Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ubuntu Dialoë: Akademiese Seminaar-uitruilprogram

Die Universiteit Stellenbosch Museum wag aansoeke in vir
deelname aan die Ubuntu Dialoë se akademiese seminare
in 2021.
Aansoeke word ingewag van opkomende en gevestigde
akademici, professionele persone en gevorderde doktorale
studente in die geesteswetenskappe aan universiteite en
navorsings- en kultuurinstellings in Suid-Afrika. Voorkeur
word verleen aan jong wetenskaplikes uit histories
agtergeblewe groepe.
Die akademiese seminare vorm deel van die Ubuntu Dialoë,
’n vennootskapprojek tussen die Universiteit Stellenbosch
Museum en die African Studies Center aan die Michigan State
University. Hierdie driejaarprojek word deur die Andrew W.
Mellon stigting befonds.
Die Ubuntu Seminare neem die vorm aan van transnasionale
intellektuele betrokkenheid en fokus op institusionele
geskiedenis, die betekenis van ubuntu, Pan-Afrikanisme, kennis
en institusionele dekolonisering en transformasie, as konsep
sowel as praktyk, en die plek van Suid-Afrika in Afrika en van
die Verenigde State in die Amerikas.
Kwalifiserende kandidate word genooi om ’n gedetailleerde
curriculum vitae en ’n opsomming van 500 woorde in te
dien wat aandui hoe hul navorsing of werk die konsep
“ubuntu” in die konteks van die Covid 19 pandemie, rassisme,
vrouemoord, die dekolonisering van kennisgenerering binne en
buite die vasteland van Afrika, of enige ander ubuntu verwante
tema, inlig, daartoe bydra of dit kompliseer.
Altesaam vier aansoekers word uiteindelik gekies. As
deelnamevereiste word daar van die suksesvolle aansoekers
verwag word om (1) hul referate op ’n virtuele platform
(webinaar) aan te bied; en (2) hul seminaarreferate tot
artikels uit te bou vir publikasie in ’n eweknie-beoordeelde
boekmanuskrip of tydskrif as ’n spesiale uitgawe wat deel van
die Ubuntu Dialoë-reeks uitmaak. Deelnemers kry ook die
geleentheid om twee internasionale konferensies by te woon
wat in 2022 in Suid-Afrika en die Verenigde State gehou sal
word. Reis- en verblyfkoste word volledig gedek.


Alle aansoeke moet teen 31 Augustus 2020 aan
Natasha Coltman by ncoltman@sun.ac.za gestuur word.