Viticulture & Oenology
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Welgevallen Plaas en Kelder


Die Welgevallen Plaas is aanvanklik in 1680 gevestig as een van die eerste plase wat deur Simon van der Stel, die stigter van Stellenbosch, uitgedeel is. Meer as drie eeue daarna, in 2001, het die Departement Wingerd- en Wynkunde (DWW) aan die Universiteit Stellenbosch (US) die Welgevallen Kelder met die bystand van die wynbedryf en Winetech opgeknap.

Die Welgevallen Kelder word tans gebruik om voorgraadse studente op te lei, asook vir navorsing deur nagraadse studente en personeel, met wyn wat ook op ‘n kommersiële skaal vir Universiteitswyne sowel as vir buitekliënte gemaak word. Die kelder het ‘n kapasiteit van 120 ton en spog met uitstekende wybereidingstoerusting en ander fasiliteite, soos ruimte om vate op te berg.


Druiwe.jpg



Pinotage is deur professor AI Perold aan die DWW gekweek en van die eerste Pinotage-wyn is by die DWW gemaak. Die DWW het dus ‘n ryk geskiedenis wat aan hierdie unieke Suid-Afrikaanse rooi kultivar gekoppel is. Die DWW besit ongeveer 10 hektaar se wingerde op die Welgevallen Plaas. Die Kelder is ook strategies in ’n beeldskone deel van Stellenbosch geleë – die enigste kelder binne stapafstand van die middedorp. Opleiding, navorsing en kommersiële aktiwiteite, deurdrenk van ‘n ryk geskiedenis, loop dus parallel in hierdie fasiliteit en stel studente daardeur bloot aan die hele waardeketting van wynproduksie.






Wyn Die Laan.jpg


Die DWW het in 2009 ‘n reeks US-wyne onder die “Die Laan” en “Maties” etikette geregistreer en begin om die wyne in die Welgevallen Kelder te produseer. Hierdie sluit tans in Sauvignon blanc, Viognier, Chardonnay, Pinotage, Cabernet Sauvignon en ’n Kaapse Versnit (Pinotage/Cabernet Sauvignon, Petit Verdot-versnit), wat hoofsaaklik van druiwe uit die US se Welgevallen-wingerde geproduseer word. Die Welgevallen-span is ook van plan om in die nabye toekoms ’n Methode Cap Classique vonkelwyn bekend te stel. Tans geniet die Pinotage-wyne wêreldwye byval en dit blyk gepas te wees dat die “Die Laan”-wyne onder andere verskeie wyntoekennings ontvang het. Hierdie wyne is tans as korporatiewe geskenke beskikbaar en word tydens sommige amptelike US-funksies gebruik, en is ook aan die algemene publiek vir proe en verkope by die Welgevallen Kelder beskikbaar.