Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Nico Koopman: Hantering van die bevindinge van die personeelopname

​Beste kollegas

​Hantering van die bevindinge van die personeelopname 

Die personeelkultuur en -klimaat opnamebeheerkomitee het aan die Rektoraat verslag gedoen dat die institusionele en omgewingspesifieke bevindinge van die US-opname oor welwees, kultuur en klimaat by die werk uitvoerig met die leiers van alle US-omgewings bespreek is. 

Vir die volgende fase van die hantering van die opnamebevindinge sal bepaalde intervensies op sowel institusionele as omgewingsvlak van stapel gestuur word. Hierdie intervensies is bykomend tot ons deurlopende aandag aan kwessies met betrekking tot personeelgesondheid en -welwees. 

Belangrikste opnamebevindinge 

Die gunstige en positiewe institusionele bevindinge van die opname, waarop ons moet voortbou, is soos volg:

  • Personeel voel hulle werk het 'n doel en betekenis.
  • Personeel is ten nouste betrokke by hulle werk.
  • Personeel voel hulle bereik hulle eie belangrike werksdoelwitte.
  • Daar is 'n algemene gevoel dat personeel trots is daarop om by die Universiteit te werk, positief is oor die Universiteit se toekoms, en deeglik bewus is van Visie 2040.
  • Personeel voel hulle word ondersteun om Covid-19-uitdagings die hoof te bied. 

Die volgende institusionele uitdagings ten opsigte van personeelgesondheid en -welwees is die vernaamstes wat aandag verg:

  • Die welweesontwikkeling van personeel
  • Die transformasie van die instelling
  • Erkenning en waardering vir alle personeel
  • Bevorderingsgeleenthede vir personeel
  • Die gelyke behandeling van personeel (veral vrouepersoneel, en personeel uit die bruin, swart, Indiër- en Asiër-bevolkingsgroepe), wat ook die kwessie van boeliery in die werkplek insluit 

Verslagdoeningsversoek 

Die Rektoraat het besluit dat elke omgewing aan die personeelkultuur en -klimaat opnamebeheerkomitee moet verslag doen oor hulle vernaamste uitdagings en intervensies op die gebied van personeelgesondheid en -welwees. Omdat ons besef dat omgewings tans onder verslagdoeningsversoeke toegegooi word, is 'n realistiese sperdatum van Maandag 6 Februarie 2023 vasgestel om hierdie inligting te voorsien. 

Daarna sal daar van omgewings verwag word om die personeelkultuur en -klimaat opnamebeheerkomitee van 'n opvolgverslag oor hulle vordering met die implementering van hulle intervensies en die hantering van hulle uitdagings te voorsien. Hierdie tweede verslag moet teen Maandag 2 Oktober 2023 ingedien word. 

Nadat die personeelkultuur en -klimaat opnamebeheerkomitee in Februarie die eerste rondte verslae ontvang het, sal hulle die Institusionele Komitee oor Personeelgesondheid en -welwees sowel as die Rektoraat van terugvoer oor omgewings se intervensies voorsien. Dieselfde prosedure sal gevolg word nadat die tweede rondte verslae in Oktober ingedien is. 

Die volgende US-opname oor welwees, kultuur en klimaat by die werk sal in November 2023 plaasvind. 

Vir verdere inligting of enige opnameverwante navrae wat spesifiek op u omgewing van toepassing is, kontak gerus u omgewingsbestuur. Kom ons werk saam en skenk die nodige aandag aan hierdie sake sodat personeelgesondheid en -welwees by die Universiteit verder kan verbeter en alle werknemers kan floreer. 

In verbondenheid 

Nico Koopman