Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Werksessie oor Gender, Werk en Organisasie: Oproep om voorleggings vir gestroomde en samewerkende geleenthede

​Die Stellenbosch Bestuurskool het 'n groot mylpaal vir Afrika gehaal deur die bod te wen om die Gender Work & Organization (GWO)-konferensie in 2023 aan te bied. Dié internasionale, interdissiplinêre geleentheid op 28 tot 30 Junie 2023 sal die 13de sodanige konferensie wees. Die 2023-tema handel oor gemarginaliseerde genderidentiteite – hoe intellektuele aktivisme werk en die organisering daarvan kan transformeer (Marginalized gender identities: How can intellectual activism transform work and organization?). Die GWO-konferensie het uit die gelyknamige vaktydskrif voortgespruit. Die tydskrif, wat 'n 3,465-impakfaktor het (2020), vul 'n nis in die globale akademiese diskoers deur navorsing te publiseer wat uit die kruispunt van vroue, gender en feminisme in die werkplek opgelewer word.

Die driedagkonferensie stel 'n internasionale forum daar vir debatvoering en ontleding van eietydse kwessies wat verband hou met genderstudies oor die werkplek, die organisering van werk, en werksgeleenthede. Die 2021-konferensie, wat deur die Universiteit van Kent (Verenigde Koninkryk) aangebied is, het meer as 600 internasionale vakkundiges vanuit meer as 30 lande aangetrek. Die 2022-konferensie het onlangs in Bogotá (Colombië) plaasgevind. 

GWO2023 sal hoofsaaklik in lewende lywe in Suid-Afrika plaasvind, maar sekere sessies daarvan mag wel aanlyn aangebied word, na gelang van hoe uitvoerbaar dit is. Referate tydens die konferensie word volgens tematiese bane georganiseer, en ons beplan 'n aantal samewerkende geleenthede in die vorm van werksessies, filmvertonings en kunsuitstallings. 

Voorleggings vir gestroomde en samewerkende geleenthede word nou ingewag. Die sperdatum hiervoor is 29 Julie 2022. Sodra die tematiese bane vir stroming bevestig is, sal die oproep om referate in Augustus 2022 uitgaan. Die konferensie bied die Universiteit Stellenbosch die geleentheid om die instelling nog stewiger as die toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit vir Afrika en die wêreld te vestig, ook oor kwessies wat met vroue en gemarginaliseerde genderidentiteite verband hou. 

Die GWO2023-reëlingskomitee staan onder leiding van prof Anita Bosch van die Stellenbosch Bestuurskool, en die ander komiteelede is prof Ameeta Jaga (UK), dr Faith Ngunjiri (Kenia) en prof Nasima Carrim (UP). 

Hou die GWO2023-webtuiste en sosialemediaplatforms vir verdere nuus dop.

Twitter: @GWO2023_CT

LinkedIn: GWO2023-Conference

Facebook: GWO 2023