Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Die werwing van ’n nuwe kohort toekomstige Maties
Ons span studentewerwers van die Universiteit Stellenbosch (US) wat die hoërskoolmark bedien, is sedert die begin van die skooljaar op 18 Januarie 2023 reeds hard aan die werk. Die span van vier het al ’n aansienlike getal skoolbesoeke en oueraande in die Wes-Kaap, Limpopo en Gauteng onderneem. Die doel is om te sorg dat die US leerders se eerste gedagte is as voorkeuruniversiteit.  

Die span het reeds meer as 5985 leerders in graad 9 tot 12 met hierdie skoolbesoeke bereik en sal in die maande wat voorlê ook KwaZulu-Natal, die Oos- en Noord-Kaap, die Suid-Kaapstreek sowel as die provinsies van die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes besoek.

Daarbenewens het die US kragte saamgesnoer met die CCEA (die Kaapse vereniging vir loopbaanuitstallings) en aan verskeie van dié vereniging se loopbaanskoue in die suidelike en noordelike voorstede van Kaapstad en in die Kaapse Wynland deelgeneem. 

Die US se Afdeling Studentewerwing voorsien boonop aanlyn en kampusgebaseerde adviesdienste aan individuele leerders en skole, sowel as professionele voorligtingsdienste, waaronder psigometriese assesserings. 

Besprekings: csr@sun.ac.za / 021 808 4709