Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geïntegreerde Krisisdiens met ER24: Geregistreerde US-studente
Beste Student
 
Geintegreerde Krisisdiens met ER24: Geregistreerde US-studente
 
Die geintegreerde krisisdiens met ER24, in samewerking met die Sentrum vir Studentevoorligting- en ontwikkeling (SSVO) en Kampusgesondheidsdienste (KGD), het in Januarie 2017 amptelik begin en ek herinner graag aan wat die diens behels. Die belangrikste inligting rondom die diens is die volgende:
 
  1. Dit is ‘n 24-uur krisisdiens wat nasionaal vir geregistreerde US-studente beskikbaar is. Stellenbosch Universiteit het ‘n spesiale nommer (010 205 3032) wat gebel kan word in ‘n noodsituasie. Sodra die nommer gebel word, moet die persoon hulself identifiseer as ‘n US student. Die verdere nodige vrae sal dan gevra word voordat die spesifieke diens gestuur word (ambulans / traumaberading, ensovoorts). Probeer so veel detail moontlik gee. Die ambulans sal so vinnig as moontlik op die toneel probeer wees.

  2. Sou US-studente na Bloemfontein reis (byvoorbeeld) vir ‘n sporttoer, of akademiese uitstappie, en ‘n noodsituasie ontstaan, kan hul ook die spesiale nommer skakel en die nodige diens sal in Bloemfontein aan hul verskaf word. Dit is ‘n nasionale diens. Dit geld dus ook vir wanneer studente op vakansie is of vir PSO-studente wat by hul huise woonagtig is.

  3. Die SSVO krisisdiensnommer (082 557 0880) word herlei na die ER24-nommer en sal dus dag, en nag, deur ER24 beantwoord word. Deur die dag sal dit terugverwys word na SSVO om te hanteer, indien moontlik (08:00 – 16:00). Snags sal dit deur ER24 hanteer word en na SSVO terugverwys word die volgende oggend, indien nodig.

  4. Die diens bestaan uit EMS (Emergency Medical Services), Traumaberading (wat telefonies of in persoon kan wees), asook ‘n ‘medical hotline’ waarheen studente kan skakel om mediese advies te verkry. As jy byvoorbeeld langs iemand staan wat sukkel om asem te haal, kan jy skakel en hul sal jou raad gee oor wat om te doen in die situasie. Alles kan verkry word op die 010 205 3032-nommer.

  5. Wanneer ER24 na ‘n noodsituasie uitgeroep word om die student te stabiliseer, is dit gratis. Eers wanneer die student vervoer moet word, sal daar kostes aan verbonde wees (voorkeur-ER24-tariewe). Dit is vir die student se persoonlike rekening en ‘n student se studentenommer sal dus verskaf moet word wanneer die diens gelewer word. Die student sal dan vervoer word na die naaste, beste hospitaal – in die geval van ‘n student met mediese fonds (privaat hospitaal) en ‘n student sonder mediese fonds (staatshospitaal).

  6. Traumaberading is gratis. Afhangend van die situasie, sal ‘n vroulike of manlike berader uitgeroep word. Die beraders is gemaklik met al drie tale van die Wes-Kaap (Afrikaans / Engels / IsiXhosa).

  7. Elke keer wanneer ‘n aanmelding gemaak word by ER24, word dit per sms deurgestuur na sekere SSVO- en KGD-personeel (Kampusgesondheidsdienste). Statistiek sal maandeliks oor aanmeldings aan SSVO en KGD verskaf word.
Enige terugvoering word asseblief verwelkom – 021 808 4707 / mdunn@sun.ac.za .
 
Vriendelike groete
 
Dr Munita Dunn-Coetzee

DIREKTEUR: SENTRUM VIR STUDENTEVOORLIGTING- EN ONTWIKKELING
AFDELING STUDENTESAKE