Die projek poog om ‘n omvattende, dialek-neutrale en kultureel regverdige taaltoets daar te stel vir gebruik met kindersprekers van Afrikaans en Suid-Afrikaanse Engels. Die toets sal deur spraak-taalterapeute gebruik word om te onderskei tussen kinders met tipiese taalontwikkeling (sprekers van hoofstroomdialekte asook sprekers van sogenaamde “nie-standaard” dialekte) en kinders met ‘n taalafwyking of taalagterstand. Die toets is reeds ontwikkel en plaaslike norme word tans daarvoor verkry. Hierdie normering behels dat die toets met ‘n totaal van 1800 vier- tot nege-jariges toegepas word; meer as 950 van die 1800 is reeds getoets, in Caledon, Calvinia, verskeie voorstede van Kaapstad, Cradock, Graaff-Reinet, Kleinmond, Merweville, Paarl, Somerset-Wes, Stellenbosch, Tshwane, Upington, Vredendal, Welkom en Worcester. Die ouers van hierdie kinders het waardevolle terugvoer oor hul kinders se taalvaardighede ontvang. Akademici en voor- en nagraadse studente in die Department Algemene Taalwetenskap en die Afdeling Spraak-, Taal- en Gehoorterapie asook praktiserende spraak-taalterapeute in verskeie provinsies is by die normering betrokke.
Kontakpersooon: Dr Frenette Southwood
'n Oorbruggingsprogram is in samewerking met die NRO Kuyasa in Kayamandi ontwikkel om leerders by te staan om vaardighede in visuele kommunikasie ontwerp (VKO) te ontwikkel en te verbeter en sodoende leerders aan te moedig om vir die VKO-kursus by die Universiteit Stellenbosch aansoek te doen.
Kontakpersoon: Me Elmarie Costandius