Corporate Identity
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Maties Logo

Die naam Maties word al jare lank met die Universiteit Stellenbosch geassosieer, maar voor 2002 was daar geen logo of 'n gespesifiseerde skryfwyse vir hierdie naam nie. Die naam verskyn op bufferplakkers, klere en ander promosie-artikels, maar daar is nog geen uniformiteit of herkenbare visuele identiteit vasgelê nie.

Die raamwerk vir die bestuur van die korporatiewe identiteit by die Universiteit Stellenbosch maak voorsiening vir 'n vlak wat die nieakademiese studente-aktiwiteite soos sport en verenigings insluit. Die moderne Maties-identiteit is spesifiek vir hierdie vlak ontwerp, wat 'n verdere verbreding van die Universiteit se korporatiewe identiteit meebring.

Die nuwe ronde logo met die M in die middel is 'n treffende, moderne embleem wat 'n dinamiese omgewing verteenwoordig. Die tradisionele kleure, maroen en geel, is vermeng met die moderne swart en grys. Hierdie kleure, gekombineer met die slagspreuk "vir altyd / forever" simboliseer terselfdertyd die tradisies van Stellenbosch en die Universiteit se toekomsvisie. Dit bevat 'n sterk element van studentepret; daarom is die algemene voorkoms van hierdie logo minder formeel en rigied as die korporatiewe logo of wapen.



​​

  • Die logo en die logotipografie vorm saam die unieke Maties-embleem.
  • Die M in die nuwe logo beeld Maties uit as 'n instelling wat heg verbind is tot moderniteit, lewenskragtigheid en pret.
  • Die sirkelvormige embleem skep 'n sterk gevoel van dinamika en moderne ontwikkeling.
  • Die kleure maroen en geel word tradisioneel met die Universiteit Stellenbosch geassosieer. Die swart, grys en nuwe geel (Pantone 143) skep 'n moderne voorkoms.
  • Sowel die logo as die naam is geregistreerde handelsmerke.
  • Die ontwerp van die korporatiewe embleem is noukeurig saamgestel en verwikkeld, en die gepaste gebruik is noodsaaklik vir die visuele impak van die simbolisme. Selfs die geringste afwyking van die standaardvorm of die gespesifiseerde gebruik kan die visuele doeltreffendheid van die logo ernstig benadeel.       
  • Die gebruik van die logo behoort konsekwent te wees, en dit behoort nooit voor te kom in gestaltes en kleure wat nie in hierdie handleiding ingesluit is nie.
  • Die slagspreuk "vir altyd / forever" weerspieël die tradisie en visie waarvoor Maties staan.

Aflaaibare weergawes van die logo is beskikbaar in die Aflaaibare ​lêers afdeling van die webruimte.

​​