Arts & Social Science
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Fasiliteite


​Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe het moderne en goedtoegeruste fasiliteite wat gehalte-onderrig en navorsing bevorder. Hier volg 'n paar voorbeelde: 

  • HUMARGA

Die Humaniora Rekenaarsgebruikersarea bedien vier fakulteite: Lettere en Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde, Regte en Teologie. Daar is rekenaargebruikersareas  by elk van hierdie fakulteite en gespesialiseerde toerusting en sagteware word gehuisves by die departemente van Geografie en Omgewingstudies, Joernalistiek, Visuele Kunste en Musiek. Die doel van hierdie fasiliteit is om studente van 'n rekenaargebruikersarea te voorsien sodat hulle toegang het tot elektroniese bronne, elektroniese klaskamers en ondersteuningsdienste wat hul onderrig bevorder. Van die dienste wat verskaf word, sluit in toegang tot netwerkspasie, e-pos, Internet, veeldoelige drukkers, gespesialiseerde sagteware en die nuutste tegnologie. HUMARGA se oop area is geleë op die derde vloer van die Lettere-gebou en het 250 werkstasies. Die fasiliteit is 24 uur per dag oop vir studente met 'n geldige studentekaart wat vir gebruik in HUMARGA geaktiveer is. HUMARGA werk nou saam met die Kantoor vir Studente met Spesiale Leerbehoeftes en die Lombardi Braille-sentrum om so ver moontlik ook 'n diens te lewer aan studente met gestremdhede. Vir meer inligting oor die Lombardi Braille-sentrum, kontak  braille@sun.ac.za. Die rekenaargebruikersarea huisves ook elektroniese klaskamers vir akademiese lesings in sekere modules. Studente kan HUMARGA​ se hulplessenaar kontak by 021 808 2129 of humarga@sun.ac.za vir hulp tydens kantoorure. Vir meer inligting, besoek HUMARGA.
  • Konservatorium

'n Moderne gebou wat die Endler-, Fismer- en Jannasch-sale huisves. Die Endlersaal, wat uitstekende akoestieke eienskappe het, word as een van die beste konsertsale in die wêreld beskryf en het sitplek vir 556 mense. Dit spog met een van die beste meganiese pyporrels in die land - gebou deur die Deense firma Marcussen - asook twee Bösendorfer-vleuelklaviere. Die Fismersaal het sitplek vir 200 mense en is 'n meerdoelige saal wat geskik is vir kamermusiekkonserte, konferensies en repetisies. Die Jannaschsaal, met sitplek vir 180 mense, is 'n lesingsaal en is veral geskik vir multimedia-aanbiedings en vergaderings. Die Konservatorium het drie vloere met 57 oefenkamers, waarvan ses met pyporrels toegerus is, en verskeie met vleuelklaviere. Hierdie oefenkamers is baie goed geïsoleer en is so ontwerp om die skepping van staande klankgolwe te elimineer. Die Konservatorium beskik ook oor 'n musiekbiblioteek met 'n groot versameling bladmusiek, gedrukte en aanlynboeke, tesisse en joernale, oudiovisuele materiaal en 'n skaars en unieke versameling van musiekmanuskripte wat in die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) gehuisves word. Van hierdie manuskripte dateer uit die 16de eeu. Die Konservatorium het ook uitstekende opname-studios, toegerus met die nuutste tegnologie. In hierdie studios kan professionele opnames, verwerking, vermenging en filmoudiowerk gedoen word, met die klankbane van plaaslike en internasionale rolprente wat reeds hier opgeneem is. Vir meer inligting, besoek die Departement Musiek.
  • HB Thom-teater

Die HB Thom-teater is 'n veeldoelige fasiliteit wat deur ons studente gebruik word om uitdrukking te gee aan hul kunssinnigheid deur optredes wat daar aangebied word. Die produksies van ander kunstenaars - en dit sluit in gemeenskapsproduksies waarby ons personeel en studente betrokke is - word ook hier opgevoer. Daar is tans planne om die huidige spasie te herontwerp om 'n meer vaartbelyne en koste-effektiewe benutting van die tegniese en vertoningshulpbronne te verseker. Vir meer inligting, besoek die Departement Drama​.​​

​​