Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Institusionele Ooptoegangooreenkomste en -ondersteuning

​Die Biblioteek- en Inligtingsdiens kondig graag aan dat drie nuwe Read & Publish ooreenkomste met eweknie-beoordeelde uitgewers aangegaan is, wat die publikasie van artikels in ooptoegangtydskrifte sal bevorder. Die ooreenkomste is deur SANLiC (Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek- en Inligtingskonsortium), waarvan Universiteit Stellenbosch (US) 'n lid is, bemiddel. Hierdie ooreenkomste is bykomend tot die ooreenkomste wat in 2021 met Cambridge University Press (CUP), die Association for Computing Machinery (ACM) en die Royal Society of Chemistry (RSC) aangegaan is

SANLiC is 'n konsortium sonder winsbejag wat namens akademiese biblioteke die koste-effektiewe aankoop van en toegang tot inligtingsbronne beding.

Emerald tydskrifte

Die Emerald/SANLiC ooreenkoms is geldig vanaf 2022-2024. Die ooreenkoms is 'n Read & Publish ooreenkoms wat  leestoegang bied tot die Emerald titels waarop die US inteken, sowel as  die  vergunning dat kwalifiserende outeurs 'n beperkte aantal artikels sonder publikasiekoste kan publiseer in Emerald se goue ooptoegangtydskrifte en die  hibriede tydskrifte waarop die US inteken.

Die beperking op die aantal artikels wat gratis gepubliseer kan word, is gesamentlik van toepassing op alle deelnemende lede van die Emerald/SANLiC ooreenkoms.

  • 2022 = 111
  • 2023 = 134
  • 2024 = 158 

Aansoeke sal hanteer word in orde van ontvangs. Emerald sal die artikellewering monitor en die SANLiC belanghebbendes op hoogte hou.

SAGE tydskrifte

Die SAGE/SANLiC Read & Publish ooreenkoms is geldig van 2022-2024, en verskaf onbeperkte toegang tot die SAGE Premier tydskrifversameling wat uit meer as 1 100 titels bestaan. Die SAGE/SANLIC kontrak maak voorsiening vir US-outeurs om 'n onbeperkte aantal  ooptoegangartikels in SAGE se hibriede titels te publiseer sonder om publikasiefooie te betaal.

US-outeurs wat in SAGE se lys van Pure Gold Open Access Journals publiseer, sal 'n afslag van 20% op die publikasiekoste kry. Daar is 'n beperkte aantal uitsonderings waar SAGE kontraktueel verhoed word om hierdie afslag te bied. Outeurs kan 'n lys van die titels by die uitgewers aanvra.

Institution of Mechanical Engineers (IMechE) tydskrifte op die SAGE platform

Die SAGE/SANLiC Read & Publish ooreenkoms is geldig van 2022-2024, en sluit toegang tot die IMechE tydskrifte in. Die ooreenkoms laat kwalifiserende outeurs toe om 'n onbeperkte aantal artikels gratis met oop toegang in die IMechE versameling te publiseer. 

Die versameling sluit die Proceedings of the Institution of Mechanical Engineers, wat uit 16 dele bestaan, in sowel as twee toonaangewende eweknie-beoordeelde ingenieurstydskrifte. Addisionle toegang tot inligting terugwerkend tot 1997 is hierby ingesluit, onderhewig aan sekere voorwaardes.

Wiley tydskrifte

Die Wiley/SANLiC Read & Publish ooreenkoms, wat geldig is van 2022-2025, bestaan uit verskillende voordele wat in fases oor die verloop van die kontrak infaseer word. Dit bied aan US-gebruikers leestoegang tot meer as 1 400 Wiley tydskrifte. In 2022 kan kwalifiserende outeurs gratis in Wiley hibriede ooptoegangtydskrifte publiseer. Daar is 'n beperking op die landwye aantal SANLiC deelnemers wat artikles sonder publikasiekoste kan publiseer. Aansoeke word hanteer in orde van ontvangs. Gedurende die 2023-2025 tydperk sal kwalifiserende outeurs gratis in Wiley Gold ooptoegangtydskrifte en Hindawi tydskrifte mag publiseer. Lees meer hieroor in SANLIC se persverklaring.

Wat staan navorsers te doen om voordeel te trek uit die ooreenkomste?

Navorsers dien artikels soos normaalweg by die uitgewer in. Indien die artikel vir publikasie aanvaar word, sal die uitgewer die ooreenstemende ooptoegangvoordeel toepas.

8 April 2022