Kitsfeite

Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe rus studente toe om in ’n voortdurend veranderende samelewing en ekonomie te floreer. Hoe ons leef, leer en werk, hou aan verander, en ons sukses hang af van ons vermoë om kompleksiteit met klaarheid te benader, en onsekerheid oordeelkundig te hanteer. Deur kritiese denke en kreatiewe probleemoplossing aan te moedig, streef die Fakulteit daarna om gegradueerdes op te lewer wat oor die noodsaaklike vaardighede beskik om antwoorde en oplossings vir die grootste probleme van ons tyd te vind.

Navorsers met ’n gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS)

NNS-SARChI-leerstoele wat deur die nasionale Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) gefinansier word

Navorsing- en dienssentrums

Vision & Mission

Missie

Die Fakulteit L​ettere en Sosiale Wetenskappe se missie is die ontginning, oordrag en toepassing van kennis om die geesteswetenskappe te bevorder asook die verryking en verhoging van die lewensgehalte van die mense van hierdie streek, land en kontinent.

Visie

Die fakulteit wil 'n dinamiese en internasionaal-erkende sentrum van akademiese leierskap in die Wes-Kaap, Suid-Afrika en die res van Afrika wees wat:

  • beskou word as 'n gesogte basis vir opleiding in die geesteswetenskappe en spesifiek kuns, tale en sosiale wetenskappe;
  • uitstekende onderrig en navorsing wat van toepassing is op die streek, land en kontinent lewer, en wat internasionaal mededingend is;
  • uitvoering gee aan innoverende inisiatiewe in gemeenskapsdiens en wat 'n bydrae lewer in die skep van 'n regverdige samelewing;
  • toeganklik is vir enige lid van die Suid-Afrikaanse bevolking wat vir universiteitstoelating kwalifiseer; en
  • voortdurend groei in sy onderrig, navorsing en dienslewering deur 'n verteenwoordigende personeel en 'n institusionele kultuur wat die optimale vervulling van menslike potensiaal bevorder en wat gekenmerk word aan 'n deelnemende, bemagtigende etos wat taal- en kultuurverskille as 'n bate ontgin.​

Statistiese profiel

Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe bestaan uit 18 departemente en 10 navorsingsentrums wat drie algemene dissiplines – Lettere, Tale en Sosiale Wetenskappe – verteenwoordig.

Altesaam 3 966 voorgraadse, 1 380 nagraadse en 226 geleentheidstudente (studente wat vir ’n bepaalde module inskryf, maar nie ’n volle graad nie) het in 2022 by ons geregistreer. Ons permanente personeelkorps bestaan uit 190 akademiese en 83 professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeellede.

Ons het 79 navorsers met ’n gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS), van wie 25 B-graderings en een ’n A-gradering het. A-gegradeerde navorsers word wêreldwyd deur hulle eweknieë vir hulle beduidende en sinvolle navorsingsbydraes erken.

Die Fakulteit het ook vier NNS-SARChI-leerstoele wat deur die nasionale Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) gefinansier word. Hierdie leerstoele konsentreer onderskeidelik op navorsing oor transformasie en historiese trauma, genderpolitiek, die sosiologie van grond, die omgewing en volhoubare ontwikkeling, en wetenskapkommunikasie. Daarbenewens is een van die Universiteit se sewe sentrums van uitnemendheid, die DWI-NNS Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskapmetriek en Wetenskap-, Tegnologie- en Innovasiebeleid, ook by ons geleë.

Geskiedenis

Toe Universiteit Stellenbosch in 1866 sy deure op​​​gemaak het, het dit as die Stellenbosch Gimnasium beken​​d gestaan. Die naam is 15 jaar later na die Stellenbosch College verander, en in 1887 is dit verander na Victoria Kollege. In Februarie 1916 i​s 'n wet met die naam "De Universiteit van Stellenbosch-wet" (Wet nr 13 van 1916) gepubliseer en twee jaar later, op 2 April 1918, in werking getree. Dit het gelei tot die verandering van die instelling se naam na die Universiteit Stellenbosch.

Die Lettere Departement van die Gimnasium is agt jaar na die stigting van die Gimnasium gevestig. Teen 1879 het ongeveer 69 studente vir 'n BA-graad by die Gimnasium ingeskryf. Die eerste professor wat by die departement aangestel is, was prof Archibald MacDonald, en hy het klas gegee in Grieks, Latyns en Engelse letterkunde. Prof Thomas Walker, wat as 'n professor in Engels en Filosofie aangestel is, het in 1878 by MacDonald aangesluit en in 1879 word prof Nicolaas Mansveldt, 'n professor in Moderne Tale (Nederlands, Duits en Frans) en Geskiedenis deel van die span.

Die wet wat vir die naamsverandering in 1918 verantwoordelik was, het ook voorsiening gemaak vir die skep van 'n Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Nadat dit baie jare so bekend gestaan het, het die fakulteit se naam in 2007 na die Fakulteit van Lettere en Sosiale Wetenskappe verander.

Sosiale Impak

Ons sosiale-impakwerk strook met die Universiteit Stellenbosch se strewe om kennis tot diens van die samelewing te bevorder. Die Universiteit gebruik betrokke navorsing, betrokke onderrig en leer en betrokke burgerskap om ’n impak op die samelewing te hê. Ons studente en personeellede leef hulle betrokke burgerskap uit deur aan vrywilligergeleenthede en vennootskappe deel te neem wat verhoudings met gemeenskappe verdiep, en brei sodoende ook hulle eie menslike vaardighede uit.

Daarbenewens dra die Fakulteit se sosiale-impakprojekte tot internasionale, nasionale en streeksdoelwitte by, waaronder die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte, Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan en die Wes-Kaapse provinsiale strategiese doelwitte.