse magister- en doktorale beurse in die Fakulteit.

Navorsingsentrums

Navorsingsfokusareas

Nagraadse Skool

Hoërgrade- en Navorsingskomitee