
Die Welgevallen
Plaas is aanvanklik in 1680
gevestig as een van die eerste plase wat deur Simon van der Stel, die stigter
van Stellenbosch, uitgedeel is. Meer as drie eeue daarna, in 2001, het die Departement
Wingerd- en Wynkunde (DWW) aan die Universiteit Stellenbosch (US) die Welgevallen
Kelder met die bystand van die wynbedryf en Winetech opgeknap.
Die Welgevallen
Kelder word tans gebruik om voorgraadse studente op
te lei, asook vir navorsing deur nagraadse studente en personeel, met wyn wat
ook op ‘n kommersiële skaal vir Universiteitswyne sowel as vir buitekliënte
gemaak word. Die kelder het ‘n kapasiteit van 120 ton en spog met uitstekende
wybereidingstoerusting en ander fasiliteite, soos ruimte om vate op te berg.

Pinotage is deur professor AI Perold aan die DWW gekweek en van
die eerste Pinotage-wyn is by die DWW gemaak. Die DWW het dus ‘n ryk
geskiedenis wat aan hierdie unieke Suid-Afrikaanse rooi kultivar gekoppel is. Die
DWW besit ongeveer 10 hektaar se wingerde op die Welgevallen Plaas. Die Kelder
is ook strategies in ’n beeldskone deel van Stellenbosch geleë – die enigste
kelder binne stapafstand van die middedorp. Opleiding, navorsing en kommersiële
aktiwiteite, deurdrenk van ‘n ryk geskiedenis, loop dus parallel in hierdie
fasiliteit en stel studente daardeur bloot aan die hele waardeketting van
wynproduksie.

Die DWW het in 2009 ‘n
reeks US-wyne onder die “Die Laan” en “Maties” etikette geregistreer en begin
om die wyne in die Welgevallen Kelder te produseer. Hierdie sluit tans in Sauvignon
blanc, Viognier, Chardonnay, Pinotage, Cabernet Sauvignon en ’n Kaapse Versnit (Pinotage/Cabernet
Sauvignon, Petit Verdot-versnit), wat hoofsaaklik van druiwe uit die US se Welgevallen-wingerde
geproduseer word. Die Welgevallen-span is ook van plan om in die nabye toekoms
’n Methode Cap Classique vonkelwyn bekend te stel. Tans geniet die Pinotage-wyne
wêreldwye byval en dit blyk gepas te wees dat die “Die Laan”-wyne onder andere
verskeie wyntoekennings ontvang het. Hierdie wyne is tans as korporatiewe
geskenke beskikbaar en word tydens sommige amptelike US-funksies gebruik, en is
ook aan die algemene publiek vir proe en verkope by die Welgevallen Kelder
beskikbaar.